Lex Libertas gaan 3 000 wit kruise op die National Mall in Washington, D.C., oprig
Lex Libertas, gaan ’n openbare waak in Washington, D.C., aanbied waar 3 000 wit kruise op die National Mall vertoon
Support our mission
Die Afrikanerdroom is nie dood nie. Dit leef.
oespraak by die Orania Sakekamer
In die Orania-gemeenskapsaal
25 April 2025
Ek het onlangs die voorreg gehad om met internasionale figure soos Ben Shapiro en Tucker Carlson te gesels, nie net voor die kamera nie, maar ook in informele gesprekke agter die skerms. Hierdie gedagtewisselings het my laat nadink oor die idee van die Afrikanerdroom in die konteks van globale uitdagings.
Shapiro, Tocqueville, Vance en Carlson
Ben Shapiro is ’n sleutelfiguur in die Amerikaanse en internasionale konserwatiewe beweging. Na ons onderhoud oor die krisis in Suid-Afrika en die strewe van die Afrikaners het ons tyd gehad om sommer daar in die ateljee vir ’n ruk te kuier. Ons het gesels oor die parallelle tussen die Afrikaners en die Amerikaners, die bedreiging van linkse ideologieë en ook die regmatigheid daarvan om die belange van jou mense op ’n kultuurgrondslag te bevorder.
Ons het gesels oor die lesse wat daar uit die Suid-Afrikaanse verhaal geleer kan word. Byvoorbeeld, toegewings na linkse aktiviste werk nie, veral nie as jy dink dat jy maar toegewings kan maak omdat jy in die meerderheid is nie. Want, wanneer jy ’n minderheid word, versag die aanvalle nie, dit verskerp – iets wat die Weste gerus uit ons ervaring kan leer. Hulle moet verstaan dat ons nie agter hulle is nie, maar dat ons in belangrike opsigte reeds die pad stap wat vir baie van ons Westerse vriende nog voorlê.
Ons het gesels oor demokrasie – wat dit veronderstel is om te beteken en wat dit geword het. ’n Demokrasie wat nie kultuurdinamika erken nie, wat kultuuridentiteit as iets beskou wat in die pad van nasiebou en versoening staan en wat om daardie rede uit die weg geruim moet word, kan kwalik as ’n demokrasie beskryf word.
Dit het die gesprek gelei na die waarnemings van die Fransman, Alexis de Tocqueville, wat gedurende die 1830’s deur Amerika gereis het voor hy sy groot werk, Democracy in America, gepubliseer het. Daarin beskryf Tocqueville demokrasie as ’n soort bedeling waarin mense vry is omdat hulle aktief by hul gemeenskap betrokke is en omdat die instellings wat mense binne die konteks van die gemeenskap oprig, dien as voertuie op die pad na vryheid.
Ek het vir Shapiro skertsend gepols oor Tocqueville se opmerking dat, wanneer jy met ’n Amerikaner praat oor die politiek van ander lande, hul oë wasemrig raak en hulle nie altyd in staat is om saam te praat nie. Tog, sê Tocqueville, wanneer jy met ’n Amerikaner oor die Amerikaanse droom praat, dan helder sy oë op. Dan kan hy omtrent nie uitgepraat raak nie. Sonder dat hy veel filosofie gelees het, kan hy in filosofiese terme praat oor wat die Amerikaanse droom vir hom beteken. Maar hy kan dit ook van toepassing maak op sy alledaagse lewe.
Die Amerikaanse droom leef, het Tocqueville waargeneem, omdat dit leef in die harte van die Amerikaners, maar belangriker nog, omdat dit neerslag vind in die werk wat hulle elke dag doen, nie as vryswewende individue nie, maar as ’n gemeenskap waarin elkeen sy unieke vaardighede aanwend ter bevordering van die groter geheel. Hulle het hul nie met abstrakte teorieë en ideologieë bemoei nie. Hulle was soos klein reuse wat die moue opgerol het (my woorde, nie syne nie) en hul elke dag met die werklikheid besig gehou het. Hulle het dinge in die regte lewe gedoen wat ’n verskil in die regte lewe maak. Hul wysheid was geanker in die lesse wat hulle uit ervaring leer, voordat hulle hul tot teorie en filosofie wend.
Dit is waar, het Shapiro geantwoord. Tocqueville was reg. Maar, het hy bygevoeg, as jy die horlosie aandraai na die jaar 2025, is daar ’n debat onder konserwatiewe Amerikaners oor wat die Amerikaanse droom nou eintlik beteken. Vandag het die adjunkpresident, J.D. Vance, miskien die sterkste woordvoerder vir die idee van die Amerikaanse droom geword. Hy praat so hartstogtelik hieroor, juis omdat hy bekommerd is dat Amerika van die Amerikaanse droom vergeet het.
Vance beskryf die Amerikaanse droom as die vermoë om ’n stabiele, betekenisvolle lewe te lei, gewortel in familie, geloof, werk en gemeenskap, ongeag hoe jy groot geword het. Die idee van die Amerikaanse droom het Vance al saamgevat as die idee dat jy eendag langs jou pa en jou oupa begrawe sal word en dat jou kinders jou sal onthou as iemand wat bygedra het tot jou gemeenskap, net soos wat jou pa voor jou en jou oupa voor hom gedoen het.
Shapiro is skepties oor hierdie beskrywing en reken die Amerikaanse droom is meer materialisties. Vir baie Amerikaners is die Amerikaanse droom nie om langs jou pa begrawe te word nie, maar om na die stad te trek, daar suksesvol te wees en uiteindelik ’n duurder kar as jou pa te ry en in ’n groter huis te bly as die een waarin jy groot geword het, het hy verduidelik.
As die Amerika wat ons vandag ken ’n plek in die fantasiereeks Game of Thrones was, het hy bygevoeg, sou dit nie Winterfell, die stad met ’n antieke godsdienstige en voorgeslagtelike bewussyn, wees nie. Dit sou ook nie die korrupte hoofstad, King’s Landing, gewees het nie. Dit sou Braavos gewees het. Braavos is die plek met die groot standbeeld waar die “gesiglose mense” woon, ’n smeltpot van immigrante wat nie in die eerste plek aan ’n bepaalde kultuur of identiteit gekenmerk word nie, maar as die plek waarheen mense van regoor die groot kontinente reis op soek na materiële gewin. Die plek met die groot bank en die groot vloot, maar ’n kulturele mengelmoes.
Dit sluit aan by ’n opmerking wat Tucker Carlson gemaak het. Toe ek in 2021 in Maine by hom gekuier het, het hy hartstogtelik gepraat oor die dinge wat Amerika ’n groot nasie gemaak het, maar ook oor die eksistensiële krisis wat Amerika in die gesig staar. “As ek so na jou luister, klink dit vir my of daar iets fout is met die politiek in Amerika,” het ek myself dwaas gehou. Hy het uitgebars van die lag. “You think?” Toe vra ek vir hom: maar wat is die rede hiervoor? As hy een woord kon kies om die bron van die probleem te beskryf, wat sou dit wees?
Hy het vir ’n oomblik nagedink, vir die dak gekyk en toe een woord gesê: “Affluence”. Welvaart…
Daarmee het hy nie bedoel dat welvaart op sigself ’n slegte ding is nie, maar dat dit ’n slegte ding kan word as dit daartoe lei dat mense hul kulturele wortels verloor.
Die Afrikanerdroom
Die Amerikaanse verhaal is een van ’n magtige nasie wat ongekende politieke en ekonomiese sukses bereik het, maar in belangrike opsigte vergeet het wie hulle is, hul kultuur verloor het en dit weer moet vind … en wat as gevolg daarvan vandag ’n enorme krisis beleef. Die Afrikanerverhaal is een van ’n eens magtige nasie wat steeds ekonomies sterk is, politieke mag verloor het, maar in die warboel van hierdie onstuimigheid sy voete weer vind. Ons het ook kulturele uitdagings, maar dit is vandag veel makliker om Afrikanerkultuur te beskryf as Amerikaanse kultuur.
“There was once a dream that was Rome,” het die keiser Marcus Aurelius in die fliek Gladiator verklaar. “You could only whisper it. Anything more than a whisper and it would vanish.”
Dit bring my by die vraag: Is daar so iets soos ’n droom vir die Afrikaner? Is dit iets wat ons bind, en is dit so kwesbaar dat mens nie veel meer kan doen as om dit te fluister nie?
Laat ek die vraag sommer dadelik antwoord voordat ek dit motiveer: Die Afrikanerdroom leef. Dit is tasbaar. En dit is binne ons bereik.
Wat is die Afrikanerdroom?
As ons gevra word om die Afrikanerdroom in een woord saam te vat kan ons dit doen. Daardie woord is vryheid.
Maar wat is vryheid? Die skrywers van moderne ideologieë het hard gewerk om die idee van vryheid te korrumpeer en ’n verwronge, onchristelike, ankerlose, rigtinglose weergawe daarvan aan die wêreld voor te lê.
Nee. Ons idee van vryheid is geanker in ons Christelike, Westerse tradisie. Dit is ook nie ’n droom van vryheid vir Afrikaners ten koste van ander nie, maar ’n vryheid vanuit die vertrekpunt dat elke gemeenskap die reg op vryheid het, en dat die strewe daarna ’n eerbare strewe is – nie net vir Afrikaners nie, maar vir alle gemeenskappe.
Maar ons hoef ons nie slegs tot die groot denkers van antieke tye te wend nie. Ons eie, unieke Afrikanertradisie het veel te sê oor die betekenis van vryheid.
Maar hier is die ironie…
Die mislukking van die “nuwe” Suid-Afrika
In 1994 is die Afrikaner vryheid belowe. Daar is gesê dat ons voorouers boos en bedrieglik was, en dat die pad na vryheid opgesluit lê in die verwerping van alles wat oud is en die omhelsing van idees wat nog so nuut was dat dit ten beste as ’n eksperiment beskryf kon word.
Die belofte van vryheid was opgesluit in die idee van ’n reënboognasie waarin die diversiteit van die ganse Suid-Afrika in een geheel saamgesmelt word, asof daar nie noemenswaardige kultuur- en lewensbeskoulike verskille tussen die gemeenskappe van Suid-Afrika bestaan nie.
Hierdie belofte van vryheid was ’n misoes. Die nuwe idees het misluk, die paradys het nie wortel geskiet nie, en ons is nie vry nie.
Ons sê dit nie omdat ons dit in een of ander boek lees nie. Ons sê dit omdat ons dit elke dag beleef.
Hoe op aarde kan enigeen – of jy nou ’n Afrikaner is of nie – verklaar dat jy vry is as jy leef in ’n land waar:
In die ou dae het mense ’n muur om die stad gebou om die gemeenskap te beskerm. Vandag bou ons nie meer mure om ons stede nie, ons bou dit om ons huise. ’n Gemeenskap wie se kinders agter hoë mure grootword, wie se bejaardes in vervalle hospitale krepeer, en wie se werkendes aktief uitgesluit word, is nie ’n vry gemeenskap nie.
So kom ons sê dit maar weer, juis omdat dit omstrede is, maar omdat ons dit moet aanhou sê sodat die boodskap gehoor word, en omdat erkenning van die werklikheid die eerste voorwaarde is waaraan voldoen moet word voordat ’n oplossing gevind kan word: Afrikaners in die nuwe Suid-Afrika is nie vry nie.
As die mees basiese funksie van die staat is om lewe, vryheid en eiendom te beskerm, maar die staat misluk skouspelagtig in elkeen van hierdie funksies, hoe op aarde kan ons dit as ’n legitieme staat beskou?
Maar hier is die belangrike punt: Die mislukking van die staat en die ontkenning van ons vryheid is nie ’n gevolg van die feit dat die verkeerde persoon die president van Suid-Afrika is nie. Dit is ook nie ’n gevolg van die feit dat die verkeerde party die verkiesing gewen het nie.
Nee, dit is die onvermydelike gevolg van ’n politieke stelsel wat tot in sy wortels gebrekkig is. Dit is die politieke weergawe van die Engelse slagspreek: a square peg in a round hole.
Suid-Afrika het, soos die Engelse sal sê, ’n “one size fits all” politieke orde gekry - ’n ideologiese, globalistiese droom wat oorlog verklaar teen die werklikheid, maar voorgehou word as demokrasie. ’n Stelsel wat werk om kultuurverskille in die naam van vrede uit te wis, asof die uitwissing wat voorgeskryf word nie op sig self vrede ondermyn nie. ’n Politieke orde geskoei op ’n ideologie wat harmonie en versoening beloof, maar in die praktyk tot ontnugtering lei.
Maar die storie eindig nie daar nie.
’n Herontdekking
Net soos die Amerikaners begin om te onthou wat hulle eenmaal was, is die Afrikaners besig om te herontdek wie ons steeds is.
Ons padkaart na vryheid is nie gebou op nuwe, ideologiese of utopiese voorskrifte nie. Dit is gebaseer op lesse uit die werklikheid, op die goeie en die skone wat ons uit ons verlede neem.
Daarom verstaan ons dat vryheid nie iets is wat van bo af geëis word nie. Dit is iets wat van onder gebou word.
Ons verstaan dat die toekoms nie behoort aan die politici, kommentators of akademici wat in lugversorgde kantore in hoë geboue dokumente opstel in ’n poging om voor te skryf wat die werklikheid moet wees nie – wat die werklikheid by hul ideologie wil laat aanpas, eerder as om hul ideologie by die werklikheid aan te pas.
Die toekoms behoort:
Ons glo dit, omdat ons ook glo dat om vryheid van onder te bou, nie net in ons eie belang is nie, maar omdat ons daardeur ook ’n weg baan wat gevolg kan word deur enige gemeenskap wat, soos ons, oortuig is dat ’n volk homself red deur vryheid van onder te bou voordat dit van bo af geëis word.
Die Afrikanerdroom is nie ’n utopie nie. Ons glo nie silwerkoeëls of finale oplossings nie. Ons verstaan dat mense sondige, gebroke wesens is wat bose dinge kan aanvang. Maar ons verstaan ook dat mense na God se beeld geskape is en dat ons wonderlike dinge kan doen en groot hoogtes kan bereik as ons die visier van ons drome op Hom en op ’n hoër doel rig.
Ons glo nie in ’n toekoms sonder kwaal of skeet nie, maar ons weet dat ’n volk in die spektrum van dinge vorentoe of agtertoe kan beweeg, en dat ons deur ons doen en late dinge beter of slegter kan maak.
Ons vryheidsideaal is nie geskoei op die idee dat ons volmaaktheid kan bereik nie, maar wel dat ons vooruit kan gaan en dinge beter kan maak; dat ons die skat wat ons van ons voorouers geërf het, veilig deur die skare kan dra, maar selfs meer as dit, dat ons by hierdie skat kan voeg voordat dit aan ons kinders oorhandig word. Dat ons nie net My Sarie Marais en Ken jy die Land met ons kinders sing nie, maar dat ons ook nuwe liedjies sal skryf wat hulle om die kampvuur sal sing; dat ons nie net Geknelde Land en Kringe in die Bos vir ons kinders sal lees nie, maar dat ons nuwe boeke sal skryf wat ons kinders eendag vir hul kinders kan lees; en dat ons nie net Winternag en Skoppensboer vir ons kinders voorsê nie, maar dat ons self ook nuwe gedigte sal skryf wat ons kinders sal lees en waardeer.
En as ons werk vir ’n beter politieke orde, gee ons toe dat dit verskillende vorme kan aanneem, maar ons weet ook dat dit slegs wortel sal skiet as dit in die goeie grond geplant is. Hierdie “goeie grond” vereis egter ’n paar bestanddele:
Hierdie dinge is noodsaaklik, want ’n stelsel waarin gemeenskappe mekaar erken, hulleself regeer en verskille respekteer, is nie net moontlik nie, maar goed en nodig.
Daar is baie om oor bekommerd te wees, baie om oor pessimisties te wees. As ons vandag ’n lysie moet maak van al die dinge wat ons bekommer, sal ons mekaar lekker warm kan praat. Maar daar is ook baie om oor optimisties te wees.
Ons jeug
Ek het net so 'n paar maande oor voordat ek amptelik 'n middeljarige man is. Maar ek kan reeds sien dat jonger generasies dinge anders doen as ek, anders dink as ek, grappe maak wat ek nie altyd verstaan nie, musiek luister wat vir my vreemd op die oor val, en voorkeure het wat nie altyd vir my sin maak nie. My instink is, soos dié van elke generasie voor my, om te kla oor "die jeug van vandag". Daar is inderdaad baie om oor te kla. Maar ons moet ook verstaan dat die frustrasie van ouer mense met die gedrag van jonger mense nie tot ons tyd en omstandighede beperk is nie. Dit is so oud soos die mensdom self. Plato kla oor die Atheense jeug in sy groot werke. Cicero kla oor die Romeinse jeug wanneer hy in die senaat sy bekende slagspreuk, "o tempore, o mores!" (o die tye, o die sedes!) uitbulder. My oupa en ouma se generasie was bekommerd oor my pa en ma se generasie, net soos wat hul ouers oor hulle bekommerd was.
Maar tog dink ek dat ons Afrikanerjeug sterk is. Dalk sterker as wat ons dink:
Hul groot geskenk is dat hulle nie die bagasie dra wat hul onmiddellike voorgeslagte dra nie. In soverre as wat daar gepoog word om hierdie bagasie op hul rûe te pak, gooi hulle dit eenvoudig af. Hulle is nie naïef nie, maar waagmoedig – meer waagmoedig as hul ouers. En ons leef in 'n tyd waar ons meer, eerder as minder, waagmoedigheid benodig.
Hulle is nie vasgevang in ou argumente nie. Hulle ontwikkel hul eie argumente, nuwe argumente, maar nie nuut omdat dit ontwortel is nie, nuut omdat dit spreek tot die uitdagings van ons tyd.
Dit is hulle wat die droom sal erf – nie as 'n relikwie uit die verlede nie, maar as 'n kompas wat die rigting aandui na 'n beter toekoms.
Die droom leef
Daarom het ek vandag met 'n huppel in my stap hier aangekom. Daarom buig ek nie vooroor omdat ek teneergedruk is nie, maar omdat ek gretig is om die toekoms aan te gryp, om my hande vuil te maak, juis omdat ek weet dat ek nie alleen is nie.
Ons is nie hier, soos Marcus Aurelius gesê het, om saggies te fluister oor ons drome nie – saggies, omdat ons vrees dat enigiets meer as 'n fluister dit sal laat verwaai. Ons droom is diep gewortel, dit is eerbaar, en dit is reg. Ons staan aan die regte kant van die geskiedenis.
Die Afrikanerdroom leef. Dit is tasbaar. En dit is binne ons bereik.
Dit is die droom van 'n kind om buite te speel sonder vrees,
Daarom hoef ons nie te fluister nie. Ons kan dit maar uitbasuin. Ons kan op 'n berg klim en dit uitskree: Ons is Afrikaners, ons sal Afrikaners bly, en ons sal weer vry wees!
Ons deel vandag nie net ons drome nie, maar 'n boodskap aan die wêreld: dat ware vryheid nie gevind word in abstrakte vooruitgang nie, maar in gebed, gemeenskap en geloof, in die herontdekking van ou wyshede eerder as die ontwikkeling van nuwe eksperimente.
Nietzsche het verklaar: "God is dood! God bly dood. En ons het hom doodgemaak." Nietzsche was verkeerd: God is nie dood nie, God leef voort, en ons is slegs daartoe in staat om die dinge te doen wat binne Sy wil val.
God leef. Ons ervaar die krag van Sy werk elke dag wanneer die son opkom, elke keer wanneer 'n baba gebore word, en elke keer wanneer ons van 'n geliefde afskeid neem. Ons sien dit in die natuur, ons ruik dit in die veld, ons hoor dit in ons taal, ons voel dit in ons liefde… en ons proe dit, nie net in die spys en drank wat Hy elke dag beskik nie, maar ook in ons roeping, in ons drome, en in die mate waarin ons daarin slaag om hierdie droom 'n werklikheid te maak wanneer ons die moue oprol en ons werk doen.
Daarom sal ons bou. Nie omdat dit maklik is nie, nie omdat ons al die oplossings het nie, en ook nie omdat ons in onsekere tye die toekoms kan voorspel nie, maar omdat dit reg en eerbaar is. Nie omdat ons dit op ons eie moet doen nie, maar omdat ons daarvoor begeester is, juis omdat ons glo dat dit ons roeping is, en omdat ons as 'n gemeenskap en as burgers van daardie gemeenskap in die uitleef van ons roeping vervulling vind.
Die Afrikanerdroom is nie dood nie. Dit leef in ons taal, in ons kultuur, en in ons tradisie. Dit leef voort in ons lag en in ons huil, in die werke van ons hande, in die grond onder ons voete.
Daarom kan ons verklaar:
Vryheid en vrede
is nie 'n gegewe;
dis iets wat van onder gebou word.
En as ons gebede
ons daartoe begewe,
mag ons kanse tog nie verbrou word.
Maar as ons ons gawes
in ons tyd op aarde
benut sonder skroom deur die waag,
sal ons in die hawe
van roeping na waarde
vervul word soos Hy dit behaag.
Verken meer inhoud oor soortgelyke onderwerpe
Lex Libertas, gaan ’n openbare waak in Washington, D.C., aanbied waar 3 000 wit kruise op die National Mall vertoon
Lex Libertas & New York Young Republican Club (NYYRC) gesamentlike mediaverklaring
Gesamentlike Mediaverklaring - Lex Libertas & New York Young Republican Club (NYYRC)