|

Menu

Mediaverklarings

Jongste plaasmoord wys Witkruisprojek se werk is nog lank nie afgehandel nie

Dr. Ernst Roets
08/10/2026

Lex Libertas hou vol dat die vinnigste en minste konfronterende pad vorentoe steeds is dat die Suid-Afrikaanse regering self betekenisvolle optrede neem.

Die wrede moord op Hannetjie van Zyl (55) naby Ottosdal in die Noordwes-provinsie van Suid-Afrika toon weereens dat die krisis waarop Lex Libertas deur middel van die Witkruisprojek die aandag gevestig het, werklik is en dat die Suid-Afrikaanse regering as medepligtig beskou behoort te word totdat die nodige optrede plaasvind.

Van Zyl is op Maandag 5 Oktober by die ingangshek van haar plaas aangeval. Volgens berigte is sy herhaaldelik met ’n ysterstaaf teen die kop en nek geslaan en is sy later op pad hospitaal toe oorlede. Twee verdagtes is glo in verband met die moord in hegtenis geneem, terwyl nog een voortvlugtig is.

‘Die Witkruisprojek het daarin geslaag om internasionale bewustheid oor plaasaanvalle en die breër krisis waarmee minderheidsgemeenskappe in Suid-Afrika gekonfronteer word, dramaties te verhoog,’ sê dr. Ernst Roets, uitvoerende direkteur van Lex Libertas. ‘Ons standpunt was egter van die begin af dat hierdie bewustheid gekanaliseer moet word na steun vir tasbare oplossings.’

Lex Libertas hou vol dat die vinnigste en minste konfronterende pad vorentoe steeds is dat die Suid-Afrikaanse regering self betekenisvolle optrede neem.

Lex Libertas het onlangs die Witkruisprojek se veldtogverslag in Washington, D.C. gepubliseer, waarin verskeie onmiddellike maatreëls uiteengesit word wat deur die Suid-Afrikaanse regering ingestel kan word. Dit sluit die volgende in:

  1. 1. Plaasaanvalle moet deur die uitvoerende, wetgewende en regsprekende gesag as ’n ernstige krisis erken word en die pleging van hierdie misdade moet ondubbelsinnig veroordeel word.
  2. 2. Plaasaanvalle moet as ’n afsonderlike kategorie van misdaad behandel word wat gespesialiseerde reaksies vereis, eerder as om bloot as gewone misdaad geklassifiseer te word.
  3. 3. ’n Toegewyde nasionale landelikeveiligheidstrategie, insluitend prioriteitspolisiëring, toegewyde intelligensiekapasiteit, vinnigereaksie-eenhede en gestruktureerde samewerking met georganiseerde landbou en landelike gemeenskappe, moet herstel en versterk word. Die versterking van die plan moet noodwendig ook die beskikbaarstelling van bykomende hulpbronne vir die uitvoering daarvan insluit.
  4. 4. Regmatige gemeenskapsgebaseerde en private veiligheidsinisiatiewe in landelike gebiede moet regtens moontlik gemaak en ondersteun word. Dit behoort gedoen te word deur die private veiligheidsbedryf te dereguleer.
  5. 5. Deursigtigheid van data en onafhanklike monitering van tendense en reaksies rakende plaasaanvalle moet beduidend verbeter word.

‘Dit is nie onmoontlike vereistes nie. Trouens, dit is nie eens moeilik nie,’ sê Roets. ‘Dit is praktiese stappe wat onmiddellik gedoen kan word om lewens te red. Ons het egter uit ondervinding geleer dat die politieke elite in Suid-Afrika nie bereid is om selfs die mees basiese maatreëls te tref om hierdie voortdurende krisis aan te spreek nie. Daarom is verdere optrede nodig. Optrede sluit in om meer druk op die Suid-Afrikaanse regering uit te oefen om sy deel te doen, maar ook om voorspraak te doen vir ’n gedesentraliseerde politieke bestel waarin gemeenskappe meer gesag oor hul eie sake het, insluitend hul eie veiligheid.’

Daarom word daar in die verslag aangevoer dat die krisis van landelike veiligheid deel vorm van ’n dieper politieke probleem en dat betekenisvolle desentralisasie en groter selfbestuur op die lang termyn noodsaaklik bly, veral waar gemeenskappe steeds sterk afhanklik is van sentrale instellings wat herhaaldelik daarin faal om hulle te beskerm.

‘Indien die Suid-Afrikaanse regering kies om op te tree, sal ons dit verwelkom en doeltreffende maatreëls ondersteun,’ sê Roets. ‘Maar voortgesette ontkenning, onderspeling of versuim om op te tree kan nie as neutraliteit beskou word nie. Indien die staat aanhou om in sy verantwoordelikheid te faal terwyl mense vermoor word, sal Lex Libertas geen ander keuse hê as om sy plaaslike en internasionale veldtogte te verskerp, druk vir hervorming uit te brei en voort te gaan om steun te bou vir gemeenskappe om groter verantwoordelikheid vir hul eie veiligheid en toekoms te neem nie.’

Roets het namens Lex Libertas meegevoel met Van Zyl se familie en gemeenskap betuig.

‘Die Witkruisprojek het dalk in Washington ten einde geloop, maar die werk duidelik nie. Elke nuwe slagoffer herinner ons waarom die veldtog in die eerste plek nodig was, en waarom ons nie nou kan ophou nie.’