Lex Libertas het ’n nuwe verslag, Race-Based Exclusion in South African State Land Policy, gepubliseer waarin blootgelê word hoe die Suid-Afrikaanse regering ras as ’n toelatingsvereiste gebruik by die toekenning van landbougrond in staatsbesit.
Die verslag steun op die Departement van Grondhervorming en Landelike Ontwikkeling se eie advertensies, waarin aansoeke vir bepaalde staatsplase uitdruklik tot swart Afrikane, Indiërs en bruin Suid-Afrikaanse burgers beperk word. Wit burgers word van oorweging uitgesluit, ongeag hul landbou-ervaring, beskikbare hulpbronne of vermoë om produktief te boer.
Die verslag wys ook op ernstige tekortkominge in bestaande grondhervormingsprogramme, waaronder die onderbenutting van landbougrond, dalende produktiwiteit en die gevolge daarvan vir landelike gemeenskappe.
Lex Libertas het reeds ’n vergadering met die minister van Grondhervorming en Landelike Ontwikkeling, Mzwanele Nyhontso, gereël om die verslag aan hom voor te lê en die behoefte aan betekenisvolle beleidshervorming te bespreek.
‘Ons glo dat toegang tot landbougrond volgens billike en deursigtige maatstawwe bepaal moet word, met besondere klem op produksievermoë, gevestigde eiendomsreg en die belange van die betrokke gemeenskappe,’ sê dr. Ernst Roets, uitvoerende direkteur van Lex Libertas.
‘Die onderliggende probleem is egter meer fundamenteel. Suid-Afrika se hoogs gesentraliseerde politieke bestel stel die nasionale regering in staat om beleid op gemeenskappe met uiteenlopende omstandighede af te dwing. Ons bepleit daarom die desentralisering van politieke mag en groter selfregering, sodat gemeenskappe betekenisvolle seggenskap kan uitoefen oor die hulpbronne en besluite wat hul lewensomstandighede raak.’
Lex Libertas vra dat rasgebaseerde toelatingsvereistes uit die beleid vir die toekenning van staatsgrond verwyder word, dat eiendomsreg sterker beskerm word en dat ’n breër gesprek oor desentralisering gevoer word as ’n manier om ’n meer lewensvatbare politieke bestel vir Suid-Afrika te bewerkstellig.
- Klik hier om die verslag te lees.