|

Menu

Mediaverklarings

Lex Libertas gaan 3 000 wit kruise op die National Mall in Washington, D.C., oprig

Lex Libertas
09/03/2026

Lex Libertas, gaan ’n openbare waak in Washington, D.C., aanbied waar 3 000 wit kruise op die National Mall vertoon

Pretoria, Suid-Afrika – Die Suid-Afrika-gebaseerde ideesentrum en voorspraakgroep, Lex Libertas, gaan ’n openbare waak in Washington, D.C., aanbied waar 3 000 wit kruise op die National Mall (die openbare grasperk tussen die Withuis en die Capitol Hill-geboue) vertoon sal word ter nagedagtenis aan slagoffers van plaasaanvalle in Suid-Afrika en om internasionale bewustheid te skep oor die land se groeiende krisis van geweld, rassediskriminasie en staatsverval.

Die vertoning vorm deel van ’n breër internasionale veldtog wat daarop gemik is om die werklikhede in Suid-Afrika onder die aandag van beleidmakers in die Verenigde State en die breër Westerse wêreld te bring. Dit is veral belangrik, aangesien baie rolspelers in die Amerikaanse en Suid-Afrikaanse media doelbewuste pogings aangewend het om die krisis as onbelangrik voor te stel.

’n Sleutelelement van die veldtog is ’n internasionale petisie wat ’n beroep op die Verenigde State doen om ’n spesiale gesant aan te stel wat hom of haar sal toewy aan betrokkenheid by die Afrikanergemeenskap en ander kulturele minderhede in Suid-Afrika, en om die strewe na selfregering as ’n legitieme en vreedsame oplossing te erken. In hierdie verband het Lex Libertas saamgespan met die New York Young Republican Club (NYYRC). Ander internasionale vennote sal na verwagting ook aansluit.

Die doel is om 100 000 name op die petisie te verkry voordat dit formeel aan die President van die Verenigde State, die Amerikaanse Departement van Buitelandse Sake en die Withuis oorhandig word.

Om die Washington-geleentheid moontlik te maak, het Lex Libertas ook ’n fondsinsamelingsinisiatief van stapel gestuur waardeur ondersteuners een van die 3 000 wit kruise wat op die National Mall vertoon sal word, kan borg.

Dr Ernst Roets, uitvoerende direkteur van Lex Libertas, het gesê die veldtog bou reeds momentum:

“Die krisis wat Suid-Afrika raak, is al vir te lank geïgnoreer, en ons is vasbeslote om dit onder die aandag van die internasionale gemeenskap te bring op ’n wyse wat dit uiters moeilik sal maak om die bestaan van hierdie krisis verder te ontken.”

Roets het bygevoeg dat die veldtog reeds ’n belangrike vroeë mylpaal bereik het:

“Ons het reeds 10% van ons teiken bereik, beide wat die petisie en die borgskap van kruise betref. Dit wys dat mense regoor die wêreld die erns van die situasie besef en deel wil wees daarvan om hierdie werklikhede onder die aandag van besluitnemers in Washington te bring.”

Ondersteuners word aangemoedig om die petisie te onderteken en ’n kruis te borg om te help om die waak in Washington moontlik te maak.

Die petisie kan hier onderteken word: https://www.lexlibertas.org.za/campaigns/stoppersecution

Dieselfde skakel kan ook gebruik word om een van die wit kruise te borg.

Lex Libertas is ’n Suid-Afrika-gebaseerde ideesentrum en voorspraakgroep wat werk aan ’n lewensvatbare politieke bedeling vir die volke van Suid-Afrika, gebaseer op die beginsels van vryheid, desentralisasie en selfregering.

Teken die petisie of borg 'n kruis hier .