|

Menu

Mediaverklarings

Hier is die name van plaasmoordslagoffers wat op 3 000 kruise in Washington vertoon sal word

Dr. Ernst Roets
14/08/2026

"Tydens die veldtog se program in Washington sal 3 000 wit kruise vertoon word ter nagedagtenis aan slagoffers van plaasmoorde en om die menslike koste van plaasaanvalle onder die aandag van ’n internasionale gehoor te bring."

Lex Libertas het vandag ’n voorlopige lys bekendgestel met die name van plaasmoordslagoffers wat in September op 3 000 wit kruise in Washington, D.C. gedenk sal word. Die ideesentrum en voorspraakgroep doen ’n beroep op familielede, vriende en lede van die publiek om te help verseker dat die lys akkuraat en volledig is.

Die lys, wat vandag vir openbare insette gepubliseer word, bevat die name van 2 203 slagoffers wat deur ’n navorsingskomitee wat deur Lex Libertas saamgestel is, geïdentifiseer en geverifieer is. Die name sal uiteindelik op die wit kruise aangebring word wat die middelpunt van die Witkruisprojek se waak in Washington, D.C. sal vorm. Toestemming is deur die owerhede in Washington verleen om die kruise op die grasperk van die National Mall voor die Capitol-gebou, nie ver van die Withuis nie, te plant.

Die Witkruisprojek is ’n internasionale bewusmakings- en mobiliseringsveldtog wat deur Lex Libertas en die New York Young Republican Club van stapel gestuur is. Tydens die veldtog se program in Washington sal 3 000 wit kruise vertoon word ter nagedagtenis aan slagoffers van plaasmoorde en om die menslike koste van plaasaanvalle onder die aandag van ’n internasionale gehoor te bring. Die projek sluit ook ’n konferensie, ’n dokumentêre film en ’n petisieveldtog in wat daarop gemik is om minstens 100 000 handtekeninge in te samel.

‘Hierdie is nie bloot name op ’n lys nie en dit is ook nie net statistiek nie,’ sê dr. Ernst Roets, uitvoerende direkteur van Lex Libertas. ‘Elke naam verteenwoordig ’n persoon wie se lewe geneem is, ’n familie wat ’n geweldige verlies gely het en ’n verhaal wat onthou behoort te word. Ons wil seker maak dat ons dit reg doen wanneer hierdie kruise in Washington vertoon word.’

Lex Libertas het ’n komitee van vrywilligers saamgestel om die register op te stel en te verifieer. Die komitee het gevestigde navorsers, organisasies en gemeenskapsinisiatiewe geraadpleeg wat rekords van plaasmoordslagoffers bewaar het. Hofrekords, argiefberigte in die media, genealogiese rekords en onafhanklike slagofferdatabasisse is ook gebruik. Waar moontlik, is gevalle aan die hand van meer as een bron bevestig.

Vir die doel om te bepaal watter gevalle vir insluiting kwalifiseer, het die komitee die definisie van ’n plaasaanval gebruik wat deur die Suid-Afrikaanse Polisiediens gebruik word en in die National Rural Safety Strategy vervat is. Die bepalende vraag was dus of ’n persoon tydens ’n plaasaanval vermoor is.

Die lys word nietemin nie as finaal beskou nie.

Lex Libertas vra veral persone wat slagoffers van plaasmoorde geken het, of wat eerstehandse kennis van bepaalde gevalle het, om die lys noukeurig na te gaan. Die publiek word versoek om uitgelate gevalle, foutiewe spelling of enige ander inligting wat reggestel behoort te word, onder Lex Libertas se aandag te bring.

Lex Libertas versoek ook inligting oor die name waaronder slagoffers algemeen bekend was. In sommige gevalle bevat amptelike rekords verskeie voorname, terwyl die persoon moontlik deur sy of haar lewe onder ’n ander of verkorte naam bekend was. Omdat die ruimte op die kruise beperk sal wees, wil Lex Libertas waar moontlik die naam gebruik waaronder die slagoffer die beste bekend was.

‘Dit is waarom ons die families en gemeenskappe wat hierdie slagoffers onthou se hulp nodig het,’ sê Roets. ‘As jou pa, ma, oupa, ouma, vriend of buurman op hierdie lys is, kyk na die naam. Sê vir ons as ons dit verkeerd het. Sê vir ons wat die persoon genoem is. En as iemand ontbreek, laat weet ons ook daarvan.’

Roets het beklemtoon dat die White Cross Project uiteindelik bedoel is om nie net ’n boodskap van herinnering nie, maar ook van hoop uit te dra.

‘Ons gaan nie hierdie name in Washington publiseer bloot om vir die wêreld te sê dat daar ’n probleem is nie. Ons doen dit omdat ons verstaan dat steun vir oplossings slegs gewerf kan word indien die krisis eers erken word.’

Lex Libertas doen daarom ’n beroep op lede van die publiek om die breër White Cross Project te ondersteun deur die petisie te onderteken en tot die veldtog by te dra.