Lex Libertas Mediaverklaring 12 Augustus 2025
VIR ONMIDDELLIKE PUBLIKASIE
### Amerikaanse Staatsdepartement reik verslag uit oor Suid-Afrika, bevind dat Afrikaners geteiken word in 'n "beduidende verslegting" van menseregte
Pretoria - Die ideesentrum en voorspraakgroep, Lex Libertas, verwelkom die verslag wat pas deur die Amerikaanse Staatsdepartement gepubliseer is (skakel hieronder) waarin bevind word dat die menseregtesituasie in Suid-Afrika die afgelope jaar "beduidend versleg" het. Die verslag beskryf die Onteieningswet as "wesenlik kommerwekkend", bevind dat die Ekonomiese Vryheidsvegters (EFF) plaasaanvalle aanmoedig en kom tot die gevolgtrekking dat Afrikaners geteiken word as gevolg van die verslegting van menseregte. Die verslag is gepubliseer deur die Buro vir Demokrasie, Menseregte en Arbeid binne die Staatsdepartement.
Dr. Ernst Roets, uitvoerende direkteur van Lex Libertas, het verlede maand Washington, D.C. namens die voorspraakgroep besoek, waartydens hy verskeie vergaderings met belanghebbendes in die Amerikaanse regering, politici, navorsers, media-afsetpunte en poduitsendings gehou het.
Vir die doel van hierdie reis het Lex Libertas 'n verslag gepubliseer met die titel "Reclaiming Freedom", waarin aangevoer word dat die krisis in Suid-Afrika op drie vlakke manifesteer - 'n vernietigende beleidsraamwerk, algemene staatsmislukking en die vervolging van minderhede. In dié verslag kom Lex Libertas tot die gevolgtrekking dat die onderliggende krisis in Suid-Afrika is dat die politieke stelsel verwyderd geraak het van die realiteite op grondvlak en dat die oplossing dus in 'n gedesentraliseerde politieke stelsel lê.
Dr. Roets verduidelik:
"Ons is geensins gelukkig oor die krisis in Suid-Afrika nie. Trouens, ons moet doen wat ons kan om 'n verergering van die situasie te voorkom. Ons is egter bly dat die Amerikaanse regering die krisis erken, want erkenning is die eerste stap om 'n oplossing te vind."
Lees die volledige verslag wat deur die Staatsdepartement uitgereik is, hier.
Lees die volledige verslag wat onlangs deur Lex Libertas gepubliseer is, hier.
Lex Libertas is ’n ideesentrum en voorspraakgroep wat werk vir ’n lewensvatbare politieke bedeling vir die bevolkingsgroepe van Suid-Afrika, gebaseer op vryheid, desentralisasie en selfregering.
Om by Lex Libertas se medialys gevoeg te word, kontak: media@lexlibertas.org.za