Die Lex Libertas-boekklub bied ’n ruimte vir selfontwikkeling, ernstige denke, eerlike gesprek en die verdieping van idees oor vryheid, tradisie, gemeenskap en die toekoms van die gemeenskappe van Suid-Afrika.
Die doel is om mense bymekaar te bring wat besef dat volhoubare verandering nie by slagspreuke of beleid begin nie, maar by denke wat geslyp, getoets en strategies toegepas word.
Daarom is die Lex Libertas-boekklub van stapel gestuur - om ons denke te verdiep in die stryd om idees, om oor hierdie idees met mekaar in gesprek te tree, om ’n beter begrip te ontwikkel oor waar ons vandaan kom, waarheen ons op pad is en ook oor die realiteite waarmee ons in hierdie tyd gekonfronteer word.
Teen hierdie agtergrond het die span by Lex Libertas in oorleg met ons bydraers ’n lys van twaalf boeke vir 2026 saamgestel. Inhoud sal oor elkeen van die twaalf boeke gepubliseer word, wat artikels, resensies, video’s en podsending-onderhoude kan insluit. Vier van die twaalf boeke sal dien as ‘kernboeke’. Dit is boeke waarvoor ons nie net inhoud gaan publiseer nie, maar waarvoor ons ook besprekings sal reël, aangebied en gefasiliteer deur kenners oor die betrokke boek, outeur of vakgebied. Daar is ’n mate van oorvleueling tussen die twaalf boeke en die kernboeke, wat die geleentheid bied om tydens kernboekbesprekings ook na van die ander boeke te verwys.
Byvoorbeeld: 1984 van George Orwell en Brave New World van Aldous Huxley val beide onder die kategorie, distopiese fiksie. Hierdie boeke word gereeld met mekaar vergelyk. Wanneer ons dus oor Brave New World (’n kernboek) gesprek voer, sal ons dit vergelyk met 1984 (wat een van die twaalf boeke is, maar nie ’n kernboek nie).
Die boeke is saamgestel om ’n verskeidenheid van temas te dek, wat die volgende insluit:
- Vryheid en magsmisbruik
- Beskawing en tradisie
- Die beginsels van konstitusionalisme en die reg
- Die beginsels van ekonomie
- Leierskap en betekenis
- Afrikanerskap en ons Westerse erfenis
Vir elke kernboek word die volgende beplan:
- ’n inleidende gesprek aan die begin van die leesfase gehou, en
- ’n slotgesprek aan die einde van die kwartaal.
Dit beteken ons sal een kernboek per kwartaal behandel en twee gespreksessies per kernboek aanbied.
Die eerste gesprek sal plaasvind op Donderdag, 22 Januarie. Tydens hierdie sessie sal ’n inleiding tot Brave New World (Aldous Huxley) gebied word, met verwysing na 1984 (George Orwell).
Die lys van boeke
Die volgende boeke sal as kernboeke dien:
- Brave New World – Aldous Huxley
- Die Odusseia (Odyssee) – Homerus
- There Is No Supreme Constitution – Koos Malan
- Economics in One Lesson – Henry Hazlitt
Die volgende boeke sal as bykomende boeke ingesluit word vir dié wat twaalf boeke in 2026 wil lees.
- 1984 – George Orwell
- The Screwtape Letters – C.S. Lewis
- Die Aeneïde (Eneïde) – Vergilius
- Alexander Hamilton – Ron Chernow
- The Law – Frédéric Bastiat
- Start With Why – Simon Sinek
- Economic Facts and Fallacies – Thomas Sowell
- Raka – N.P. van Wyk Louw
Wie kan deelneem en hoe gaan dit werk?
Die boekklub is ’n geleentheid vir Lex Libertas-bydraars. Enige persoon wat ’n bydrae aan Lex Libertas lewer (teen die bedrag van eie keuse) word as ’n bydraer geag.
Praktiese en logistieke besonderhede (tye, platforms, leesgidse en gespreksskakels) sal direk gekommunikeer word met bydraars wat by die boekklub ingeskakel het.
Gesprekke sal hoofsaaklik in Afrikaans plaasvind, maar Engelse inhoud sal ingesluit word. Leesmateriaal sal meestal in beide tale beskikbaar wees. Sessies sal (veral in die begin) hoofsaaklik in Pretoria aangebied word. Lede van die boekklub sal die geleentheid hê om digitaal in te skakel. Namate die Lex Libertas-klub uitbrei sal sessies in ander dele van die land ook aangebied word.
Hoe om in te skakel
Verdere inligting sal aan lede van die boekklub versprei word. Jy kan inskakel deur die vorm hieronder in te vul.
Kliek hier om die vorm in te vul.