Lex Libertas, ’n ideesentrum en voorspraakgroep, het vandag saam met die Cape Independence Advocacy Group (CIAG) die onafhanklike Econometrix-verslag Western Cape Fiscal Flows in Kaapstad bekendgestel. Volgens die verslag het die Wes-Kaap in 2024 na raming R140 miljard meer staatsinkomste gegenereer as wat aan staatsbesteding in die provinsie toegeskryf kan word.
Oor die tydperk 2015 tot 2024 was die Wes-Kaap se gemiddelde jaarlikse netto fiskale bydrae sowat R98 miljard, of ongeveer R56 000 per huishouding per jaar. In 2024 het die huishoudelike syfer tot ongeveer R74 000 gestyg. Gauteng se gemiddelde netto fiskale bydrae was sowat R226 miljard per jaar oor dieselfde tydperk. Gauteng en die Wes-Kaap is die enigste twee netto bydraende provinsies, terwyl die ander sewe netto ontvangers is.
“Hierdie bevindings behoort ’n ernstige gesprek oor groter fiskale outonomie en verantwoordbaarheid op provinsiale vlak aan te wakker. Die gemeenskappe wat die geld genereer, behoort ook groter seggenskap te hê oor hoe dit bestee word,” sê dr. Ernst Roets, uitvoerende direkteur van Lex Libertas.
Die verslag gebruik openbare data en ekonomiese ramings om staatsinkomste en toerekenbare staatsbesteding oor al drie regeringsfere te vergelyk. Dit bereken nie wat onder ’n alternatiewe fiskale bedeling sou gebeur nie. Lex Libertas beskou die bevindings as ’n belangrike vertrekpunt vir verdere navorsing oor desentralisering, fiskale outonomie en selfregering.
Klik hier om die verslag te lees.