Lex Libertas Mediaverklaring 16 September 2025
VIR ONMIDDELLIKE PUBLIKASIE
### Lex Libertas sal werkgewers inlig oor werknemers wat geweld aanhits en moord vier.
Pretoria — Die dinkskrum en voorspraakgroep Lex Libertas het ’n studie van stapel gestuur oor die aanhitsing van geweld en die verheerliking van moord op sosiale media in Suid-Afrika. As deel van hierdie studie sal persone wat aan sulke aktiwiteite skuldig bevind word, by hul werkgewers aangemeld word.
Die inisiatief is gemotiveer deur die tragiese sluipmoord op die Amerikaanse politieke kommentator Charlie Kirk verlede week, wat gevolg is deur ’n vlaag sosiale-media-gebruikers wat sy dood vier en rassegebaseerde geweld in Suid-Afrika aanhits. ’n Voorlopige ondersoek deur Lex Libertas toon verder dat die afgelope week ’n skerp styging in die verheerliking van moord, doodsdreigemente en die aanhitsing van geweld regoor die land aan die lig gebring het.
Dr Ernst Roets, Uitvoerende Direkteur van Lex Libertas, het verduidelik dat werkgewers die reg het om te weet indien hul werknemers moord vier of doodsdreigemente aanlyn versprei. “Daar behoort gevolge te wees vir die verheerliking en aanhitsing van geweld. Of dissiplinêre stappe geneem word, is die werkgewers se besluit. Tog kan toepaslike optrede slegs plaasvind indien werkgewers toegang tot die relevante inligting het,” het dr Roets gesê.
“Lex Libertas beywer hom vir ’n lewensvatbare politieke bedeling vir die gemeenskappe van Suid-Afrika deur die desentralisering van die politieke stelsel en die bevordering van selfregering. Die sukses van hierdie strewe hang af van die bevordering van respek en samewerking tussen gemeenskappe. Dit is presies waarom ons ’n ferm standpunt moet inneem teen enigiemand wat poog om geweld en haat in Suid-Afrika aan te hits.”
Die ondersoek is reeds aan die gang. Lede van die publiek wat inligting in hierdie verband aan Lex Libertas wil voorlê, kan dit stuur na veldtogte@lexlibertas.org.za.
Lex Libertas is ’n ideesentrum en voorspraakgroep wat werk vir ’n lewensvatbare politieke bedeling vir die bevolkingsgroepe van Suid-Afrika, gebaseer op vryheid, desentralisasie en selfregering.