|

Menu

Kommentaar

Teistering van minderhede en amptenare behoort ernstig opgeneem te word

Ernst Roets
18/12/2025

Die diplomatieke spanning tussen die Suid-Afrikaanse en Amerikaanse regerings duur voort

Die Amerikaanse Staatsdepartement se verklaring oor die beweerde teistering van Amerikaanse amptenare deur die Suid-Afrikaanse regering behoort ernstig opgeneem te word. Die groeiende diplomatieke spanning tussen die Suid-Afrikaanse en Amerikaanse regerings dui op ’n radikaliserende Suid-Afrikaanse staat wat toenemend intimidasie gebruik in plaas daarvan om aanspreeklikheid te aanvaar vir die krisisse wat dit self geskep het. In plaas daarvan om die onderliggende krisisse wat die land teister eerlik te konfronteer, word kritiek — plaaslik én internasionaal — met aggressie en ontkenning beantwoord.

Wanneer ’n regering minderhede wat hul regte opeis teiken, en in hierdie geval selfs buitelandse amptenare intimideer, dui dit op ’n dieperliggende bedelingskrisis. Ons het nie hier te doen met ’n beleidsfout of ’n kommunikasieprobleem nie. Dit is ’n strukturele probleem. Die Suid-Afrikaanse staat toon al hoe duideliker die kenmerke van ’n gesentraliseerde mag wat nie meer oor die vermoë, legitimiteit of gesag beskik om ’n komplekse en diverse samelewing te regeer nie.

Die antwoord op hierdie krisis lê nie in ontkenning van die bestaan van die krisis nie. Dit lê ook nie daarin om ons daarop te beroep om terug te keer na 1994, asof die “nuwe Suid-Afrika” net weer van vooraf begin kan word nie. Die afgelope drie dekades het onteenseglik en herhaaldelik getoon dat ’n hoogs gesentraliseerde staat, gedryf deur rasse-ideologie en sosialistiese beleidsraamwerke, nie stabiliteit, welvaart of vryheid kan verseker nie.

Daarom is dit Lex Libertas se argument dat die enigste volhoubare uitweg daarin lê dat ’n lewensvatbare politieke orde vir Suid-Afrika bevorder moet word. Dit behoort as vertrekpunt op die beginsel van selfregering geskoei te wees, wat noodwendig meebring dat die politieke stelsel gedesentraliseer moet word.

Selfregering is nie ’n radikale of revolusionêre idee nie; dit is die teenmiddel teen sulke idees. Die vertrekpunt dat gemeenskappe oor hul eie sake moet beskik was oor die eeue heen die basisbeginsel van die politiek.

Dit impliseer noodwendig desentralisering: minder mag by ’n disfunksionele nasionale sentrum, en meer bevoegdhede by gemeenskappe, streke en plaaslike strukture. Internasionale ervaring wys herhaaldelik dat federale, kantonale en ander gedesentraliseerde modelle juis in samelewings met hoë vlakke van spanning en diversiteit stabiliserend werk.

Wanneer die Amerikaanse regering — of enige ander internasionale rolspeler — druk op Suid-Afrika toepas, behoort dit nie druk te wees om bestaande ideologiese raamwerke kunsmatig lewendig te hou nie, want dit is reeds gedoem om te misluk. Dit moet druk ten gunste van ’n konstitusionele herskikking wees waardeur selfregering en vryheid vir die onderskeie gemeenskappe van Suid-Afrika bevorder word. Dieselfde beginsel geld vir ons eie aksies binne Suid-Afrika self: die doel is nie destabilisering nie, maar dit is ook nie om ’n huis wat op die sand gebou is met wensdenkery in stand te hou nie. Dit moet op hervorming in die rigting van ’n volhoubare bedeling gerig wees, en om onsself in die bevordering van hierdie doelwit te versterk.

Daarom sal Lex Libertas vroeg in 2026 ’n reeks omvattende verslae publiseer oor die vervolging en sistemiese marginalisering van minderhede in Suid-Afrika. Hierdie verslae sal nie net dokumenteer wat gebeur nie, maar ook dien as grondslag vir ’n verskerpte veldtog — plaaslik én internasionaal — vir die bevordering van selfregering as ’n konkrete, realistiese en regverdige oplossing.

Die huidige trajek van ontkenning, intimidasie en sentralistiese beheer lei onvermydelik tot groter konflik en isolasie. Die alternatief is eenvoudig: in plaas van sentralisering moet desentralisering bevorder word; en in plaas van staatsafhanklikheid moet selfregering bevorder word.

Dit is die enigste lewensvatbare uitweg.

Dit is hierdie pad wat Lex Libertas konsekwent sal bly bevorder.

Om Lex Libertas te ondersteun, kliek hier.