Lex Libertas het ’n beroep op president Cyril Ramaphosa gedoen om die wrede aanval op die Noordwes-boer Donovan Marx in die openbaar te veroordeel en met organisasies uit die burgerlike samelewing in gesprek te tree oor 'n meer gedesentraliseerde benadering tot die bekamping van plaasaanvalle.
Marx is op 28 Oktober 2026 tydens 'n aanval op sy plaas tussen Potchefstroom en Ventersdorp geskiet, met 'n mes gesteek en ernstig vermink.
In die brief wys Lex Libertas daarop dat president Ramaphosa voorheen besonder wrede voorvalle van geweldsmisdaad veroordeel het, waaronder die onlangse moorde op vroue in Ekurhuleni. Die organisasie versoek hom om op soortgelyke wyse op die aanval op Marx te reageer.
‘Die president het hom tereg voorheen sterk uitgespreek teen ander voorvalle van wrede geweld. Ons glo dat slagoffers van plaasaanvalle dieselfde erkenning en verbintenis tot geregtigheid verdien,’ het dr. Ernst Roets, uitvoerende direkteur van Lex Libertas, gesê.
Die organisasie doen verder 'n beroep op die president om gesprekke tussen die regering en burgerlike organisasies oor praktiese maatreëls vir die verbetering van landelike veiligheid te bevorder.
Lex Libertas voer aan dat die besondere uitdagings wat met plaasaanvalle gepaardgaan, waaronder die afsondering van landelike gemeenskappe en vertragings met noodreaksie, groter desentralisering en samewerking tussen die polisie, landbouorganisasies en plaaslike gemeenskappe vereis.
‘Dit is nie genoeg om plaasaanvalle tot prioriteitsmisdade te verklaar nie. So 'n verklaring sal op sigself niks meer as 'n administratiewe formaliteit wees nie. Wat saak maak, is of praktiese stappe gedoen word om hierdie aanvalle te voorkom en die oortreders aan die pen te laat ry,’ het Roets gesê.
‘Plaaslike gemeenskappe beskik oor kennis, hulpbronne en vermoëns wat by die bekamping van plaasaanvalle ingespan behoort te word. Ons glo daar is aansienlike ruimte vir 'n meer gedesentraliseerde benadering tot landelike veiligheid.’
Die organisasie het aangebied om met die Presidensie en tersaaklike staatsdepartemente oor praktiese oplossings in gesprek te tree.
Lees die ope brief hier.