|

Menu

Datum en plek vir Witkruisprojek in Washington, D.C., bevestig
Mediaverklarings

Datum en plek vir Witkruisprojek in Washington, D.C., bevestig

29/06/2026

Dr Ernst Roets, uitvoerende direkteur van Lex Libertas, het gesê die bevestiging van die datum en plek is ’n belangrike mylpaal vir die veldtog.

PRETORIA – Lex Libertas en die New York Young Republican Club (NYYRC) het vandag aangekondig dat die Witkruisprojek op 26 September 2026 op die National Mall in Washington, D.C., sal plaasvind.

Die nodige toestemming is verleen om die aksie in East Seaton Park uit te voer, op die grasperk tussen 3rd Street en 4th Street, direk voor die Amerikaanse Capitol-gebou.

Tydens die geleentheid sal 3 000 wit kruise opgerig word ter nagedagtenis aan slagoffers van plaasmoorde in Suid-Afrika. Die doel is om internasionale steun te werf vir praktiese oplossings met betrekking tot die plaasmoordkrisis, politieke aanhitsing, rasgebaseerde diskriminasie en die bedreiging van minderheidsgemeenskappe in Suid-Afrika.

Dr Ernst Roets, uitvoerende direkteur van Lex Libertas, het gesê die bevestiging van die datum en plek is ’n belangrike mylpaal vir die veldtog.

‘Hierdie projek sal die werklikheid van plaasmoorde op een van die sigbaarste plekke in die wêreld uitbeeld. Elke kruis sal die naam en verhaal verteenwoordig van ’n persoon wie se lewe deur hierdie krisis geëis is. Ons wil verseker dat hierdie slagoffers nie vergeet word nie en dat die internasionale gemeenskap nie langer kan voorgee dat hierdie probleem nie bestaan nie,’ het Roets gesê. ‘Ons doel is egter nie bloot om op die krisis te wys nie, maar om praktiese oplossings voor te lê en om steun vir hierdie oplossings te werf,’ het hy bygevoeg.

Die Witkruisprojek word deur Lex Libertas en die NYYRC in vennootskap aangebied. Dit vorm deel van ’n breër internasionale veldtog om steun te werf vir die beskerming van Afrikaners en ander kultuurgemeenskappe in Suid-Afrika, asook vir vreedsame desentralisering en selfbestuur.

Lex Libertas en die NYYRC ontvang reeds steun van meningsvormers, instellings en gemeenskapsleiers in verskeie lande. Die organisasies doen nou ’n beroep op lede van die publiek om die veldtog verder te versterk deur:

  • • die petisie te onderteken;
  • • ’n kruis vir die geleentheid te borg;
  • • inligting hieroor met hul kontakte te deel; en in besonder, om
  • • vriende, instellings en gemeenskappe in die Verenigde State aan te moedig om die geleentheid op 26 September by te woon.

Almal wat die petisie onderteken, sal op hoogte gehou word van die voorbereidings en van verdere besonderhede oor hoe hulle by die geleentheid in Washington, D.C., kan aansluit.

  • • Die petisie kan hier onderteken word, en wit kruise kan deur dieselfde skakel geborg word: whitecrossproject.org

Lex Libertas is ’n ideesentrum en voorspraakgroep wat werk aan ’n lewensvatbare politieke bedeling in Suid-Afrika, gebaseer op die beginsels van vryheid, desentralisering en selfbestuur.

Die New York Young Republican Club is die oudste en grootste jong Republikeinse organisasie in die Verenigde State en bevorder Amerika-eerste-beginsels, politieke betrokkenheid en internasionale samewerking met gemeenskappe wat vir vryheid en selfbestuur werk.

• Om by die Lex Libertas-mediaposlys aan te sluit, kontak: media@lexlibertas.org.za.