|

Menu

Mediaverklarings

Ramaphosa se G20-toespraak beklemtoon die behoefte aan konstitusionele hervorming

Lex Libertas
30/11/2025

President Ramaphosa se regstreekse toespraak beklemtoon waarom Suid-Afrika dringend betekenisvolle grondwetlike hervorming benodig.

Mediaverklaring 30 November 2025

VIR ONMIDDELLIKE INTERNASIONALE VRYSTELLING

Ramaphosa se G20-toespraak beklemtoon die behoefte aan konstitusionele hervorming

Pretoria — Die ideesentrum en voorspraakgroep, Lex Libertas het tot die gevolgtrekking gekom dat President Cyril Ramaphosa se regstreekse toespraak oor die G20 onderstreep waarom Suid-Afrika dringende konstitusionele hervorming ten gunste van desentralisasie en selfbestuur benodig.

Die President het internasionale kommer oor daadwerlike krisisse in Suid-Afrika as “ongegronde aantygings” afgemaak en “groepe en individue” daarvan beskuldig dat hulle kwansuis verkeerde inligting versprei. Dit staan egter in skerp kontras met die werklikheid in Suid-Afrika. Soos Lex Libertas reeds uitgelig het, bly die Suid-Afrikaanse regering die verydelaar van die krisisse waarvoor hy self verantwoordelik is — insluitend geteikende geweld, diskriminerende wetgewing en die voortdurende strewe na onteiening sonder vergoeding. Die President veroordeel beweerde wanvoorstellings in die buiteland terwyl hy terselfdertyd tuis beleid handhaaf wat verdeeldheid aanwakker en basiese vryhede ondermyn.

Dr Ernst Roets, uitvoerende direkteur van Lex Libertas, beskryf die President se beroep op “dialoog” as oneg. “Die Nasionale Dialoog wat hy aanprys, sluit konsekwent stemme uit wat daadwerlike bekommernisse opper. Die oproep dat burgers Suid-Afrika se probleme binne Suid-Afrika moet oplos, klink hol wanneer die regering self die bestaan van hierdie probleme ontken en weinig bereidheid toon tot werklike gesprekvoering.”

Suid-Afrika kan nie betrekkinge met die Verenigde State — of die breër internasionale gemeenskap — herstel terwyl dit voortgaan om sy eie regeringsmislukkings te ontken nie. Om vertroue te herstel vereis meer as toesprake; dit vereis strukturele hervorming wat gemeenskappe bemagtig, die misbruik van gesentraliseerde mag beperk, en die grondslag lê vir ’n lewensvatbare politieke orde.

Lex Libertas sal voortgaan om vir sodanige hervormings te pleit en vir ’n eerlike erkenning van die land se toenemende krisis.

Lex Libertas is ’n ideesentrum en voorspraakgroep wat werk vir ’n lewensvatbare politieke orde vir die gemeenskappe van Suid-Afrika, gegrond op die beginsels van vryheid, desentralisering en selfbestuur.