|

Menu

Mediaverklarings

Lex Libertas verwelkom Amerikaanse visumbeperkings rakende spesifieke persone in Suid-Afrika

16/09/2026

‘Ons gaan nie Washington toe bloot om oor Suid-Afrika te kla nie,’ sê Roets. ‘Ons doel is om getuienis voor te lê, slagoffers te gedenk en vir praktiese oplossings te argumenteer.'

Die ideesentrum en voorspraakgroep Lex Libertas het die nuwe visumbeperkingsbeleid van die Verenigde State, wat deur die Amerikaanse minister van buitelandse sake, Marco Rubio, aangekondig is, verwelkom, maar benadruk dat die verswakking van betrekkinge tussen Suid-Afrika en die Verenigde State voorkombaar was.

Die beleid is gemik op spesifieke individue wat volgens die Verenigde State verantwoordelik is vir, of aandadig is aan, die instelling of uitvoering van wette of beleide wat grondbeslaglegging sonder vergoeding, rasgebaseerde diskriminasie of die aanhitsing van dreigende geweld teen etniese of rasseminderhede in Suid-Afrika moontlik maak. Dit is gemik op geïdentifiseerde verantwoordelike individue, eerder as op die bevolking van Suid-Afrika as geheel.

Die Amerikaanse ambassadeur in die Republiek van Suid-Afrika, L. Brent Bozell III, het op X geskryf dat ‘hierdie visumbeperkingsbeleid slegs die eerste stap is in ’n reeks eskalerende maatreëls wat Amerika se vaste voorneme in hierdie aangeleentheid sal toon.’

‘Hierdie eskalasie was voorkombaar,’ sê dr. Ernst Roets, uitvoerende direkteur van Lex Libertas. ‘Die kommer wat die Amerikaanse regering meer as ’n jaar gelede geopper het, stel nie ’n onhaalbaar hoë vereiste nie. Daar was onmiddellike stappe wat gedoen kon word om die verswakking in betrekkinge aan te spreek: ernstige gesprekvoering oor rasgebaseerde diskriminasie en eiendomsreg, ondubbelsinnige veroordeling van aanhitsing tot geweld, en betekenisvolle optrede rakende landelike veiligheid. Wat ontbreek het, is die politieke wil om hierdie kommer ernstig aan te spreek.’

Roets sê Lex Libertas verwelkom die verwikkeling om twee redes.

‘Eerstens toon dit dat die Amerikaanse regering steeds daarin belangstel om tot ’n oplossing in Suid-Afrika by te dra. Die vlugtelingprogram bied ’n belangrike uitweg aan mense wat glo dat hulle nie meer ’n toekoms hier het nie, maar om mense te help om die land te verlaat, kan nie die enigste antwoord wees nie. Die belangriker langtermyndoelwit moet wees om toestande te help skep waarin gemeenskappe ’n veilige en volhoubare toekoms in Suid-Afrika kan bou.’

‘Tweedens is die gerigte aard van die maatreël betekenisvol. Dit tref ’n onderskeid tussen die gemeenskappe van Suid-Afrika en daardie individue wat volgens die Verenigde State verantwoordelik is vir die betrokke beleide en optrede. Gewone mense word nie gestraf vir besluite wat deur politieke ampsbekleërs en amptenare geneem is nie. Waar gevolge toegepas word, behoort dit sover moontlik diegene te tref wat verantwoordelik is vir die ontstaan van die krisis.’

Die aankondiging kom net meer as ’n week voordat Lex Libertas, die New York Young Republican Club en ’n netwerk van ander instellings die Witkruisprojek na Washington, D.C. neem. Die projek sluit ’n konferensie op 25 September in, gevolg deur ’n visuele aksie op 26 September waartydens ongeveer 3 000 wit kruise met die name van plaasmoordslagoffers vertoon sal word. Lex Libertas sal ook sy Witkruisprojek-veldtogverslag bekendstel, wat handel oor politieke aanhitsing, plaasaanvalle, rasgebaseerde wetgewing, bedreigings vir eiendomsreg, asook voorgestelde kort- en langtermynoplossings. Die dokumentêre rolprent Crossed Out: Confronting Persecution in South Africa, wat hierdie kwessies ondersoek aan die hand van die ervarings van mense wat direk daardeur geraak is, sal ook bekendgestel word.

‘Ons gaan nie Washington toe bloot om oor Suid-Afrika te kla nie,’ sê Roets. ‘Ons doel is om getuienis voor te lê, slagoffers te gedenk en vir praktiese oplossings te argumenteer. Uiteindelik is ons doelwit ’n meer lewensvatbare politieke orde wat op vryheid, desentralisasie en betekenisvolle selfbestuur gegrond is.’

Lex Libertas meen dat maatreëls van hierdie aard as ’n middel tot hervorming verstaan moet word, eerder as ’n doel op sigself.

‘Die beste uitkoms sou die herstel van konstruktiewe betrekkinge tussen Suid-Afrika en die Verenigde State wees, gepaard met betekenisvolle hervorming tuis. Maar dit vereis dat die Suid-Afrikaanse regering die kwessies aanspreek wat betrekkinge tot op hierdie punt gebring het.’