Die Minister van Grondhervorming en Landelike Ontwikkeling, Mzwanele Nyhontso, het Lex Libertas se versoek aanvaar om met hom te vergader oor rasse-uitsluiting by die toekenning en verhuring van landbougrond in staatsbesit. Die vergadering sal na verwagting in November plaasvind.
Lex Libertas verwelkom die minister se bereidwilligheid om in gesprek te tree, ondanks wesenlike politieke meningsverskille.
Die organisasie is tans besig om ’n verslag te finaliseer waarin die uitsluiting van wit burgers van geleenthede om landbougrond in staatsbesit te huur, gedokumenteer word. Die verslag ondersoek ook die breër patroon van rasgebaseerde wetgewing, die mislukking van bestaande grondhervormingsbeleide, valse narratiewe oor grondbesit in Suid-Afrika en 'n reeks moontlike oplossings vir die krisis.
Die verslag sal voor die vergadering gepubliseer word.
‘Ons waardeer die minister se bereidwilligheid om met ons in gesprek te tree. Hoewel ons fundamenteel oor grondhervorming verskil, glo ons daar behoort ruimte te wees vir konstruktiewe gesprekke oor die ontwikkeling van suksesvolle boere, die verhoging van landbouproduksie en die skep van werksgeleenthede,’ het Roets gesê.
‘Grondhervorming behoort bo alles gemeet te word aan hoeveel suksesvolle boere gevestig is. Ons glo dat samewerking tussen gevestigde en opkomende boere 'n belangrike rol kan speel om dit te verwesenlik.’
Lex Libertas se sentrale fokus is die bevordering van 'n werkbare politieke bestel vir die volke van Suid-Afrika. Die verslag sal dit duidelik stel dat politieke desentralisasie moontlik die enkele grootste stap is wat gedoen kan word om die grondhervormingskrisis in Suid-Afrika aan te pak.