Vyf redes waarom die Suid-Afrikaanse skikking van 1994 nie volhoubaar is nie
Daar kan vandag baie gesê word oor wat die bedoelings en vooruitsigte was van die onderhandelaars wat gedurende die 1990’s ’n “nuwe Suid-Afrika” bedink het. Hierdie gesprek is belangrik en moet inderdaad gevoer word. Dit is egter hoofsaaklik ’n gesprek vir akademiese doeleindes. Die belangrike kwessie behoort nie in die eerste plek te wees hoe Suid-Afrika veronderstel was om te lyk nie, maar eerder hoe dit inderdaad vandag lyk. Tweedens – en selfs belangriker – moet ons ’n antwoord vind op die vraag: Wat kan gedoen word om dinge beter te maak?
Toe die Suid-Afrikaanse Grondwet in 1996 in werking gestel is, is dit wêreldwyd geloof as die “beste”, “modernste” en “mees liberale” grondwet in die wêreld. Die aanname was dat ’n liberaal-demokratiese grondwet, met ’n eksklusiewe fokus op die waarborg van individuele regte, ’n oplossing sou bied vir die diverse en komplekse politieke en kulturele dinamika wat al vir eeue in Suid-Afrika afspeel.
Natuurlik was daar reeds in die 1990’s stemme wat hul voorbehoud uitgespreek het teen die taksering van Suid-Afrika as ’n “wonderwerk” en die voorspelling dat die land se toekoms een van vrede, harmonie, demokratisering en verwestering sou wees. Een van die grootste stemme in hierdie verband was die Harvard-professor Samuel Huntington, outeur van The Clash of Civilizations and the Remaking of the World Order, een van die belangrikste boeke van die 1990’s. Daarin het Huntington sy kommer uitgespreek oor die sogenaamde “demokratiese paradoks”. In hierdie konteks het hy verwys na die verskynsel van demokratiese instellings wat ingespan word om ondemokratiese programme uit te voer.
Huntington het aangevoer dat die wêreld uit verskeie beskawings bestaan en dat toekomstige wrywing hoofsaaklik die gevolg sal wees van botsings tussen hierdie beskawings. Daarom het hy spesifiek met verwysing na Suid-Afrika gewaarsku dat die Weste nie van nie-Westerse beskawings moet verwag om outomaties Westers te word wanneer hulle Westerse instellings aanneem nie. Die feit dat ’n land ’n Westerse grondwet en parlementêre stelsel het, behoort hoegenaamd nie as bewys te dien dat dié wat die grondwet gaan vertolk, dit vanuit ’n Westerse perspektief sal doen nie – of dat dié wat wette maak, dit op ’n Westerse wyse sal doen. Trouens, Huntington het so ver gegaan as om te voorspel dat daar in Afrika – en Suid-Afrika in besonder – ná die politieke omwentelinge van die 1990’s ’n herontdekking van Afrika-identiteit sou wees. Dit het inderdaad so uitgespeel: nie lank ná die publikasie van The Clash of Civilizations nie het die destydse president Thabo Mbeki die African Renaissance van stapel gestuur.
Juis daarom blyk dit met nabetragting dat dit naïef was om eenvoudig oor Suid-Afrika te dink as ’n gebied wat op volhoubare wyse deur Westerse instellings regeer sal word. In hierdie verband wil ek vyf hoofpunte uitlig:
1. Gebrekkige erkenning van gemeenskapsdinamika
Die hoofonderhandelaar van die Nasionale Party (NP), Roelf Meyer, het in hierdie tyd aangevoer dat die waarborg van individuele regte voldoende sou wees om gemeenskappe in Suid-Afrika te beskerm, omdat gemeenskappe uit individue bestaan. Die argument was dat, indien die individu beskerm word, die gemeenskap by implikasie ook beskerm sal wees. Daarom is aangevoer dat die komplekse gemeenskapsdinamika van Suid-Afrika eenvoudig in die grondwet geïgnoreer kon word deur aan almal individuele regte toe te ken.
Die gevolg is dat gemeenskappe in Suid-Afrika toenemend onderdruk word – soms doelbewus, soms bloot deur die afwesigheid van erkenning. ’n Grondwet wat die reg van elke individu waarborg om in die taal van sy keuse te studeer “mits dit prakties en haalbaar is”, verskil fundamenteel van een wat aan gemeenskappe die reg gee op instellings wat onderwys in hul taal bied. In die praktyk lei dié eksklusief-individuele erkenning daartoe dat onderwysinstellings met verloop van tyd uitsluitlik Engels word, waarna dit nie meer prakties of haalbaar is vir individue om in hul eie taal te studeer nie. Dit is maar een voorbeeld.
2. Remme en teenwigte… maar slegs in teorie
Met die skryf van die Suid-Afrikaanse Grondwet is groot ophef gemaak van die beginsel van “remme en teenwigte”. Die argument was dat die regering deursigtig en aanspreeklik sou wees indien die nodige meganismes ingeskryf word om te keer dat mag misbruik word. Voorbeelde hiervan sluit in instellings soos die Menseregtekommissie, die Openbare Beskermer, en die Regterlike Dienskommissie. Daar is ook aangevoer dat Suid-Afrika op die beginsel van magskeiding sal funksioneer – met die uitvoerende, wetgewende en regsprekende gesag wat onafhanklik van mekaar behoort te wees.
Wat in teorie soos ’n goeie idee klink, het in die praktyk ’n mislukking geblyk te wees. Sedert die inwerkingtreding van die grondwet het die ANC eenvoudig verseker dat al hierdie instellings vir alle praktiese doeleindes in diens van die regerende party staan. Daarom voer prof. Koos Malan aan dat dit misleidend is om van verskillende “magsordes” te praat – dit is meer korrek om dit as een samehangende politieke elite te beskou.
3. ’n Snelweg na sentralisering
Prof. Marinus Wiechers, een van die opstellers van die grondwet, het graag beklemtoon dat die grondwet ’n hoogs gedesentraliseerde bedeling voorsien. Hy het verwys na die Raad van Provinsies, premiers in elke provinsie, verwysings na munisipale owerhede, en die reeds genoemde remme en teenwigte. Maar ook hier geld: wat teoreties mooi lyk, werk nie in die praktyk nie.
In werklikheid is die Suid-Afrikaanse bedeling sterk gesentraliseerd – só sentralisties dat baie burgers hulself glad nie met die regering vereenselwig nie. ’n Mens sou kon sê dat Suid-Afrika vanuit die Uniegebou regeer word. Maar selfs dit is misleidend. In die praktyk is dit meer akkuraat om te sê dat die land vanuit die ANC se hoofkantoor in Johannesburg regeer word.
4. Radikale vertolking van die grondwet
Prof. Malan voer ook aan dat dit misleidend is om bloot te praat van toekomstige grondwetlike veranderings, aangesien die Grondwet reeds beduidend verander het – nie deur wysigings aan die teks nie, maar deur radikale interpretasie. Daar is verskeie bepalings in die Grondwet wat aanvanklik redelik lyk, maar wat in die praktyk afhanklik is van hoe dit deur die howe geïnterpreteer word. Dink aan bepalings soos dat eiendom onteien mag word in die “openbare belang”; dat “maatreëls” getref moet word om gelykheid te bevorder; of dat alle tale “gelyk geag” moet word.
Huntington het ons juis hierteen gewaarsku: dat Westerse grondwette nie noodwendig op Westerse maniere vertolk sal word nie.
5. Mandela is nie meer die president nie
Terugskouend is dit amper ongelooflik om te sien hoeveel vertroue in die 1990’s geplaas is in die persoon van Nelson Mandela. Verskeie historici het uitgewys hoe Mandela tydens die onderhandelings byna ’n goddelike status geniet het – soseer dat min mense dit gewaag het om sy standpunte te betwis. Sy nadruk op versoening en nasiebou is deur die NP as gerusstelling gebruik om bekommernisse oor die nuwe bedeling te sus. Gereelde reaksies was: “Onthou, Mandela gaan die president wees,” of “Mandela sal dit nie toelaat nie.”
Maar Mandela was nie onsterflik nie. Hy het gesterf, en Suid-Afrika – en die ANC – het sonder hom voortgegaan. Intussen het die ANC steeds volgehou dat hul langtermynvisie ’n sosialistiese Suid-Afrika is, “vir swart mense oor die algemeen maar Afrikane in besonder” – asof niemand anders as swart mense Afrikane kan wees nie.
Om die voortbestaan van die Suid-Afrikaanse bedeling te baseer op die persoonlikheid van een man was buitengewoon kortsigtig.
Die gesprek oor die onvolhoubaarheid van die Suid-Afrikaanse bedeling is lank nie afgehandel nie – trouens, dit het eers begin. Namate dit al duideliker word dat dinge nie volhoubaar is nie en dat ’n vorm van bedelingsverandering onafwendbaar is, sal dit roekeloos wees om aan te gaan asof daar nie ’n krisis is nie. Daar is reeds groepe wat poog om die bestaande bedeling te vervang met iets radikaler.
As ons nie toetree tot die gesprek oor ’n meer volhoubare bedeling vir Suid-Afrika nie, sal daardie gesprek sonder ons voortgaan – en ongetwyfeld tot ons nadeel.
Dr. Ernst Roets
Dr. Roets is die uitvoerende direkteur van die Pionier-inisiatief