|

Menu

Mediaverklarings

Suid-Afrika se rasgebaseerde huurbeleid vir plaasgrond versterk die saak van minderheidsvervolging

Dr. Ernst Roets
18/10/2026

'Wanneer die staat miljoene hektaar landbougrond besit en volgens velkleur besluit wie dit mag bewerk, is dit nie 'n alleenstaande fout nie.'

Pretoria – Die ideesentrum en voorspraakgroep, Lex Libertas, berei 'n verslag voor oor die vernietigende rasgebaseerde uitsluiting in die staat se grondbeleid, en sal môre 'n ontmoeting met die minister van Grondhervorming en Landelike Ontwikkeling aanvra. Dit volg op die departement se advertensies wat wit mense verbied om staatsplaasgrond te huur, ongeag hul vaardigheid.

Volgens Lex Libertas versterk die beleid die betoog dat Suid-Afrika 'n proses van minderheidsvervolging deurmaak.

Die departement se advertensies van 2026 vir staatsplase in onder meer Mpumalanga en die Wes-Kaap noem as eerste geskiktheidsvereiste dat 'Applicants must be Africans, Indians, and Coloureds who are South African citizens.' Wit aansoekers word uitgesluit, ongeag hul boerdery-ervaring of -vermoë. Dié advertensies val saam met president Cyril Ramaphosa se aankondiging op 12 Oktober dat die regering sowat 2,5 miljoen hektaar staatsgrond aan swart boere beskikbaar stel.

'Dit is die staat se eie dokumente. Niemand hoef dit te vertolk of uit te lek nie,' het dr. Ernst Roets, uitvoerende direkteur van Lex Libertas, gesê. 'Wanneer die staat miljoene hektaar landbougrond besit en volgens velkleur besluit wie dit mag bewerk, is dit nie 'n alleenstaande fout nie. Dit pas in 'n patroon van wette en beleid wat minderhede uitsonder, en dit versterk die betoog dat minderheidsvervolging in Suid-Afrika plaasvind.'

'Regeringsbeleid behoort ekonomies lewensvatbaar te wees en tot groei en voorspoed by te dra,' het Roets gesê. 'Voedselsekerheid en landelike werkgeleenthede hang daarvan af, en so ook die basiese beginsel van gelykheid voor die reg.'

Lex Libertas sal die verslag gebruik om met die minister in gesprek te tree en, indien nodig, sy plaaslike en internasionale veldtogte voort te sit.

Die huuradvertensies kan hier besigtig word: