|

Menu

Mediaverklarings

Van Washington na Pretoria: Lex Libertas kondig tweede fase van Witkruisprojek aan

Dr. Ernst Roets
20/11/2026

‘Bewusmaking is belangrik, maar bewusmaking alleen los niks op nie. Ons doel is om die gesprek te verskuif van die identifisering van die simptome van Suid-Afrika se politieke krisis na die ontwikkeling en uitvoering van volhoubare oplossings.’

Lex Libertas het vandag die tweede fase van die Witkruisprojek aangekondig, voortbouend op die internasionale veldtog wat in September 2026 in Washington, D.C., plaasgevind het. Die volgende fase sal daarop fokus om die momentum van die veldtog na Suid-Afrika terug te bring, openbare druk vir betekenisvolle politieke hervorming te verhoog en steun vir volhoubare oplossings te versterk.

Die eerste fase van die Witkruisprojek het die dokumentêre film Crossed Out: Confronting Persecution in South Africa, ’n internasionale konferensie by die National Press Club en die vertoon van 3 000 wit kruise op die National Mall ter nagedagtenis aan plaasmoordslagoffers ingesluit.

Die projek het internasionale aandag gevestig op politieke aanhitsing, plaasaanvalle, rasgebaseerde wetgewing, bedreigings vir eiendomsreg en die breër politieke krisis in Suid-Afrika. Dit het ook praktiese aanbevelings voorgelê om hierdie kwessies aan te pak, met besondere klem op die noodsaak van vryheid, desentralisering en selfbestuur.

‘Die eerste fase van die Witkruisprojek was ’n groot sukses. Ons het hierdie kwessies onder internasionale aandag gebring, die bewyse voorgelê en praktiese oplossings voorgestel. Die reaksie van regeringsverteenwoordigers, joernaliste en kommentators in Suid-Afrika het getoon dat hierdie argumente nie meer bloot geïgnoreer kan word nie,’ het dr Ernst Roets, uitvoerende direkteur van Lex Libertas, gesê.

Die tweede fase van die Witkruisprojek sal op vier onderling verbonde inisiatiewe fokus:

1. Die 3 000 wit kruise na die Uniegebou bring. Die kruise wat in Washington vertoon is, word na Suid-Afrika verskeep. Lex Libertas beoog om aansoek te doen om toestemming om dit by die Uniegebou in Pretoria te vertoon en ’n memorandum aan president Cyril Ramaphosa of sy aangewese verteenwoordiger te oorhandig. Die beplande geleentheid is bedoel as ’n vreedsame en waardige herdenking van plaasmoordslagoffers.

2. Die bewyse aan die Parlement voorlê. Ná ’n openbare uitdaging deur die voorsitter van die Parlement se portefeuljekomitee oor internasionale betrekkinge en samewerking het Lex Libertas ingestem om sy bewyse onder eed voor te lê en te verdedig. Die organisasie sal hom beywer vir ’n formele openbare komiteeverhoor waaraan toepaslike kundiges en getuies kan deelneem.

3. ’n Bloudruk vir ’n lewensvatbare politieke bedeling ontwikkel. Lex Libertas sal ’n nasionale werksessie oor selfbestuur aanbied, voorafgegaan deur ’n reeks gesprekke en aanlyn seminare. Die doel is om ’n Bloudruk vir ’n lewensvatbare bedeling en ’n praktiese roetekaart te ontwikkel vir ’n politieke stelsel waarin Suid-Afrika se uiteenlopende gemeenskappe deur desentralisering en selfbestuur tot hul reg kan kom.

4. Lex Libertas versterk met 5 000 maandelikse bydraers. Lex Libertas sal ’n landwye besoektoer onderneem om met gemeenskappe te skakel, sy steunbasis uit te brei en plaaslike Lex Libertas-klubs te stig of te versterk. Die organisasie wil tydens hierdie fase sy bydraersbasis tot minstens 5 000 maandelikse bydraers uitbrei.

‘Bewusmaking is belangrik, maar bewusmaking alleen los niks op nie. Ons doel is om die gesprek te verskuif van die identifisering van die simptome van Suid-Afrika se politieke krisis na die ontwikkeling en uitvoering van volhoubare oplossings,’ het Roets bygevoeg.

’n Kernoogmerk van die tweede fase is om te toon dat die strewe na vryheid, desentralisering en selfbestuur betekenisvolle en meetbare openbare steun geniet.

Lex Libertas sal daarom besondere klem op die werwing van maandelikse bydraers plaas. Ondersteuners kan self besluit hoeveel hulle wil bydra.

‘Ons word gereeld gevra hoeveel mense die werk van Lex Libertas werklik steun. Ons gaan hierdie vraag beantwoord, nie met syfers oor ons bereik op sosiale media of oordrewe aansprake nie, maar deur ’n groeiende groep mense wat bewustelik besluit het om ons werk te ondersteun,’ het Roets gesê.

Die veldtog se voorlopige begroting beloop R750 000. Die vernaamste aktiwiteite sal na verwagting teen middel 2027 afgehandel wees, onderhewig aan logistieke reëlings en prosesse buite ons beheer. Anders as tydens die eerste fase van die Witkruisprojek, toe fondsinsameling hoofsaaklik op die borg van individuele kruise gefokus het, sal die tweede fase groter klem op die werwing van gereelde maandelikse bydraers plaas.

‘Die boodskap van die tweede fase is eenvoudig. Ons bring die kruise huis toe, ons neem die bewyse na die Parlement en ons werk aan ’n lewensvatbare politieke bedeling vir die gemeenskappe van Suid-Afrika.’

‘Om hierdie doelwitte te bereik, het ons meer as goeie argumente nodig. Ons het die organisatoriese vermoë en openbare steun nodig om daadwerklik op te tree,’ het Roets afgesluit.

Ons moedig lede van die publiek aan om die projek te ondersteun en maandelikse bydraers tot Lex Libertas te word.

Meer inligting is beskikbaar by www.whitecrossproject.org.

Die video oor die tweede fase kan hier gekyk word - https://youtu.be/lJIYAiXXmj8?si=GXwZENCSGeC1Iapv

Lees gerus die projekplan hier - https://cdn.sanity.io/files/jem6lqyp/production/3c1c8d3593c281dd924c011884a1fb7cb42f1dab.pdf