|

Menu

Mediaverklarings

Ná Withuis-inligtingsessie gaan NYYRC en Lex Libertas 3 000 wit kruise op die National Mall oprig ter nagedagtenis aan plaasmoordslagoffers in Suid-Afrika

28/05/2026

Gesamentlike mediaverklaring New York Young Republican Club en Lex Libertas

New York, New York – In navolging van die President van die Verenigde State, Donald J. Trump, het die New York Young Republican Club (NYYRC) met die Suid-Afrika-gebaseerde ideesentrum en voorspraakgroep, Lex Libertas, saamgespan om lig te werp op die vervolging van Afrikaners in Suid-Afrika.

In Februarie 2026 het Lex Libertas die NYYRC tydens ’n feitesending aan Suid-Afrika ontvang. Die NYYRC het die Witkruismonument, armoedeverligtingsinisiatiewe, gemeenskapskole en Orania besoek. Hierdie inisiatiewe word almal privaat ondersteun omdat die uitermatige beleid van rassediskriminasie wat deur die regerende African National Congress (ANC) ingestel is, Afrikaners en ander minderhede van basiese vryhede met betrekking tot indiensneming, openbare dienslewering en polisiebeskerming uitsluit.

Die NYYRC en Lex Libertas kan vandag aankondig dat hierdie twee instellings op 31 Maart 2026 hul bevindinge oor die krisis in Suid-Afrika aan die Withuis se Nasionale Veiligheidsraad en die Amerikaanse Departement van Buitelandse Sake voorgelê het. Die vergadering het ’n bespreking ingesluit oor die stand van sake in Suid-Afrika, en veral oor die werk en navorsing waarby Lex Libertas betrokke is met betrekking tot plaasmoorde en anti-wit diskriminasie, insluitend vernietigende raswetgewing en bedreigings teen eiendomsreg.

Die NYYRC en Lex Libertas het besluit om die volgende stappe te neem:

1.Die NYYRC en Lex Libertas het ’n petisie van stapel gestuur met die doel om 100 000 handtekeninge te bekom, waarin ’n beroep op die Amerikaanse administrasie gedoen word om ’n spesiale gesant vir die Afrikaners en ander kulturele minderhede aan te stel, en om die strewe na selfregering in Suid-Afrika as ’n legitieme strewe te erken;

2.Die NYYRC en Lex Libertas sal ’n waak met 3 000 wit kruise op die National Mall in Washington, D.C., aanbied ter nagedagtenis aan die slagoffers van plaasmoorde en vervolging in Suid-Afrika. Die kruise sal die name van duisende vermoorde slagoffers vertoon;

3.Die NYYRC en Lex Libertas sal ’n konferensie in Washington, D.C., aanbied oor die vervolging van minderhede in Suid-Afrika. Lex Libertas sal reël om slagoffers van plaasaanvalle na Washington te bring om hul persoonlike getuienis tydens die konferensie te deel; en

4.’n Formele versoek sal aan die Amerikaanse Huis van Verteenwoordigers gerig word om kongresverhore oor die stand van sake in Suid-Afrika te begin.

Vir die doel van hierdie veldtog het die NYYRC en Lex Libertas ’n fondsinsamelingsveldtog van stapel gestuur waardeur persone aangemoedig word om kruise vir die waak te borg. Elke kruis kan teen ’n koste van $15 geborg word.

Die NYYRC en Lex Libertas het ook sekere stappe voorgestel wat die Amerikaanse administrasie kan oorweeg, naamlik:

  1. Om die Magnitsky-wet te gebruik om sanksies in te stel teen persone in Suid-Afrika wat vir hierdie menseregteskendings verantwoordelik is;
  2. Om te eis dat Amerikaanse maatskappye vrygestel word van beperkings gebaseer op die sogenaamde Black Economic Empowerment-kwotastelsel, wat maatskappye verhinder om sake te doen indien hulle nie geheel of gedeeltelik in swart besit is nie;
  3. Om organisasies in Suid-Afrika wat aktief rassegebaseerde geweld en kriminaliteit aanmoedig, as terreurgroepe te verklaar; en
  4. Om ’n spesiale gesant van die Amerikaanse Departement van Buitelandse Sake aan te stel om die vervolging van Afrikaners en ander minderheidsgroepe in Suid-Afrika te ondersoek.

Die memorandum wat aan die Trump-administrasie voorgelê is, kan hier gelees word.

Om die Witkruisprojek te ondersteun, kliek hier - whitecrossproject.org

Oor die New York Young Republican Club: Die New York Young Republican Club is die oudste en grootste Young Republican-organisasie in die Verenigde State. Die organisasie is daartoe verbind om America First-beginsels te bevorder, jong mense met politieke loopbane en aktivisme te verbind, en Republikeinse kandidate op plaaslike, staats- en nasionale vlak te ondersteun.

Oor Lex Libertas: Lex Libertas is ’n Suid-Afrika-gebaseerde ideesentrum en voorspraakgroep wat hom beywer vir die verdediging van grondwetlike regte, eiendomsreg en die veiligheid van alle kulturele minderhede in Suid-Afrika, met ’n besondere fokus op plaasmoorde en anti-wit diskriminasie.