Slagoffers van plaasaanvalle neem deel aan Witkruisprojek-konferensie en waak in Washington
Die drie deelnemers is Amanda Platt, Heidie Taljaard en Leon Lotz. Elkeen sal ’n ander perspektief op die menslike gevolge van plaasaanvalle bied.
Support our mission

"Tog wil dit voorkom asof News24 óf vergeet het wat ondersoekende joernalistiek is, óf ideologiese voorspraak belangriker as die waarheid ag."
Met die opkoms van podsendings, YouTube en alternatiewe media oor die algemeen, vier baie mense die agteruitgang van die hoofstroommedia. Die hoofstroommedia se geloofwaardigheid het die afgelope paar jaar ernstige skade gely, en hulle dra in groot mate self die verantwoordelikheid daarvoor.
Ons moet egter waak daarteen om die baba saam met die badwater uit te gooi. Een van die mees waardevolle funksies van die media, soos ons dit tradisioneel geken het, is ondersoekende joernalistiek.
Ondersoekende joernalistiek vervul ’n onmisbare rol in enige vrye samelewing. Organisasies wat lede van die publiek vra om hulle met hul geld te vertrou, moet bereid wees om rekenskap te gee. Die publiek het elke reg om te weet of sulke organisasies hul finansies verantwoordelik bestuur. Waar daar bewyse van korrupsie, finansiële wanbestuur, selfverryking of die misbruik van skenkersfondse bestaan, het joernaliste nie net die reg om dit bloot te lê nie – hulle het ’n plig om dit te doen. Dit geld des te meer vir regerings, aangesien ons, anders as met lidmaatskap van ’n nie-regeringsorganisasie, nie so maklik kan besluit om op te hou belasting betaal nie.
News24 het die afgelope naweek onthullings oor die finansies van AfriForum – waarskynlik die grootste nie-regeringsorganisasie in Suid-Afrika – gepubliseer. Met ’n opskrif soos ‘Inside AfriForum’s money machine: How lobby group splurges on salaries, marketing’ verwag die leser vanselfsprekend dat daar 'n ernstige skandaal ontbloot gaan word.
Ter wille van deursigtigheid moet ek noem dat ek van 2010 tot 2023 by AfriForum werksaam was.
As voormalige werknemer het 'n vreemde teenstrydigheid my egter opgeval toe ek News24 se ondersoek noukeurig deurgelees het. Die opskrifte en die wyse waarop die ondersoek aangebied word, skep die indruk dat lesers op die punt staan om ’n groot finansiële skandaal te ontdek. Wanneer ’n mens egter deur die bewyse werk wat aangebied word, realiseer die beloofde skandaal nooit. Daar is geen bewerings van bedrog, diefstal, onregmatige uitgawes, rekeningkundige ongerymdhede of die misbruik van skenkersgeld nie. News24 probeer eerder om doodgewone kenmerke van ’n groot voorspraakorganisasie – soos salarisse, bemarking, werwing en reisuitgawes – as inherent verdag voor te stel.
As ’n beginselsaak behoort openbare instellings deursigtig oor hul finansies te wees. Daarom behoort ons geen beswaar daarteen te hê dat News24 vrae oor AfriForum se finansies vra nie. Dit is nie die probleem nie. Die probleem is egter dat die ondersoek, nadat geen bewyse van finansiële wanbestuur gevind kon word nie, ’n indruk van skandaal probeer skep deur gewone organisatoriese praktyke voor te stel asof dit onthullings van wangedrag is.
Die toon van die ondersoek, sowel as die kommentaar deur News24 se joernaliste, die redaksie en ideologiese ondersteuners (insluitend Max du Preez), skep die indruk dat lesers op die punt staan om ernstige finansiële wanbestuur te ontdek. Nadat ’n mens die ondersoek egter volledig gelees het, bly die skandaal opvallend afwesig.
News24 maak geen bewerings van bedrog nie. Dit maak geen bewerings van diefstal nie. Dit maak geen bewerings van korrupsie of onregmatige uitgawes nie. Dit maak geen bewerings van rekeningkundige ongerymdhede of gekwalifiseerde oudits nie. Hoewel News24 die indruk probeer skep dat skenkersfondse vir private selfverryking aangewend is, bied dit geen bewyse om dié bewering te staaf nie.
Die sentrale onthulling is dat AfriForum aansienlike bedrae aan salarisse, bemarking en werwing bestee. Dit is nie verbasend nie. Dit is juis die soort uitgawes wat ’n mens sou verwag van ’n groot voorspraakorganisasie wat honderde persone in diens het, regsgedinge voer, veldtogte bedryf, gemeenskappe mobiliseer en ’n landswye teenwoordigheid handhaaf. Om dit as die een of ander skandaal voor te hou, is soos om te beweer dat iemand wat Age of Empires speel, kul wanneer hy ’n groot deel van sy hulpbronne aan dorpenaars en mynbou bestee. Ons weet immers dat daar geen ander manier is om te wen (in die speletjie), of sukses te behaal (met 'n nie-regeringsorganisasie), as om juis dít te doen nie.
’n Ondersoek wat geen finansiële wanbestuur blootlê nie, kan heeltemal tereg tot die gevolgtrekking lei dat die organisasie eenvoudig goed bestuur word. Trouens, dit is presies wat uit die finansiële state blyk. News24 kon net sowel sy bevindings onder die volgende opskrif gepubliseer het: 'Binne AfriForum se finansies: Hoe om ’n nie-regeringsorganisasie verantwoordelik te bestuur.'
In plaas daarvan lyk dit asof News24 vasbeslote is om lesers te oortuig dat gewone uitgawes verdag is bloot omdat die organisasie ter sprake AfriForum is.
Die olifant in die vertrek is nie AfriForum of sy finansies nie. Dit is die News24-redaksie se meedoënlose ideologiese strewe.
Die kern van News24 se kritiek is die bewering dat slegs ’n betreklik klein persentasie van AfriForum se uitgawes aan ‘werklike projekte’ bestee word, terwyl veel groter bedrae aan salarisse en bemarking bestee word. Hierdie onderskeid is uiters misleidend, aangesien dit veronderstel dat ’n nie-regeringsorganisasie projekte sonder personeel kan uitvoer.
AfriForum is nie ’n konstruksiemaatskappy wat bakstene en masjinerie aankoop nie. Dit is ’n voorspraakorganisasie. Sy werksaamhede behels regsgedinge, navorsing, gemeenskapsorganisering, beleidsontwikkeling, buurtwagte, veldtogte, mediaskakeling en openbare opvoeding. Elkeen van hierdie werksaamhede is hoofsaaklik van kundige personeel afhanklik. En kundige personeel moet salarisse ontvang.
Om personeelkoste voor te stel asof dit op die een of ander wyse van projekuitvoering losstaan, toon ’n wesenlike wanbegrip van hoe kennisgebaseerde organisasies funksioneer. Trouens, by talle organisasies sonder winsbejag word personeelkoste regstreeks aan programuitgawes toegedeel, juis omdat dit die personeel is wat die programme uitvoer.
Hierdie bewering deur News24 kan slegs dui op ’n merkwaardig oppervlakkige begrip van hoe ’n nie-regeringsorganisasie funksioneer, of op ooglopende kwaadwillige bedoelings … of albei.
News24 bestee ook heelwat aandag aan die vergoeding van senior werknemers en skep duidelik die indruk dat lesers tot die gevolgtrekking moet kom dat hierdie salarisse buitensporig is. Dit het egter gou duidelik geword dat News24 se beriggewing oor die vergoeding van senior werknemers gebrekkig is. Dit blyk onder meer uit die bewerings oor Werner Human se salaris, ten spyte daarvan dat Human tot op hede in diens van die Solidariteit Beweging was, en nie AfriForum nie. Volgens Kallie Kriel van AfriForum en Dirk Hermann van Solidariteit het Human nog nooit ’n sent van AfriForum ontvang nie. News24 was dus nie net verkeerd met die bewering dat Human deur AfriForum betaal word nie. Die salaris wat in die beriggewing aan hom toegeskryf word, is boonop aansienlik hoër as sy werklike salaris, wat deur die Solidariteit Beweging Trust betaal word.
Met ander woorde laat News24 ons met niks meer as misleidende gevolgtrekkings en ongegronde insinuasies nie – beskuldigings sonder enige grondslag.
Dit gesê, is dit heeltemal redelik dat senior werknemers van AfriForum goeie salarisse verdien, aangesien die organisasie ’n jaarlikse omset van meer as R200 miljoen het en honderde persone in diens neem.
AfriForum het bestuurders, ervare advokate, navorsers, finansiële beroepslui, veldtogbestuurders en spesialiste op ’n wye verskeidenheid terreine in diens. Baie van hierdie werknemers sou aansienlik meer in die private sektor kon verdien. Hulle bly omdat hulle in die organisasie se missie glo, nie omdat AfriForum buitengewoon ruim vergoeding bied nie. Ek het self by AfriForum gewerk met die wete dat, indien geld my dryfveer was, ek eerder ’n advokaat moes word of die sakewêreld moes betree. Ek het die vooruitsig om meer te verdien van die hand gewys omdat ek vir ’n organisasie wou werk waar ek persoonlike vervulling kon ervaar.
Tog streef AfriForum, soos enige professioneel bestuurde organisasie, daarna om markverwante salarisse te betaal en doen die organisasie dit volgens die Patterson-graderingstelsel. Dit is bloot goeie korporatiewe bestuur. Organisasies wat bekwame werknemers deurgaans te min betaal, verloor hulle uiteindelik. Skenkers verwag tereg dat hul bydraes verantwoordelik bestuur word. Dit sluit in dat die organisasie bekwame personeel behou. As ’n lid van AfriForum verwag ek dat my bydrae onder meer aangewend word om te verseker dat personeel behoorlik vergoed en nie uitgebuit word nie. Die wete dat personeel goed vergoed word, gee my as lid die versekering dat die organisasie verantwoordelik bestuur word. Tog probeer News24 om ’n grondliggende beginsel van goeie korporatiewe bestuur as bewys van ’n skandaal voor te hou.
Ek het geen behoefte om te weet wat Kriel as uitvoerende hoof verdien nie. Ek weet dat sulke besluite deur die direksie, met die insette van eksterne raadgewers en volgens behoorlike korporatiewe bestuursprosesse geneem word. Wat ek wel weet, is dat sy salaris aansienlik hoër sou wees indien hy die uitvoerende hoof van ’n winsgewende private maatskappy van dieselfde omvang was.
Ironies genoeg wys van die sterkste bewyse in News24 se eie ondersoek in presies die teenoorgestelde rigting as wat die opskrif te kenne gee.
Die finansiële state toon ’n organisasie wat jaarliks geoudit word en skoon oudits ontvang. News24 bied geen bewyse van bedrog, onregmatige uitgawes, rekeningkundige ongerymdhede of die misbruik van skenkersfondse nie. Tog probeer News24 die leser teen AfriForum draai deur twyfel te saai sonder om enige bewyse daarvoor aan te bied.
Lesers word gemanipuleer om wangedrag af te lei uit uitgawekategorieë wat volkome wettig en heeltemal normaal is.
Hierdie onderskeid is belangrik, veral wanneer ’n mens in gedagte hou dat News24 die grootste nuusplatform in Suid-Afrika is. Daar is ’n wesenlike verskil tussen die bewys van wangedrag en die aanmoediging van agterdog.
Nog ’n opvallende kenmerk van die ondersoek is die mate waarin finansiële beriggewing met politieke karakterisering verweef word.
Lesers word herhaaldelik daaraan herinner dat AfriForum ’n ‘Afrikanernasionalistiese’ organisasie is. Daar word verwys na ‘nostalgie oor die apartheidstydperk’, bewerings van ‘staatsverval’ en ‘sogenaamde kulturele outonomie’. Of ’n mens met hierdie beskrywings saamstem, is nie ter sake nie. Dit is nie finansiële bevindings nie. Dit verduidelik nie die finansiële jaarstate nie. Dit help lesers ook nie om te verstaan hoe skenkersgeld bestee word nie.
Die funksie daarvan is geheel en al retories eerder as bewysmatig. Dit dien om ’n meesterverhaal te vorm en die oningeligte leser, in die afwesigheid van bewyse, tot verkeerde gevolgtrekkings te lei.
Goeie ondersoekende joernalistiek behoort die feite vir hulself te laat spreek. Wanneer politieke beskrywings herhaaldelik saam met andersins gewone finansiële inligting aangebied word, is lesers geregtig daarop om te vra of die beriggewing hoofsaaklik daarop gemik is om die organisasie se finansies te ondersoek, of om ’n bestaande meesterverhaal oor die organisasie te versterk.
Uiteindelik beoordeel News24 AfriForum bykans uitsluitlik aan die hand van rekeningkundige kategorieë.
’n Voorspraakorganisasie bestaan om resultate te behaal. Dit poog om beleid te beïnvloed, belangrike regsgedinge te voer, gemeenskappe te organiseer, regte te beskerm, navorsing te doen en die publiek te oortuig. Al hierdie werksaamhede vereis mense, kundigheid en doeltreffende kommunikasie. En dit alles verg finansiering.
Die belangriker vraag is dus nie watter persentasie van die uitgawes onder ’n bepaalde rekeningkundige opskrif verskyn nie, maar of die organisasie waarde lewer aan die persone wat dit ondersteun.
Van die vrae wat News24 nie vra nie, sluit die volgende in:
Hierdie vrae is vir skenkers veel belangriker as die persentasie wat aan bemarking bestee word.
Finansiële state is belangrik, maar dit kan nie op sigself vir ons sê of ’n voorspraakorganisasie suksesvol is nie. As jy AfriForum oordeel volgens News24 se eie bewyse, blyk AfriForum ’n professioneel bestuurde organisasie te wees, met skoon oudits, markverwante vergoeding en gewone bedryfsuitgawes. As dit die sterkste saak is wat ná ’n omvattende ondersoek na AfriForum se finansies uitgemaak kan word, is die werklike storie nie dat AfriForum ’n finansiële skandaal het nie. Die werklike storie is dat News24 probeer het om ’n skandaal te skep waar daar nie een is nie.
Om billik te wees, sommige persone wat by News24 werk het in die verlede bewys dat hulle goeie ondersoekende joernaliste kan wees. Tog wil dit voorkom asof News24 óf vergeet het wat ondersoekende joernalistiek is, óf ideologiese voorspraak belangriker as die waarheid ag.
Ernst Roets
Dr. Roets is uitvoerende direkteur van Lex Libertas.
Verken meer inhoud oor soortgelyke onderwerpe
Die drie deelnemers is Amanda Platt, Heidie Taljaard en Leon Lotz. Elkeen sal ’n ander perspektief op die menslike gevolge van plaasaanvalle bied.
‘Crossed Out is bedoel om internasionale gehore te help verstaan nie net wat in Suid-Afrika gebeur nie, maar waarom dit gebeur en wat daaraan gedoen kan word,’ het dr Ernst Roets, uitvoerende direkteur van Lex Libertas, gesê.
Die media word uitgenooi om die konferensie en nagwaak by te woon. Geleenthede vir onderhoude met projekorganiseerders, sprekers en internasionale vennote sal beskikbaar wees.