|

Menu

Mediaverklarings

’N WAARSKUWING AAN DIE WES: NYYRC-afvaardiging arriveer in Suid-Afrika vir uitgebreide besoek en strategiese betrokkenheid

Lex Libertas
23/02/2026

Gesamentlike Mediaverklaring - Lex Libertas & New York Young Republican Club (NYYRC)

Pretoria, Suid-Afrika – ’n Afvaardiging van die New York Young Republican Club (NYYRC), gelei deur sy president, Stefano Forte, het in Suid-Afrika aangekom vir ’n uitgebreide besoek van meer as ’n week op uitnodiging van die ideesentrum en voorspraakgroep, Lex Libertas.

Die NYYRC het sy kommer uitgespreek dat Suid-Afrika se agteruitgang sedert 1994 as ’n waarskuwing aan alle Westerse nasies moet dien oor wat vir Westerse gemeenskappe voorlê wanneer hulle ’n politieke minderheid word — die einde van burgerregte, herverdelende ongeregtigheid en ’n voortdurende anargo-tirannie.

Die Amerikaners en Afrkaners deel ’n tradisie van selfregering; die NYYRC is hier om die gevare van ras-sosialisme en die dwaling van die sogenaamde “einde van geskiedenis” te bestudeer.

Lex Libertas en die NYYRC sal Vrydag om 09:00 (Suid-Afrikaanse tyd) ’n gesamentlike perskonferensie in Centurion aanbied, waar dr Roets en Forte opvolginisiatiewe sal aankondig wat daarop gemik is om ’n vollediger weergawe van Suid-Afrika se werklikhede aan Amerikaanse gehore en beleidmakers in Washington, D.C., oor te dra.

Benewens die konferensie sal die besoek ’n omvattende program insluit wat daarop gemik is om die afvaardiging bloot te stel aan die volle kompleksiteit van Suid-Afrika. Dr Roets het gesê die besoek sal blootstelling insluit aan die beste en die swakste wat Suid-Afrika het om te bied, deur ontmoetings met sake- en institusionele leiers en betrokkenheid by verskeie projekte wat daarop gemik is om die verswakkende toestand van die land aan te spreek.

Dit sluit in:

  • Ontmoetings met slagoffers van geweldsmisdaad, insluitend slagoffers van plaasaanvalle;
  • Ontmoetings met instellings betrokke by armoedeverligtingsinisiatiewe, veral vir persone wat uitsluiting onder rasgebaseerde wetgewing ervaar het;
  • ’n Besoek aan Orania as voorbeeld van selfstandige en gemeenskapsgedrewe ontwikkelingsmodelle;
  • Die belewenis van Afrikanerkultuur, besoeke aan historiese terreine en die Witkruismonument;
  • Waarneming van sowel die uitdagings as die suksesse van moderne Suid-Afrika, insluitend vervalle sentrale sakekerngebiede, gevandaliseerde monumente, informele nedersettings, florerende ondernemings en welvarende voorstede; en
  • Die belewenis van die land se natuurlike skoonheid en geografiese diversiteit.

Dr Roets het gesê die besoek is ’n belangrike stap om internasionale begrip te versterk:

“Suid-Afrika word dikwels internasionaal in abstrakte of ideologiese terme bespreek. Hierdie besoek gaan oor betrokkenheid by die werklikheid — die beste en die swakste, die suksesse en die mislukkings. Dit gaan daaroor om te verseker dat ingeligte stemme in die Verenigde State die kompleksiteite van ons situasie en die belangrikheid van volhoubare, gemeenskapsgedrewe oplossings verstaan.”

Forte het gesê die afvaardiging sien uit na betekenisvolle gesprek:

“Die Klub is hier om eerstehands die uitkomste van DEI- (“Diversity, Equity and Exclusion”) beleide te aanskou wanneer dit tot sy natuurlike gevolgtrekking gevoer word. Afrikaners word vervolg, vermoor en heeltemal uitgesluit uit sekere sfere van die Suid-Afrikaanse samelewing — terwyl Westerse media ’n blinde oog draai, net soos hulle sal doen wanneer dit uiteindelik by ons voordeur aankom. Moet geen fout maak nie: die doel van die Amerikaanse Linkse beweging is uiteindelik die ‘Suid-Afrikanisering’ van die Verenigde State, en ons Klub is hier om bloot te lê wat die gevolge daarvan vir Amerika sou wees.”

Verdere besonderhede oor die perskonferensie sal afsonderlik bekend gemaak word. Joernaliste wat belangstel om die perskonferensie Vrydag by te woon, word aangemoedig om ’n e-pos te stuur na media@lexlibertas.org.za. Buitelandse joernaliste kan press@nyyrc.com kontak vir inligting oor ’n regstreekse uitsending.

Lex Libertas is ’n Suid-Afrika-gebaseerde ideesentrum en voorspraakgroep wat werk aan ’n lewensvatbare politieke bedeling vir die volke van Suid-Afrika, gebaseer op die beginsels van vryheid, desentralisasie en selfregering.

Die New York Young Republican Club is die oudste en grootste Republikeinse klub in die Verenigde State en speel ’n aktiewe rol in die vorming van konserwatiewe politieke diskoers en betrokkenheid.

Om Lex Libertas te ondersteun, klik hier.