|

Menu

Mediaverklarings

Lex Libertas stel baanbrekersverslag in Washington, D.C. bekend

Lex Libertas
24/07/2025

Mediaverklaring wat die publikasie van 'n baanbrekersverslag in Washington, D.C. aankondig, wat 'n beroep doen op die herbelyning van Suid-Afrika se politieke bestel.

VRYGESTEL VIR ONMIDDELLIKE PUBLIKASIE ### Lex Libertas stel baanbrekersverslag in Washington, D.C. bekend – ’n Pleidooi vir die herbelyning van die Suid-Afrikaanse politieke bedeling Washington, D.C. — Dr. Ernst Roets, uitvoerende direkteur van die voorspraakgroep Lex Libertas, is hierdie week in gesprek met vooraanstaande Amerikaanse rolspelers om steun te werf vir groter Amerikaanse druk ten gunste van ’n meer lewensvatbare politieke bedeling in Suid-Afrika. Hierdie rolspelers sluit in politieke verteenwoordigers, regeringsamptenare, ideesentrums, media-instellings en invloedryke podsenders. Ten einde hierdie doelwit te bevorder, stel Lex Libertas vandag ’n verslag bekend getiteld ***Reclaiming Freedom: A Two-step approach to a more sustainable dispensation for South Africa*, wat die saak in meer diepte ondersoek. Die verslag bied ’n oorsig van Suid-Afrika se voortslepende krisis, maak ’n saak uit vir internasionale ingryping, en skets praktiese maatreëls wat die VSA en ander belangstellende partye behoort te oorweeg. Hierdie verslag en besoek bou voort op vorige betrokkenheid deur die organisasie. Die verslag stel ’n tweeledige strategie voor om ’n streekskatastrofe in Suider-Afrika te voorkom en ’n meer volhoubare politieke orde deur desentralisasie en selfregering te vestig. Daarin word aangevoer dat wat algemeen voorgehou word as die krisis in Suid-Afrika — buitensporige geweldsmisdaad, ekonomiese ineenstorting, infrastruktuurverval en die vervolging van minderhede — as’t ware simptome is van ’n dieperliggende sistemiese probleem: ’n hoogs gesentraliseerde politieke stelsel wat fundamenteel verwyderd is van grondvlakrealiteite in een van die wêreld se mees kultureel en etnies diverse streke. Sleutelbevindinge van die verslag sluit die volgende in:** * Wat algemeen beskryf word as Suid-Afrika se “krisis” kan in drie oorvleuelende kategorieë saamgevat word: ’n destruktiewe beleidsraamwerk, staatsverval, en die vervolging van minderhede. * Hierdie is egter simptome — nie die wortel van die probleem nie. Die onderliggende probleem is ’n gesentraliseerde politieke stelsel wat nie die land se kulturele en etniese diversiteit akkommodeer nie. Die land behoort beskou te word as ’n streek wat bestaan uit verskeie nasies, eerder as ’n enkele eenheidstaat. * Minderheidsgemeenskappe — veral Afrikaners — ervaar sistemiese diskriminasie deur meer as 140 uitsluitende rassewette, staatsgedrewe ekonomiese uitsluiting, die beplande onteiening van privaat eiendom, die teiken van Afrikaanse skole, staatsgesanksioneerde haatspraak, diskriminerende dubbele standaarde wat deur die regstelsel verskans word, en openbare sondebokmakery. * Die ANC-regering se buitelandse beleid is toenemend anti-Westers en posisioneer Suid-Afrika as ’n BRICS-gesinde antagonist teenoor die Verenigde State, terwyl dit alliansies vorm met van die wêreld se mees onderdrukkende regimes. * Afrikaners leef al in Suid-Afrika sedert voor die Amerikaanse Onafhanklikheidsverklaring en behoort erken te word as ’n inheemse nasie van Afrika. * Die VSA se belang in Suid-Afrika kan in drie kategorieë saamgevat word: (1) die beperking van die Suid-Afrikaanse regering se vyandige optrede teenoor die VSA en die Weste; (2) die ondersteuning van pro-Amerikaanse en pro-Westerse vennote in die streek; en (3) die voorkoming van die destabilisasie van die streek met verreikende gevolge vir die Westerse wêreld. * Alhoewel staatsoewereiniteit ’n fundamentele beginsel van internasionale reg is, word dit ewe veel aanvaar dat internasionale ingryping onder sekere omstandighede — veral in gevalle van staatsverval of onderdrukking — nie net geregverdig is nie, maar noodsaaklik kan wees. Die verslag doen ’n beroep op die VSA en die breër internasionale gemeenskap om ’n tweeledige benadering te volg: ’n Ultimatum aan die Suid-Afrikaanse regering Die verslag stel voor dat die VSA en sy bondgenote ’n ultimatum aan die Suid-Afrikaanse regering rig, waarin vereis word dat die volgende hervormings ingestel word om stabiliteit in die streek te verseker: 1. Die herroeping van die uitgebreide netwerk van uitsluitende rassewette 2. Die waarborg van eiendomsreg en vryheid in die mark 3. Die beëindiging van rassistiese dubbele standaarde in die regstelsel 4. Die erkenning van die gesag van kultuur- en tradisionele leiers 5. Die vervolging van politieke leiers wat tot geweld teen minderhede aanhits Indien die regering weier om op te tree, word die volgende internasionale maatreëls aanbeveel: 1. Strategiese ingryping teen die Suid-Afrikaanse regering, insluitend: 1.1 Openbare en diplomatieke druk deur buitelandse regerings, nie-regeringsentiteite en internasionale maatskappye 1.2 Gerigte sanksies teen regeringsleiers (nie teen die samelewing in geheel nie) 1.3 Die vrystelling van maatskappye wat nie vir swart ekonomiese bemagtiging (SEB) geregistreer is nie en maatskappye in buitelandse jurisdiksies van uitvoertariewe 1.4 Streng voorwaardes vir handelsooreenkomste 1.5 Streng voorwaardes vir die verlenging van lenings aan die Suid-Afrikaanse regering 2. Verhoogde steun vir Afrikaners en ander pro-Westerse minderhede, insluitend: * Die erkenning van die strewe na selfregering binne die Suid-Afrikaanse grondgebied as ’n wettige en regverdige strewe * Tasbare ondersteuning aan veranderingsaanvoerders (persone en instellings wat hierdie doelwitte bevorder) * Beskerming van veranderingsaanvoerders teen moontlike teikening deur plaaslike owerhede Strategiese beleggings en ondersteuning vir die vestiging van de facto* selfregeringstoestande * Onderhandelinge met die Suid-Afrikaanse regering om ’n skikking ten gunste van selfregering te bereik Dr. Roets sal hierdie aanbevelings gedurende die week in Washington bespreek, insluitend tydens ’n hoofrede by ’n geleentheid wat op 24 Julie deur die Conservative Partnership Institute (CPI) aangebied word. Lex Libertas se doel is om die dringendheid van aksie te beklemtoon, sowel as die strategiese waarde vir die Weste om grondwetlike vryheid en stabiliteit in Suider-Afrika te ondersteun. “Ons is lief vir ons land, die grond en die mense wat daar woon, en ons sal aanhou werk vir vrede en stabiliteit in die streek,” het Dr. Roets gesê. “Dit sluit respek en samewerking tussen die verskillende nasies in wat die streek bewoon.” “Dit is egter duidelik dat die land op ’n destruktiewe pad is — een waarvan daar nie afgewyk sal word tensy die stelsel self herbedink word nie. Ons glo nie in kitsoplossings of utopiese idees nie, maar enige redelike persoon sal saamstem dat die strewe na selfregering beide regverdig en noodsaaklik is, veral in die huidige omstandighede. As diegene in beheer nie bereid is om koers te verander nie, is desentralisasie die mees lewensvatbare opsie.” Lex Libertas is ’n ideesentrum en voorspraakgroep wat werk vir ’n lewensvatbare politieke bedeling vir die bevolkingsgroepe van Suid-Afrika, gebaseer op vryheid, desentralisasie en selfregering. Om by Lex Libertas se medialys gevoeg te word, kontak: media@lexlibertas.org.za