|

Menu

Kommentaar

Wat beteken die Amerikaanse tussenverkiesings vir ons?

Dr. Ernst Roets
07/11/2026

Die Amerikaanse tussenverkiesings het op ’n ingrypende politieke wending uitgeloop.

Die Amerikaanse tussenverkiesings het op ’n ingrypende politieke wending uitgeloop. Die Republikeine het ’n ernstige terugslag beleef, terwyl die Demokrate daarin geslaag het om beheer oor beide kamers van die Amerikaanse Kongres te verkry.

Op sosiale media is daar reeds mense wat hulle in die uitslag verlustig en dit as ’n terugslag vir Lex Libertas probeer aanbied, veral in die lig van ons onlangse Witkruisprojek in Washington. Die Trump-administrasie speel ’n betekenisvolle rol om internasionale aandag op die krisis in Suid-Afrika te vestig. Juis daarom is daar soveel belangstelling vanuit Suid-Afrika. Ons glo dat dit sal voortgaan, eerstens omdat Trump nogsteeds die president is, en tweedens, omdat selfs die Demokrate gefrustreerd is met die Suid-Afrikaanse regering se roekelose gedrag.

Nou moet ek twee goed sê.

Eerstens: Ons is nie Amerikaners nie, en hierdie was nie ons verkiesing nie. Tog sal dit sinvol wees vir ons om vir ’n oomblik ‘nabetragting’ te doen oor die lesse wat ons daaruit kan leer.

Tweedens: Ons moet onthou dat dit doodnormaal is vir die Amerikaanse politieke pendulum om voortdurend te swaai – en in besonder dat dit die norm is vir ’n sittende president om steun te verloor, en vir die president se party om steun te verloor in tussenverkiesings.

Met dit in ag genome, is daar sekere waarnemings wat ons oor die verkiesing kan maak, en sekere lesse wat ons daaruit kan leer.

’n Nuwe magsbalans in Amerika

Die Amerikaanse tussenverkiesings vind halfpad deur ’n president se ampstermyn plaas. Die president self word nie verkies nie, maar al 435 lede van die Huis van Verteenwoordigers en ongeveer ’n derde van die Senaat se lede word op die stembrief geplaas.

Die Republikeine het voor die verkiesing beheer oor die Withuis en beide kamers van die Kongres gehad. Dit het president Donald Trump aansienlike politieke beweegruimte gegee om sy beleidsprioriteite te bevorder.

Dit gaan nou verander.

Die Demokrate het nie net beheer oor die Huis van Verteenwoordigers verkry nie, maar ook oor die Senaat. Dit beteken dat Trump vanaf Januarie 2027 met ’n Kongres te doen sal hê waarin sy politieke teenstanders die meerderheid vorm.

Die praktiese implikasies is beduidend. Dit sal moeiliker wees om nuwe wetgewing deur te voer, begrotings goed te keur en aanstellings te bevestig. Die Demokrate sal ook groter bevoegdhede hê om ondersoeke na die administrasie te loods en politieke druk op die president uit te oefen.

Trump bly egter president, en die Amerikaanse grondwet verleen steeds omvangryke bevoegdhede aan die uitvoerende gesag, veral op die terrein van buitelandse beleid. Om van die president ontslae te raak is nie so eenvoudig soos wat hulle dit wil laat klink nie.

Die uitslag beteken dus nie dat die Trump-administrasie skielik magteloos geword het nie. Dit beteken wel dat die politieke omstandighede waaronder die administrasie moet funksioneer, aansienlik moeiliker geword het.

Waarom het die Republikeine steun verloor?

Die redes vir die Republikeine se terugslag sal ongetwyfeld nog lank bespreek word. Dit sou verkeerd wees om die uitslag aan ’n enkele gebeurtenis of persoon toe te skryf.

Een van die belangrikste faktore is die groeiende ontevredenheid onder Amerikaanse kiesers oor die ekonomie, veral lewenskoste. Die oorlog met Iran het verdere druk op brandstofpryse geplaas en verdeeldheid oor Amerikaanse buitelandse beleid veroorsaak.

Dit is ook duidelik dat die Republikeine nie daarin geslaag het om dieselfde politieke entoesiasme as tydens Trump se presidentsverkiesing in 2024 te mobiliseer nie.

Daarteenoor is ’n beduidende gedeelte van die Demokratiese kieserskorps nie soseer deur besondere entoesiasme vir die Demokratiese Party gemotiveer nie, maar deur hulle teenkanting teen Trump.

Hoewel Trump nie self op die stembrief was nie, was die verkiesing dus in ’n groot mate 'n referendum oor sy presidentskap.

Dit sou egter ’n fout wees om te dink dat die uitdaging bloot by Trump se persoonlike gewildheid lê. Trump het oor die afgelope dekade bewys dat hy oor ’n besondere vermoë beskik om kiesers te mobiliseer wat voorheen nie noodwendig veel belangstelling in die Republikeinse Party gehad het nie.

Maar die vermoë om ’n politieke beweging rondom ’n charismatiese leier te bou, is nie dieselfde as die vermoë om daardie beweging oor ’n lang tydperk bymekaar te hou nie.

Daar is ook groeiende verdeeldheid onder konserwatiewe Amerikaners oor verskeie kwessies. Dit sluit in die Amerikaanse betrokkenheid in die Midde-Ooste, die verhouding met Israel, die hantering van die Epstein-saak en die ‘podsending-oorloë’ tussen groot persoonlikhede wat beduidende aanhang geniet.

Die Republikeinse Party en die toekoms van MAGA

’n Merkwaardige verskynsel in die Amerikaanse politiek is dat politieke entoesiasme nie noodwendig rondom die gevestigde politieke partye ontstaan nie, maar dikwels rondom bewegings wat met daardie partye geassosieer word.

Donald Trump se Make America Great Again-beweging, beter bekend as MAGA, is ’n uitstekende voorbeeld.

MAGA het as ’n verkiesingslagspreuk begin, maar ontwikkel tot ’n politieke beweging met sy eie identiteit, ondersteuners, ideesentrums, mediafigure, organisasies en politieke prioriteite.

In bepaalde opsigte het MAGA selfs die Republikeinse Party se identiteit begin vorm, eerder as andersom. MAGA het as’t ware groter geword as die Republikeinse Party.

Iets soortgelyks gebeur aan die Demokratiese kant, waar progressiewe bewegings en demokratiese sosialiste toenemend invloed op die party se ideologiese rigting uitoefen. Die mees ooglopende voorbeelde hiervan is die Black Lives Matter (BLM) en die Woke-beweging. Hierdie bewegings wentel nie (soos MAGA) rondom ’n leier nie, maar eerder rondom ’n grief (in BLM se geval) en ’n ideologie (in Wokeness se geval).

Die vraag is egter wat van MAGA word.

’n Opname deur die Universiteit van Massachusetts Amherst het in Augustus reeds bevind dat die persentasie Republikeine wat hulle met MAGA vereenselwig, sedert Maart met nege persentasiepunte gedaal het. Dit beteken nie dat MAGA verdwyn het nie. Inteendeel, 'n meerderheid Republikeine het steeds aangedui dat hulle minstens in ’n mate met die beweging identifiseer.

Dit dui wel daarop dat die beweging met toenemende spanning worstel.

Byna alle presidente se steun daal terwyl hulle in die amp is. Só ook met Trump, wat in elk geval aan die einde van sy loopbaan is. MAGA sal óf met nuwe leierskap moet assosieer, óf met iets anders vervang word.

In hierdie verband word daar toenemend oor America First gepraat. Die uitdrukking is natuurlik nie nuut nie en vorm reeds lank deel van Trump se eie politieke benadering. Sommige groepe gebruik dit egter nou om ’n alternatiewe politieke beweging te beskryf wat óf verder as MAGA wil gaan, óf na die beginsels van MAGA wil terugkeer (afhangend van na wie jy luister).

Dit is nog te vroeg om te verklaar dat America First besig is om MAGA te vervang. Die groepe wat hierdie benaming gebruik, verskil hewig onderling, en sommige radikale figure wat hulle daarmee vereenselwig, het standpunte wat geensins deur die breër konserwatiewe beweging gedeel word nie.

Samesweringsteorieë

Daar is ook ’n ander probleem wat toenemend onder konserwatiewe Amerikaanse politieke bewegings na vore tree: die geneigdheid om byna elke belangrike gebeurtenis deur die lens van ’n samesweringsteorie te beoordeel.

Hier wil ek graag iets oor my eie teenstrydigheid sê. Ek stel van nature nie in samesweringsteorieë belang nie, hoofsaaklik omdat ek dit beskou as verlammend en omdat ek eerder die klem wil plaas op die dinge waaraan mens iets kan doen. Maar die werklikheid haal soms my skeptisisme oor skeptisisme in, omdat die lys van samesweringsteorieë wat met die eerste oogopslag belaglik klink, maar later as die waarheid bewys word, kommerwekkend lank is.

Dit skep ’n wesenlike probleem. Mense moet skepties wees, en twyfel is goed. Maar dit help ook nie om – soos ’n groeiende aantal Amerikaners aan die regterkant van die spektrum – verslaaf aan twyfel te raak nie. ’n Samelewing wat elke liewe gebeurtenis by verstek as die gevolg van ’n samesweringsteorie vertolk, stagneer onmiddellik. Amerika is dus vasgevang in ’n bose kringloop: die samesweringsteorieë is verlammend, maar dié wat hulle daarmee besig hou word gereeld reg bewys (Epstein is maar een voorbeeld). Nou twyfel ’n groeiende aantal mense oor byna alles, en daar is omtrent nie meer ’n vraagstuk oor in die Amerikaanse debat wat nie in ’n debat oor samesweringsteorieë ontaard het nie.

Wat beteken dit vir ons?

Laat ons dit duidelik stel: Daar is heelwat meer gemeenskaplike grond tussen die beginsels wat ons by Lex Libertas bevorder en dié van baie Amerikaanse konserwatiewes as tussen ons en die hedendaagse progressiewe beweging.

Maar dit beteken nie dat ons die Republikeinse Party, MAGA of enige Amerikaanse politieke leier onvoorwaardelik kan of moet onderskryf nie.

Ons moet uitdruklik erkenning gee aan die Trump-administrasie vir die besonder betekenisvolle rol wat hulle die afgelope tyd ten opsigte van Suid-Afrika gespeel het. Trump is die magtigste persoon in die wêreld. Hy het een van die grootste figure in die geskiedenis van Suid-Afrika geword, en daar was nog nooit ’n Amerikaanse president wat soveel gedoen het om verwoestende idees in Suid-Afrika aan te spreek nie.

Die administrasie het die krisis rondom die vervolging en marginalisering van minderhede in Suid-Afrika onder internasionale aandag gebring. Dit het die diskriminerende beleidsraamwerk, bedreigings teen eiendomsreg en politieke aanhitsing teen minderhede uitdruklik bevraagteken.

President Trump se uitvoerende bevel van Februarie 2025 was ’n historiese gebeurtenis. In September vanjaar het die Amerikaanse minister van buitelandse sake, Marco Rubio, verdere visumbeperkings aangekondig wat gerig is op persone wat by bepaalde vorme van rassediskriminasie, aanhitsing tot geweld en onteiening sonder vergoeding betrokke is.

Die administrasie het diplomatieke en ekonomiese druk op die Suid-Afrikaanse regering aansienlik verhoog.

Hierdie optrede verdien waardering.

Dit sou egter ’n strategiese fout wees om die toekoms van enige groep in Suid-Afrika afhanklik te maak van die politieke sukses van een Amerikaanse president of party.

Trump is nie ons leier nie. Sy verantwoordelikheid is teenoor die Amerikaners, soos dit hoort. Net so is ons verantwoordelikheid teenoor ons eie land en ons eie gemeenskappe.

Ons moet dus voortgaan om goeie verhoudings met die Trump-administrasie te bou en die geleenthede wat daaruit voortspruit, te benut. Maar ons moet ook ons internasionale netwerk verbreed, verhoudings met ander invloedryke instellings versterk en voortdurend nuwe geleenthede identifiseer.

Dit is wat verantwoordelike internasionale skakeling vereis.

Die toekoms behoort aan diegene wat geleenthede benut

Dit is maklik om politieke gebeure uitsluitlik as oorwinnings of nederlae te beskou.

Maar die geskiedenis leer ons dat politieke omstandighede voortdurend verander. Vandag se dominante politieke beweging kan môre onder druk verkeer, terwyl nuwe geleenthede dikwels juis in tye van onsekerheid ontstaan.

Ons moet dus nie naïef wees oor die uitdagings wat uit die Amerikaanse tussenverkiesings voortspruit nie. Die verandering in die Kongres is betekenisvol en kan beslis implikasies vir ons internasionale werk hê.

Maar ons moet ook nie toelaat dat hierdie ontwikkeling ons in pessimisme dompel nie.

Ons strewe na vryheid en selfregering het nie met Donald Trump begin nie. Dit sal ook nie met die einde van sy presidentskap eindig nie.

Ons moet ons vriende waardeer, ons beginsels behou, die werklikheid nugter beoordeel en die geleenthede benut wat tot ons beskikking kom.

Want die toekoms behoort nie noodwendig aan diegene wat die politieke omstandighede van die dag die beste kan voorspel nie, maar aan diegene wat bereid is om verantwoordelik en doelgerig op daardie omstandighede te reageer.