President Cyril Ramaphosa se regering kan aanhou om groeiende internasionale bekommernis oor die krisisse in Suid-Afrika te probeer afmaak, maar die werklikheid is onafwendbaar. Die feit bly staan dat Suid-Afrika in ernstige moeilikheid is — en geen hoeveelheid ontkenning of skuldverskuiwing (of die vreemde kombinasie van die twee) gaan dit oplos nie. Ek gebruik doelbewus die woord “krisisse”, want Suid-Afrika het nie bloot één uitdaging nie. Dit ly aan ’n samesmelting van veelvuldige krisisse terselfdertyd.
Dit sluit in:
- Die gevolge van ’n destruktiewe ekonomiese beleid
- Staatsverval
- Uiterse vlakke van korrupsie
- Onbeheerste, gewelddadige misdaad
- Die vervolging van minderheidsgemeenskappe
Die President wil hê die wêreld moet glo dat toenemende internasionale druk bloot die gevolg is van “waninligting” deur onbekende groepe en individue. Tog behoort enigiemand wat ’n dag in Suid-Afrika deurgebring het te kan sien dat hierdie bewering misleidend is. Enigiemand wat die nuus volg, weet dat die land se trajek nie afgemaak kan word as blote sameswerings nie.
Wat dikwels in die debat verlore raak, is dat hierdie krisisse met mekaar verbind is. Dit is nie eenvoudig ’n toevallige samekoms van losstaande probleme wat tegelykertyd ontstaan nie. Gesamentlik wys dit op ’n politieke bedeling wat op sy fondamente wankel.
Dat Ramaphosa op hierdie kritiek reageer deur dit as “ongegronde aantygings” af te maak, is nie ’n strategie nie; dit is ontduiking. Erger nog, dit skaad die land se geloofwaardigheid op ’n tydstip wanneer internasionale beleggers, buitelandse regerings en wêreldinstansies reeds skepties is oor Suid-Afrika se stabiliteit. Hoe meer die regering daarop aandring dat die probleme nie bestaan nie, hoe meer bevestig dit aan die wêreld dat hy onwillig — of onbekwaam — is om dit aan te spreek.
Dit beteken nie dat Suid-Afrika se toekoms gedoem is nie. Inteendeel, sekere kernbeleidsverskuiwings kan baie help om vertroue te herstel. ’n Duidelike verbintenis tot die oppergesag van die reg, die prysgee van gerasialiseerde ekonomiese wetgewing soos BEE, en die beskerming van eiendomsreg sal elkeen ’n sterk sein stuur dat Suid-Afrika ernstig is oor hervorming. Selfs hierdie maatreëls alleen sal help om markte te kalmeer, beleggers gerus te stel, en diplomatieke betrekkinge te stabiliseer.
Tog sal selfs hierdie aanpassings — hoe belangrik ook al — nie genoeg wees nie.
Suid-Afrika se kernprobleem is nie bloot beleidsmislukking nie; dit is die gesentraliseerde aard van die politieke orde self. Vir dekades is te veel mag in ’n nasionale regering gekonsentreer wat toenemend onbevoeg is om dit te bestuur. Dit is nie net waar van die ANC nie — dit was ook waar van die Nasionale Party vóór hulle, en van Suid-Afrika as Unie onder die Britse Ryk vóór dit. Die punt is dus nie om terug te keer na die verlede nie, maar om weg te beweeg van die strukturele kenmerk wat mislukking onder die Britte, die Nasionale Party en nou die ANC aangedryf het.
Die gevolge van ’n hoogs gesentraliseerde staat wat oor ’n groot en uiteenlopende grondgebied regeer, is voorspelbaar: staatsverval op elke vlak, gemeenskappe wat aan hul eie lot oorgelaat word, en ’n politieke elite wat teen aanspreeklikheid geïsoleer is — stadig om op te tree wanneer dit nodig is, maar haastig om sy eie mag te konsolideer.
Wat die land werklik benodig, is betekenisvolle desentralisasie en opregte selfbestuur vir sy uiteenlopende gemeenskappe. Dit is nie ’n radikale idee nie. Oor die wêreld heen het gedesentraliseerde regeringsvorme hulself bewys as stabiliserende kragte, veral in samelewings met groot diversiteit en historiese spanning. Dit stel gemeenskappe in staat om hul eie sake te bestuur, verbeter optrede van die staat, en verlig die las op ’n nasionale sentrum wat reeds besig is om in duie te stort.
Suid-Afrika se krisisse gaan nie verdwyn nie. En dit gaan nie opgelos word deur ontkenning, verdraaiing of regeringsverklarings nie. Die wêreld kyk — en toenemend verloor dit geduld. As Suid-Afrika sy internasionale aansien wil herstel en langtermynstabiliteit wil verseker, moet dit die beginsel van selfbestuur omhels. Dit begin met desentralisasie, versterkte gemeenskapsoutonomie en ’n terugkeer na die grondbeginsels van ’n regverdige en lewensvatbare konstitusionele orde.
Dr Ernst Roets is die Uitvoerende Direkteur van Lex Libertas
Steun die werk van Lex Libertas hier