Jonathan Jansen het onlangs op News24 ’n verstommende artikel, White Crosses and Black Grace, gepubliseer. Daarin beskuldig hy my en my kollegas by Lex Libertas daarvan dat ons minagting vir swart mense toon deur plaasmoordslagoffers te herdenk.
Hy bestempel ons as ’n politieke opportuniste, beskryf die Witkruisprojek as ’n uitdrukking van wit oppergesag (white supremacy) en sluit sy artikel dan met die volgende woorde af (vry vertaal):
‘Hulle spoeg in die gesig van swart genade, en dié skande sal hulle tot in hul vlak grafte saamdra.’
Dit is ’n verstommende uitspraak oor persone wat hulle teen moord beywer. Van ’n akademikus wat hom al jare lank vir versoening en wedersydse begrip uitspreek, sou ’n mens meer verwag.
Jansen se persoonlike beledigings is egter nie die kern van die saak nie. Belangriker is die aannames waarop sy betoog berus en die teenstrydighede wat daaruit blyk.
Wat is ‘swart genade’?
Volgens Jansen het swart mense in Suid-Afrika, ondanks eeue se historiese onreg, buitengewone selfbeheersing teenoor wit mense aan die dag gelê. Hy noem dit ‘swart genade’.
Hy verwys na Nelson Mandela se verbintenis tot versoening en na voorbeelde van swart persone wat die wit persone vergewe het wat hulle weens hul ras veronreg het. Volgens hom behoort ook die vermyding van grootskaalse vergelding en radikale herverdeling ná die apartheidstydperk as uitings van hierdie genade beskou te word.
Dan beskuldig hy Lex Libertas daarvan dat ons hierdie genade minag omdat ons ’n veldtog teen plaasmoorde voer. Hy verwys veral na die Witkruisprojek, waartydens ons 3 000 wit kruise op die National Mall in Washington, D.C. opgerig het.
Hy verduidelik egter nêrens waarom die herdenking van moordslagoffers, of ’n veldtog om verdere moorde te voorkom, op minagting vir swart genade sou neerkom nie.
Die Witkruisprojek was nie teen swart mense gerig nie. Ons wou aandag op plaasmoorde vestig, die slagoffers (wat swart slagoffers insluit) herdenk en praktiese optrede teen hierdie misdade aanmoedig.
Jansen kan van ons gevolgtrekkings, werkswyse of voorstelle verskil. As hy egter die projek as ’n daad van rasse-ondankbaarheid wil veroordeel, moet hy ’n argument bied wat hy nêrens voer nie.
Sy artikel skep nietemin ’n ontstellende indruk: dat wit mense hulleself gelukkig moet ag omdat swart mense nie wraak geneem het nie.
As die herdenking van vermoorde boere volgens hom ’n miskenning van hierdie sogenaamde genade is, wat moet wit mense dan van die gevolge van hul vermeende ondankbaarheid aflei?
Genade of gewone ordentlikheid?
Daar is ’n vanselfsprekende morele onderskeid wat Jansen oor die hoof bied.
Om iemand te vergewe wat jou persoonlik veronreg het, kan inderdaad ’n besondere daad van genade wees. Om iemand wat jou nie veronreg het nie, nie skade aan te doen nie, kan egter hoegenaamd nie as een of ander guns beskryf word nie nie. Dit is basiese morele gedrag.
Die denkfout in Jansen se betoog lê in sy sprong van historiese onreg na die suggestie dat wit mense vandag oor hul griewe moet swyg en dankbaar moet wees dat hulle nie vir vorige geslagte se dade gestraf word nie.
Daarmee behandel hy skuld en morele verantwoordelikheid as iets wat op grond van ras van die een geslag na die volgende oorgedra kan word. Terselfdertyd laat hy die onreg van die afgelope drie dekades buite rekening, vermoedelik omdat dit nie by sy eensydige voorstelling van swart slagoffers en wit oortreders pas nie.
Swart mense word dus voorgestel as ’n groep wat dankbaarheid verdien omdat hulle nie wraak geneem het nie, terwyl wit mense as ’n groep morele skuld vir vorige geslagte se dade moet dra.
Waarom moet iemand wat niemand leed aangedoen het nie, dankbaar wees dat ’n ander persoon hom nie aangeval het nie? En waarom moet iemand lof ontvang omdat hy nie wraak geneem het op ’n persoon wat hom nooit skade aangedoen het nie?
Ons behoort tog saam te stem dat niemand morele skuld erf bloot omdat hy tot ’n bepaalde rassegroep behoort nie.
Martin Luther King: ’n beginsel wat selektief geld
Hierin lê nog ’n ironie. Jansen het al telke male bewondering uitgespreek vir Martin Luther King jr. In sy beroemde I Have a Dream-toespraak spreek King die hoop uit dat sy kinders volgens hul karakter, en nie hul velkleur nie, beoordeel sal word.
In 2010 het Jansen studente aan die Universiteit van die Vrystaat aangemoedig om dié beginsel uit te leef. Vier jaar later het hy verklaar: ‘Leiers beoordeel persone volgens hul karakter en niks anders nie’ (vry vertaal).
Daarmee kan ons almal saam stem. Maar dieselfde beginsel moet ook geld wanneer skuld en verantwoordelikheid ter sprake is. ’n Persoon se ras kan nie bepaal of hy vir iemand anders se oortredings aanspreeklik gehou behoort te word nie.
Jansen beroep hom dus op King se beginsel wanneer hy vooroordele teen swart mense afwys, maar wyk daarvan af wanneer hy vooroordele teen wit mense aanhits.
Sy betoog wek boonop die indruk dat die swart meerderheid ’n drang na gewelddadige vergelding onderdruk en dat hierdie drang sal uitbars as wit mense hul geduld te ver beproef. Dit hou die gevaar in dat ’n diep beledigende stereotipe bevestig word: dat swart mense van nature wraaksugtig en gewelddadig is.
Swart stereotipes teenoor meningspeilings
Die voorstelling dat swart mense as groep ’n drang na gewelddadige vergelding moet bedwing, ontstel my juis omdat dit so min ooreenstem met die opvattings van gewone persone wat in Suid-Afrika woon.
Volgens ’n peiling van die Instituut vir Rasseverhoudinge (IRR) in Maart 2026 het 89% van die respondente saamgestem dat persone van verskillende rasse mekaar nodig het om vooruitgang te maak en gelyke geleenthede behoort te geniet.
’n Peiling wat die Maatskaplike Navorsingstigting (SRF) in Julie 2026 gedoen het, het getoon dat 72% van die respondente gemeen het Suid-Afrika sou slegter daaraan toe wees indien alle wit mense die land verlaat. Slegs 17% het gemeen die land sou beter daaraan toe wees.
Die IRR het verder bevind dat 70% van die respondente, onder wie 67% van die swart respondente, saamgestem het dat politici rassisme en kolonialisme as verskonings vir hul mislukkings gebruik.
Hierdie syfers beteken nie dat rassevooroordeel verdwyn het nie. Dit dui wel daarop dat gewone persone minder vyandig teenoor mekaar staan as wat baie politieke uitsprake laat blyk.
Politici, joernaliste, akademici en kommentators blaas rassevyandigheid alte dikwels aan deur vraagstukke hoofsaaklik deur ’n rassebril te beskou.
Daarin lê die ironie: terwyl Jansen persone wat plaasmoordslagoffers herdenk as rassiste probeer uitbeeld, loop hy self die gevaar om beledigende stereotipes oor swart mense te versterk.
Maar die teenstrydigheid strek verder.
Die terugkeer van ‘swart gevaar’
Jansen het hom voorheen juis teen hierdie soort rassevooroordeel uitgespreek.
In ’n lesing in Julie 2008 het hy sekere jong wit Afrikaners gekritiseer wat gebeure deur die bril van ‘swart onbekwaamheid, swart hebsug, swart barbaarsheid en swart vergelding’ beskou het (vry vertaal).
Hy het daarmee ’n bekende denkwyse aangespreek: ‘swart gevaar’ – die opvatting dat swart mense as groep ’n bedreiging vir wit mense inhou.
In Maart 2014 het Jansen weer gewaarsku teen die neiging om elke voorval van misdaad of konflik aan ras toe te skryf. Die meeste wit en swart persone in Suid-Afrika is ordentlik en wil vreedsaam saamleef, het hy aangevoer.
Hiermee kan ons ook saam stem.
Niemand behoort bloot weens sy ras as ’n bedreiging beskou te word nie. Net so kan ’n gemeenskap nie verantwoordelik gehou word vir misdade wat bepaalde lede daarvan pleeg nie.
Juis daarom is sy jongste artikel so vreemd. Indien ons Jansen se laaste stuk beoordeel blyk dit duidelik dat hy óf nie belangstel in intellektuele konsekwentheid nie, óf dat hy sy opinie verander het.
Waar Jansen vroeër die vrees vir swart vergelding as ’n rassistiese vooroordeel gekritiseer het, stel hy die uitbly van daardie vergelding nou voor as ’n besondere guns waarvoor wit mense dankbaar behoort te wees.
Hy beskou selfs ons herdenking van plaasmoordslagoffers as ’n miskenning van dié guns. Sy betoog wek die indruk dat wit mense hul optrede moet laat bepaal deur die swart meerderheid se geduld.
Daarmee roep hy juis die vrees vir ‘swart gevaar’ op waarteen hy vroeër gewaarsku het. Dit is dieselfde rassevrees wat hy vroeër veroordeel het, nou in die naam van genade.
Wat dit met die herdenking van plaasmoordslagoffers te doen het, bly onduidelik.
Jansen kan nie aan die een kant wit mense se vrees vir swart vergelding as ’n rassevooroordeel afmaak en aan die ander kant die kwansuise onderdrukking van daardie vergelding deur swart mense as ’n guns voorhou waarvoor hulle dankbaar moet bly nie.
Hy het natuurlik die reg om so te argumenteer, net soos wat ons die reg het om hom as intellektueel oppervlakkig te beskou.
Die reg om te rou
Dit bring ons terug by die 3 000 wit kruise in Washington, D.C.
Jansen bestempel die Witkruisprojek as ’n uitlokking, maar verduidelik nie wat daaraan uitlokkend was nie.
Was dit verkeerd om moordslagoffers te herdenk? Het hy aanstoot geneem omdat sommige slagoffers wit was? Of omdat ons die kruise in Washington eerder as Pretoria opgerig het? Dalk is sy eintlike beswaar bloot teen die politieke oortuigings van die organiseerders gerig.
Hy bied in elk geval geen oortuigende verduideliking nie.
Die doel van die Witkruisprojek was om die aandag op plaasmoorde te vestig en praktiese stappe teen verdere aanvalle aan te moedig. Jansen kon ons gegewens bevraagteken, ons aanbevelings kritiseer of ander oplossings voorstel.
In plaas daarvan stel hy die herdenking van moordslagoffers voor as ’n belediging vir swart mense.
Dit is ’n merkwaardige gevolgtrekking. Om die lyding van die een gemeenskap te erken, doen immers nie afbreuk aan die lyding van ’n ander nie. Tog laat Jansen se betoog my met die indruk dat hy dit anders sien.
Versoening kan tog nie beteken dat die herdenking van moordslagoffers as ’n daad van ondankbaarheid beskou moet word nie.
Jansen is geregtig om ons politieke oortuigings af te keur en met Lex Libertas te verskil. Maar as hy ’n veldtog teen plaasmoorde as ’n belediging vir rasseversoening wil veroordeel, skuld hy sy lesers meer as persoonlike beledigings en insinuasies oor historiese skuld.
Die slagoffers wat deur die kruise verteenwoordig word, verdien om onthou te word. Hul families verdien geregtigheid. Die publiek verdien ’n ernstige gesprek oor hoe verdere moorde voorkom kan word.
Daarom sal ons met die veldtog voortgaan.
Niks hiervan behoort omstrede te wees nie.