|

Menu

Mediaverklarings

Lex Libertas begin Stop Kriptobeheer-veldtog teen verreikende staatsmagte

23/06/2026

Dit ’n onregverdigbare poging tot sentralisering en staatsbeheer

PRETORIA – Die ideesentrum en voorspraakgroep, Lex Libertas, het sy nuwe Stop Kriptobeheer-veldtog van stapel gestuur in teenstand teen die Konsepregulasies oor Kapitaalvloeibestuur, 2026. Die organisasie waarsku dat die voorstel verreikende magte oor burgers se wettig verkrygde kriptobates aan die minister van Finansies en die Nasionale Tesourie sal verleen. Volgens Lex Libertas is dit ’n onregverdigbare poging tot sentralisering en staatsbeheer wat die samelewing as geheel sal benadeel.

Die voorgestelde regulasies maak voorsiening vir wye uitvoerende diskresie, ongepubliseerde drempels en maatreëls wat persone kan dwing om van hul kriptobates ontslae te raak. Lex Libertas waarsku dat hierdie bepalings ’n ernstige bedreiging vir eiendomsreg en finansiële vryheid inhou.

Dr Ernst Roets, uitvoerende direkteur van Lex Libertas, het gesê wettig verkrygde kriptobates is private eiendom en behoort dieselfde basiese beskerming as ander vorme van eiendom te geniet.

‘Die staat behoort nie die mag te hê om bates wat persone wettig verkry het, na willekeur te beperk, te beheer of hulle te dwing om dit te verkoop nie. Dit is nie redelike regulering nie. Dit is ’n onaanvaarbare uitbreiding van staatsmag oor private eiendom en persoonlike finansiële besluite,’ het Roets gesê.

Lex Libertas sal formele kommentaar op die konsepregulasies indien. Om hierdie rede het die organisasie ’n openbare veldtog begin en doen dit ’n beroep op almal wat oor eiendomsreg, finansiële vryheid en groeiende staatsbeheer besorg is om hul stemme by te voeg.

Die Stop Crypto Control-veldtog kan hier ondersteun word:https://2eupi6.share-eu1.hsforms.com/2qa9peSvOR0CMKvWaFkDHLQ.

Die veldtog vorm deel van Lex Libertas se breër werk om basiese vryhede, eiendomsreg en desentralisering teen die voortgesette uitbreiding van gesentraliseerde staatsbeheer te beskerm.

Lex Libertas is ’n ideesentrum en voorspraakgroep wat werk aan ’n lewensvatbare politieke bedeling in Suid-Afrika, gebaseer op die beginsels van vryheid, desentralisering en selfbestuur.