### Aankondiging: Lex Libertas
’n Nuwe instelling, gerig op ’n volhoubare politieke bedeling vir die gemeenskappe van Suid-Afrika
’n Nuwe instelling is op die aand van 15 Mei 2025 in Pretoria van stapel gestuur met die doel om aktief te werk aan ’n meer volhoubare politieke bedeling vir Suid-Afrika. Lex Libertas, wat tot dusver in sy voorlopige formaat as die Pionier-inisiatief bekend gestaan het, sal funksioneer as ’n ideesentrum gekombineer met ’n drukgroep. Dié instelling het ten doel om ’n politieke bedeling te bevorder waarin die gemeenskappe van Suid-Afrika groter vlakke van selfregering het.
Dr Ernst Roets, uitvoerende direkteur van Lex Libertas, het verduidelik dat die organisasie die afgelope maande sterk bande binne én buite Suid-Afrika opgebou het, en dat daar groeiende steun is vir die gevolgtrekking dat die land se politieke bestel hervorm moet word.
“Die krisisse wat ons daagliks in Suid-Afrika beleef, is nie bloot die gevolg van die verkeerde persoon as president, of van die verkeerde party wat ’n verkiesing gewen het nie. Hierdie krisisse spruit uit dieperliggende, sistemiese gebreke,” het Roets gesê.
Lex Libertas se visiestelling is eenvoudig:
’n Volhoubare politieke bedeling vir die gemeenskappe van Suid-Afrika.
Volgens Dr Roets is Suid-Afrika nie net geografies uitgestrek nie, maar ook buitengewoon ryk aan gemeenskapsdiversiteit.
“Ten spyte van hierdie diversiteit is die politieke stelsel in die praktyk hiper-gesentraliseerd, onverantwoordbaar, verwyderd, en bied dit bykans geen erkenning — wat nog te sê beskerming — aan gemeenskapsdinamika nie. Dit is goed en wel dat die Grondwet beloftes bevat oor verantwoordbare regering en dat dit wigte en teenwigte waarborg. In die praktyk is die regte wat daarin vervat word egter nie veel meer as ’n wenslys nie, en is die instellings wat die regering tot verantwoording moet roep, byna almal gekaap.”
Hy het verder verduidelik dat Lex Libertas voortdurend navorsing oor alternatiewe politieke modelle sal publiseer, en nasionale en internasionale gesprek daaroor sal aanmoedig. Tegelykertyd sal die organisasie strategiese druk toepas vir die desentralisering van die politieke orde.
Lex Libertas word deur vrywillige bydraes ondersteun. Bydraers kan eenmalige skenkings maak, of jaarliks of maandeliks tot die organisasie bydra. Dr Roets het ondersteuners aangemoedig om betrokke te raak en as bydraers aan te sluit.
Dr Ernst Roets
Uitvoerende Direkteur
Lex Libertas (voorheen bekend as die Pionier-inisiatief)
E-pos: ernst.roets@lexlibertas.org.za
Webwerf: lexlibertas.org.za**