Die aanval op ’n boer in Noordwes, waartydens hy geskiet, gesteek en sy ore afgesny is, is bewys daarvan dat meer gedoen moet word om plaasaanvalle in Suid-Afrika te bestry, het Lex Libertas gesê. Die ideesentrum en voorspraakgroep het bygevoeg dat hulle van voorneme is om binnekort ’n tweede fase van die Witkruisprojek aan te kondig, wat die vertoon van drieduisend wit kruise voor die Uniegebou sal insluit om die Suid-Afrikaanse regering se gebrek aan optrede rakende plaasmoorde aan te spreek.
Netwerk24 het vandag berig dat Donovan Marx (50) vanoggend op sy plaas tussen Potchefstroom en Ventersdorp aangeval is. Hy ontvang tans behandeling in Potchefstroom.
Dr. Ernst Roets, uitvoerende direkteur van Lex Libertas, het herhaal dat plaasaanvalle om ’n verskeidenheid redes ’n unieke misdaadverskynsel is, insluitend die frekwensie en wreedheid daarvan. ‘Die mees kommerwekkende aspek, ten spyte van die erns van die krisis, is dat dit die enigste misdaadverskynsel in Suid-Afrika is wat beide openlik aangemoedig en aktief ontken word deur van die invloedrykste politici in die land.’ Het hy bygevoeg dat president Ramaphosa self in 2018 tydens ’n internasionale geleentheid in New York verklaar het dat ‘daar geen moorde op boere of wit boere in Suid-Afrika is nie.’
In September vanjaar het Lex Libertas, in vennootskap met die New York Young Republican Club, 3 000 wit kruise op die National Mall in Washington, D.C., vertoon om internasionale steun te werf vir ingrypings rakende die plaasaanvalkrisis in Suid-Afrika. Die organisasie sal binne die volgende week verskeie stappe aankondig wat as deel van die tweede fase van die Witkruisprojek geïmplementeer sal word. Dit sluit in om die kruise wat in Washington vertoon is na Suid-Afrika te bring en dit voor die Uniegebou in Pretoria te vertoon.
Lex Libertas het die Suid-Afrikaanse regering weereens versoek om meetbare stappe te doen om plaasaanvalle te bestry, en bygevoeg dat die voortbestaan van die krisis bewys is van die behoefte aan desentralisasie in Suid-Afrika. ‘Diegene aan bewind in Suid-Afrika is eenvoudig te ver verwyder van diegene wat onder die gevolge van hul besluite en gebrek aan aksie ly. Politieke mag moet nader aan die mense gebring word.’