Pretoria — Die ideesentrum en voorspraakgroep, Lex Libertas spreek sy kommer uit dat Suid-Afrika tans ’n dringende diplomatieke krisis in die gesig staar wat onmiddellike optrede vereis om betrekkinge met die Verenigde State te herstel. President Donald J. Trump se ongekende verklaring — waarin die Suid-Afrikaanse regering gekritiseer word vir die verontagsaming van menseregtevergrype en aangekondig word dat die VSA die G20-beraad in Suid-Afrika gaan boikot — dui op die ernstigste ineenstorting in bilaterale betrekkinge sedert 1994. Hierdie verswakking spruit uit ’n destruktiewe beleidsraamwerk, die wydverspreide verval van staatfunksies, en die toenemende vervolging van minderheidsgemeenskappe. Hierdie faktore het internasionale vertroue ondermyn en kommer oor Suid-Afrika se politieke rigting verdiep. Om die huidige trajek om te keer, is betekenisvolle grondwetlike hervorming ten gunste van gedesentraliseerde regering nou noodsaaklik.
Burgerlike organisasies waarsku al jare lank oor geteikende geweld, diskriminerende beleid soos BEE, en die staat se versuim om kwesbare gemeenskappe te beskerm. Die internasionale reaksie weerspieël nou wat gemeenskappe daagliks in Suid-Afrika beleef: ’n politieke orde wat ineengestort het en ’n regering wat nie bereid is om die werklikheid onder oë te sien nie.
Lex Libertas doen ’n beroep op die Suid-Afrikaanse regering om die krisis dringend te erken, menseregtevergrype aan te spreek en beleid prys te gee wat rasse- en sosiale spanning verskerp. Internasionale isolasie sal slegs verdiep indien betekenisvolle hervormings nie aangebring word nie.
Dit is om hierdie rede dat Lex Libertas die Stop die vervolging-veldtog van stapel gestuur het. Die doel van die veldtog is om groter bewustheid te skep oor die krisis in Suid-Afrika, sodat dit kan bydra tot plaaslike en internasionale druk vir ’n meer volhoubare politieke bedeling wat gebaseer is op die bevordering van selfbestuur vir die verskillende gemeenskappe van Suid-Afrika.
Die veldtog kan by die volgende skakel ondersteun word:
Lex Libertas is ’n ideesentrum en voorspraakgroep wat werk vir ’n lewensvatbare politieke bedeling in Suid-Afrika, gebaseer op die beginsels van vryheid, desentralisasie en selfbestuur.