|

Menu

Mediaverklarings

Crossed Out-dokumentêr word by die Withuis vertoon

Dr. Ernst Roets
22/09/2026

Crossed Out bring die getuienis, die breër politieke konteks en, die belangrikste, die ervarings van mense wat hierdie werklikhede persoonlik beleef het, bymekaar.

Die Lex Libertas-dokumentêre rolprent Crossed Out: Confronting Persecution in South Africa sal Donderdagmiddag, 24 September, by die Withuis vertoon word as deel van die program rondom die Witkruisprojek in Washington, D.C.

Die vertoning sal ’n geslote geleentheid wees wat bygewoon word deur personeel van die Withuis en die Amerikaanse Staatsdepartement, sprekers wat aan die Witkruisprojek-konferensie deelneem, asook drie persone wat direk deur plaasaanvalle geraak is: Amanda Platt, Heidie Taljaard en Leon Lotz. Dr. Ernst Roets, uitvoerende direkteur van Lex Libertas en mede-regisseur van die dokumentêr, sal enkele inleidende opmerkings maak, terwyl Taljaard namens slagoffers en families wat deur plaasaanvalle geraak is, sal praat.

‘Dit is ’n belangrike oomblik vir die Witkruisprojek,’ sê Roets. ‘Een van ons sentrale doelwitte was om te verseker dat die werklikhede waarmee mense en gemeenskappe in Suid-Afrika gekonfronteer word, direk gehoor word deur mense wat in posisies is om beleid te beïnvloed. Crossed Out bring die getuienis, die breër politieke konteks en, die belangrikste, die ervarings van mense wat hierdie werklikhede persoonlik beleef het, bymekaar.’

Die dokumentêr ondersoek die krisis in Suid-Afrika aan die hand van politieke aanhitsing, plaasaanvalle, rasgebaseerde uitsluiting en bedreigings vir eiendomsreg. Dit ondersoek ook die dieper strukturele uitdagings waarmee die land te kampe het en stel ’n saak vir oplossings gegrond op vryheid, desentralisasie en selfbestuur.

Die vertoning by die Withuis vind plaas een dag voor die Witkruisprojek-konferensie by die National Press Club op Vrydag 25 September. Die konferensie sal Suid-Afrikaanse en Amerikaanse sprekers, kundiges en slagoffers byeenbring om die kwessies wat deur die Witkruisprojek geopper word, asook moontlike praktiese en langtermynoplossings, te bespreek.