|

Menu

Mediaverklarings

Suid-Afrika se “Nasionale Dialoog” sal nie tot ’n oplossing bydra nie

Lex Libertas
06/08/2025

Mediaverklaring oor Suid-Afrika se “Nasionale Dialoog”

Lex Libertas Mediaverklaring 6 Augustus 2025 VIR ONMIDDELLIKE PUBLIKASIE ### Suid-Afrika se “Nasionale Dialoog” sal nie tot ’n oplossing bydra nie Pretoria — Die dinkskrum en voorspraakgroep, Lex Libertas beskryf die Suid-Afrikaanse regering se voorgestelde “Nasionale Dialoog” as ’n duur en ondoeltreffende afleiding wat die nodige konstitusionele hervormings sal vertraag, eerder as om dit te bevorder. President Cyril Ramaphosa het die inisiatief aangekondig ná toenemende internasionale kommer oor Suid-Afrika se agteruitgang — gekenmerk deur destruktiewe beleid, algehele staatsverval en die vervolging van minderheidsgemeenskappe. Tog dui Lex Libertas in sy jongste verslag, Reclaiming Freedom, aan dat hierdie faktore nie die krisis self verteenwoordig nie, maar simptome is van ’n dieper, sistemiese probleem. Suid-Afrika is groot, uiters divers en ekonomies kwesbaar, maar word beheer deur ’n selfverklaarde ras-nasionalistiese, sosialistiese regering wat in wese sentralisties is en toenemend van die werklikhede op grondvlak verwyder is. Die voorgestelde Nasionale Dialoog, wat na raming meer as R700 miljoen (ongeveer $40 miljoen) sal kos, word gelei deur ’n sogenaamde groep van uitnemende persone. Tog is die struktuur van die inisiatief duidelik ontwerp om stemme wat die ANC se ideologiese wêreldbeskouing deel te versterk, terwyl afwykende standpunte gemarginaliseer word. Volgens Dr Ernst Roets, uitvoerende direkteur van Lex Libertas: “Die Suid-Afrikaanse politieke bestel is soos ’n huis wat besig is om in te stort, en hierdie Nasionale Dialoog is ’n gesprek oor hoe die krake oorgeverf moet word. Wat nodig is, is nie kosmetiese aanpassings nie, maar ’n heroorweging van die fondament waarop die huis gebou is. Daardie fondament moet desentralisasie en selfregering vir die uiteenlopende gemeenskappe van Suid-Afrika wees.” Lex Libertas is ’n ideesentrum en voorspraakgroep wat werk vir ’n lewensvatbare politieke bedeling vir die bevolkingsgroepe van Suid-Afrika, gebaseer op vryheid, desentralisasie en selfregering. Om by Lex Libertas se medialys gevoeg te word, kontak: media@lexlibertas.org.za