Lex Libertas gaan 3 000 wit kruise op die National Mall in Washington, D.C., oprig
Lex Libertas, gaan ’n openbare waak in Washington, D.C., aanbied waar 3 000 wit kruise op die National Mall vertoon
Support our mission
Lex Libertas & New York Young Republican Club (NYYRC) gesamentlike mediaverklaring
Centurion, Suid-Afrika – Ná ’n intensiewe week van betrokkenheid in Suid-Afrika het Lex Libertas en die New York Young Republican Club (NYYRC) vandag ’n gekoördineerde internasionale aksieplan aangekondig wat daarop gemik is om Suid-Afrika se krisis onder die aandag van die regering van die Verenigde State en die breër Westerse wêreld te bring.
Tydens hul besoek aan Suid-Afrika het die NYYRC-afvaardiging slagoffers van plaasaanvalle ontmoet, persone wat deur rasdiskriminerende wetgewing uitgesluit word, sakeleiers en gemeenskapsinstellings. Hierdie betrokkenheid het gelei tot ’n gestruktureerde opvolgprogram wat in die Verenigde State geïmplementeer sal word.
Die eerste komponent is die bekendstelling van ’n internasionale petisie wat ’n beroep op die Verenigde State doen om ’n spesiale gesant aan te stel wat hom of haar sal toewy aan betrokkenheid by die Afrikanergemeenskap en ander kulturele minderhede in Suid-Afrika, en om die strewe na selfregering as ’n legitieme en vreedsame oplossing te erken. Die doel is om minstens 100 000 handtekeninge te verkry voordat die petisie formeel aan die President van die Verenigde State, die Amerikaanse Departement van Buitelandse Sake en die Withuis oorhandig word.
Tweedens beoog Lex Libertas en die NYYRC om ’n openbare waak in Washington, D.C., aan te bied waar 3 000 wit kruise op die National Mall vertoon sal word ter nagedagtenis aan slagoffers van plaasaanvalle. Ná afloop van hierdie geleentheid sal die petisie formeel aan die Amerikaanse administrasie oorhandig word.
Derdens beplan Lex Libertas om ’n konferensie in Washington, D.C., aan te bied waar slagoffers van plaasaanvalle, rasse-uitsluiting en staatsverval in Suid-Afrika hul getuienis direk met ’n Amerikaanse gehoor en beleidsmakers sal deel.
Daarbenewens sal ’n formele versoek aan die Amerikaanse Kongres gerig word om ’n openbare verhoor oor Suid-Afrika en strukturele beleidsoplossings te belê.
Stefano Forte, President van die NYYRC, het gesê:
“Ons het Suid-Afrika besoek op ’n feite-ondersoekende sending om self die werklikheid te sien en nie op mediapropaganda staat te maak nie. Ons het bevind dat Afrikaners en ander etniese minderhede ernstige onveiligheid en toenemende vyandigheid in die gesig staar, met min beskerming van hul eie regering. Dit is ’n volk met diep beskawingsbande met die Weste, en hul situasie vereis die aandag van die Amerikaanse regering. Ons het die gordyn oopgetrek — nou moet Washington aandag gee.”
Dr Ernst Roets, Uitvoerende Direkteur van Lex Libertas, het gesê:
“Wat die NYYRC in Suid-Afrika waargeneem het, is nie nuut nie. Dit is reeds vir dekades ’n voortgaande en verslegtende krisis. Dit is ’n krisis wat doelbewus geïgnoreer en ontken word deur ’n losstaande politieke elite. Terwyl gewone mense gewelddadige misdaad, rassediskriminasie en staatsverval trotseer, beskerm diegene aan bewind hul posisies en ’n mislukte stelsel. Indien diegene aan bewind nie hierdie krisis wil konfronteer nie, sal die mense dit doen — en ons sal daardie boodskap na die wêreld neem.”
Om hierdie inisiatiewe moontlik te maak, het Lex Libertas en die NYYRC ’n fondsinsamelingsveldtog van stapel gestuur met ’n teiken van $50 000. Ondersteuners kan een van die 3 000 wit kruise borg teen $15 per kruis. Die organisasies moedig ondersteuners aan om die petisie te onderteken en finansieel by te dra om hierdie veldtog in die herfs van 2026 na Washington te bring.
Lex Libertas is ’n Suid-Afrika-gebaseerde dinkskrum en voorspraakgroep wat werk aan ’n lewensvatbare politieke bedeling vir die volke van Suid-Afrika, gebaseer op die beginsels van vryheid, desentralisasie en selfregering.
Die New York Young Republican Club is die oudste en grootste Republikeinse klub in die Verenigde State en speel ’n aktiewe rol in die vorming van konserwatiewe politieke diskoers en betrokkenheid.
Teken die petisie of borg 'n kruis hier .
Verken meer inhoud oor soortgelyke onderwerpe
Lex Libertas, gaan ’n openbare waak in Washington, D.C., aanbied waar 3 000 wit kruise op die National Mall vertoon
Gesamentlike Mediaverklaring - Lex Libertas & New York Young Republican Club (NYYRC)
'n Kort oorsig van Mia du Plessis en wat jy van haar bydrae by die FNC kan verwag