|

Menu

Mediaverklarings

Wanneer die bullebak ‘boelie’ skree: Lex Libertas begin petisie teen vervolging in Suid-Afrika

Lex Libertas
24/11/2025

Lex Libertas publiseer tien maniere waarop minderheidsgemeenskappe in Suid-Afrika vervolging deur die regering ervaar

Pretoria — Die ideesentrum en voorspraakgroep, Lex Libertas, het 'n lys gepubliseer van tien maniere waarop minderheidsgemeenskappe in Suid-Afrika vervolging deur die regering ervaar, wat dien as die grondslag vir 'n internasionale anti-vervolgingsveldtog, insluitend 'n aanlyn petisie.

Dr. Ernst Roets, Uitvoerende Direkteur van Lex Libertas, het verduidelik dat die Suid-Afrikaanse president, Cyril Ramaphosa, reg is om standpunt in te neem teen boeliegedrag, maar as hy dit werklik bedoel, moet hy die interne magsmisbruik wat onder sy leierskap in Suid-Afrika plaasvind, stopsit. Dit was in reaksie op die president se bewerings met verwysing na die G20 en internasionale kritiek dat die Amerikaanse regering betrokke was by boelietaktieke met betrekking tot Suid-Afrika. Ramaphosa se beskuldigings is geopper in direkte reaksie op geldige bekommernisse wat deur die Verenigde State uitgespreek is oor politieke intimidasie en menseregteskendings in Suid-Afrika.

Dr Ernst Roets, Uitvoerende Direkteur van Lex Libertas, verduidelik dat die Suid-Afrikaanse regering — onder leiding van Ramaphosa as president en die African National Congress (ANC) as de facto regerende party — oor die afgelope dekades ’n omvattende rekord van boelietaktieke teen etniese minderhede opgebou het. Hierdie tendense blyk die afgelope jare verder te verskerp. Die bevindings spruit uit ’n meerjarige ontleding van openbare uitsprake, wetgewende raamwerke, hofuitsprake en gedokumenteerde voorvalle.

“Ramaphosa se bewering van slagofferskap ignoreer ’n veel ernstiger werklikheid. Die werklikheid is dat die politieke elite in Suid-Afrika — insluitend die ANC, the onderskeie regeringsfere en instellings wat ideologies daarmee belyn is — die gemeenskappe oor wie hulle regeer, stelselmatig boelie.”

Hy wys daarop dat Suid-Afrika nie ’n enkele, homogene nasie is nie, maar ’n multinasionale samelewing bestaande uit diverse historiese gemeenskappe. Baie van hierdie gemeenskappe — insluitend Afrikaners en ander minderheidsgroepe — word toenemend geteiken deur beleidsrigtings, gewelddadige retoriek, sondeboktaktieke, blaamverskuiwing en institusionele optrede.

Lex Libertas is reeds besig om ’n omvattende verslag saam te stel oor die boelietaktieke wat deur die ANC en die Suid-Afrikaanse regering toegepas word. Dit sluit onder meer die volgende in:

1. Gewelddadige en volksmoordretoriek

Invloedryke politici in die land het herhaaldelik in retoriek verval wat neerkom op aanhitsing tot geweld teen etniese minderhede — insluitend dreunsange en toesprake wat die gewelddadige uitwissing van minderhede romantiseer. Net dae nadat Julius Malema, leier van die Economic Freedom Fighters, gesê het hy wil “die keel van witheid afsny”, is hy deur Ramaphosa genooi om terug te keer na die ANC. Ramaphosa het verklaar dat Malema “in sy hart” steeds deel van die ANC is.

2. Demonisering, sondeboktaktieke en blaamverskuiwing

Die politieke elite gebruik al dekades lank demonisering en blaamverskuiwing teen minderheidsgroepe. Dit sluit Ramaphosa se eie waarskuwing in, toe hy gesê het dat indien mense nie vir die ANC stem nie, “sal die Boere terugkom om ons te onderdruk.” Daarby kom uitsprake deur regeringsleiers dat Afrikaans ’n lelike taal is, of dat Afrikanermans se “Calvinistiese godsdiens” hulle kwansuis leer dat hulle vroue besit en na willekeur kan vermoor. Die mees opvallende voorbeeld van sondeboktaktiek bly oudpresident Jacob Zuma se stelling dat alles wat fout is in Suid-Afrika op wit mense geblameer moet word.

3. ’n Omvattende netwerk van uitsluitende rassewette

Suid-Afrika het tans meer as 140 uitsluitende rassewette in werking. Hoewel dit kwansuis bedoel is om gelykheid en “swart bemagtiging” te bevorder, het dit klaaglik misluk. In praktyk dien hierdie wette hoofsaaklik om die wit minderheid van werks- en ekonomiese geleenthede uit te sluit. Dit die mees omvangryke stelsel van rassewetgewing in die wêreld.

4. Die beslaglegging van privaat eiendom wat aan minderhede behoort

Die politieke elite bevorder reeds jare lank konstitusionele hervorming om die staat in staat te stel om eiendom sonder vergoeding te konfiskeer. Verskeie regeringsleids het openlik gesê dat hierdie optrede rasgebaseerd sal wees, dat slegs wit grondeienaars geteiken sal word en dat daar ’n “gewelddadige oorname” sal wees indien hulle nie saamspeel nie. Ramaphosa self het verklaar dat sulke konfiskasies die “Tuin van Eden” en die “uiterste paradys” in Suid-Afrika sal skep. Al ontken die regering en openbare kommentators dat onteiening reeds plaasgevind het, bestaan daar gedokumenteerde gevalle van eiendom wat sonder betekenisvolle vergoeding afgeneem is.

5. Onbeheerde grondgrype en grondinvalle

Vir dekades lank beleef Suid-Afrika ’n vlaag van onwettige grondgrype deur georganiseerde groepe wat regsleemtes misbruik. Hofuitsprake wat prosedurele tegnikaliteite of wydlopende menseregte-interpretasies bo eiendomsreg stel, maak dit dikwels vir wettige eienaars onmoontlik om hul eie grond te beskerm.

6. ’n Voortdurende vlaag plaasmoorde

Suid-Afrika ervaar sedert 1990 ’n voortdurende golf plaasaanvalle en -moorde. Duisende mense is al vermoor tydens plaasaanvalle, wat dikwels gekenmerk word deur uiterste wreedheid. Daar bestaan talle voorbeelde waar rasse- of politieke motiewe duidelik aanwesig is, en daar is aanduidings dat sulke aanvalle toeneem na uitsprake van politieke aanhitsing. Lede van die politieke elite het slagoffers openlik blameer en beweer dat hulle nie aangeval sou word indien hulle “beter optree” nie.

7. Verstikking deur oorregulering

Terwyl basiese staatsdepartemente ineenstort en hul funksies nie kan verrig nie, word plaaslike gemeenskappe en die privaatsektor deur oorregulering verhinder om self oplossings te vind. Dit sluit streng regulasies oor privaatsekuriteit en elektrisiteitsopwekking in — juis op terreine waar die staat misluk het.

8. Ontkenning van regte

Leiers van die Suid-Afrikaanse regering het dit duidelik gemaak dat hul interpretasie van demokrasie een is waarin mense nie gelyke regte het nie. Dit is byvoorbeeld duidelik gemaak toe die voormalige president, Jacob Zuma, in die openbaar verklaar het dat demokrasie vereis dat die (wit) minderheid minder regte as die (swart) meerderheid moet hê. Suid-Afrikaanse howe het al ’n reeks uitsprake gelewer wat hierdie siening versterk — insluitend dat die bevordering van Afrikaanse onderwys rassisties is en dat dreunsange wat die uitwissing van minderhede aanhits, toelaatbaar is. Die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie het ook verklaar dat die ras van ’n beskuldigde bepaal of iets haatspraak is.

9. Openbare ontkenning deur die President

Ten spyte van hierdie onmiskenbare werklikhede, het president Ramaphosa in die openbaar ontken dat hierdie verskriklike dinge in Suid-Afrika gebeur toe hy New York in Augustus 2018 besoek het. Die verhouding tussen die ANC en die EFF (insluitend die feit dat Ramaphosa wil hê dat die EFF by die ANC moet aansluit) is tydens die vergadering met president Trump in die Withuis vroeër vanjaar ontken.

10. Internasionale posisionering en diplomatieke teenstrydighede

Terwyl die Suid-Afrikaanse regering homself as ’n slagoffer van buitelandse druk uitbeeld, bly dit homself skaar by sommige van die wêreld se mees onderdrukkende regimes, insluitend dié wat verantwoordelik is vir wydverspreide sensuur, politieke vervolging en die onderdrukking van minderheidsregte. Hierdie teenstrydigheid is opvallend: 'n regering wat wettige menseregte-bekommernisse van demokratiese vennote afwys, beskerm gereeld ekstremistiese retoriek tuis en prys vernietigende beleide in die buiteland. ’n Onlangse voorbeeld is Ramaphosa se verering van Zimbabwe se grondhervormingsprogram onder Robert Mugabe gedurende die vroeë 2000's. Suid-Afrika kan nie ander geloofwaardig van "boeliegedrag" beskuldig terwyl sy eie diplomatieke houding konsekwent outoritêre state bevoordeel nie.

“Om hierdie redes het die Amerikaanse regering en die internasionale gemeenskap ’n morele plig om standpunt in te neem teen die ernstige misbruike wat tans in Suid-Afrika plaasvind,” sê dr Roets.

Lex Libertas beklemtoon dat hierdie probleme nie bloot misverstande is nie, maar struktureel. Dit is ingebed in ’n politieke bestel wat mag sentraliseer, gemeenskapsoutonomie onderdruk en ideologiese misbruik moontlik maak.

“Suid-Afrika het nie internasionale vertoonpolitiek oor ‘boeliegedrag’ nodig nie,” sluit dr Roets af. “Wat nodig is, is betekenisvolle politieke hervorming: desentralisering, grondwetlike beperking van staatsmag, en die erkenning van Suid-Afrika se onderskeie gemeenskappe en hul reg op selfbestuur. Slegs dan sal Suid-Afrika geloofwaardig oor geregtigheid kan praat — plaaslik én internasionaal.”

Dit is om hierdie rede dat Lex Libertas 'n Stop die vervolging-veldtog van stapel gestuur het. Die doel van die veldtog is om groter bewustheid oor die krisis in Suid-Afrika te skep om plaaslike en internasionale druk te verhoog vir ’n meer volhoubare politieke bedeling, gebaseer op die bevordering van selfregering vir die gemeenskappe van Suid-Afrika.

Die veldtog kan by die volgende skakel ondersteun word:

https://www.lexlibertas.org.za/af/campaigns/stoppersecution

Lex Libertas is ’n ideesentrum en voorspraakgroep wat werk vir ’n lewensvatbare politieke orde vir die gemeenskappe van Suid-Afrika, gegrond op die beginsels van vryheid, desentralisering en selfbestuur.