Hoekom lees ons nog klassieke werke?
Lex Libertas is trots om in vanjaar ’n splinternuwe projek van stapel te stuur – die
Boekklub. ’n Boekklub is vir sommige iets wat hulle kinderlik opgewonde maak – ’n
plek waar mens toestemming, eintlik ’n lisensie het om jou gunstelingboeke te
bespreek. Vir ander klink dit soos baie huiswerk.
Ons hier by Lex Libertas is egter werklik opgewonde. Hoekom? Die Boekklub is
meer as net ’n bymekaarkomplek vir boekliefhebbers. Ons sien die Boekklub as
soort smeeplek van denke en dít is presies wat ons keueses vir 2026 se leeslys
gevorm het en is nog ’n wyse waarop Lex Libertas ons missie, om 'n lewensvatbare
politieke bedeling vir die bevolkingsgroepe van Suid-Afrika te bevorder, uitleef.
Hierdie artikel dien as ’n oorsig oor waarom ons nog klassieke werke moet lees en
die plek daarvan in ’n moderne samelewing. Daarmee saam verduidelik die artikel
hoe die boekklub gaan werk en watter boeke ons in 2026 gaan aanpak.
Klassiek vs Outyds
Klassieke literatuur kan dikwels as “outyds” bestempel word. Hoe kan ʼn verhaal wat
honderde jare terug geskryf is en in ʼn hele ander soort samelewing plaasvind
enigsins relevant tot ons lewens wees? Dalk gebruik jy hierdie argument as
verskoning omdat jy voel hierdie boeke is eenvoudig net bo jou vuurmaakplek.
Daar is ʼn element, karaktereienskap, of faktor wat klassieke literatuur van ʼn “mooi
storie” of “goedkoop fiksie” skei. Wat is daardie iets van Homeros se Odduseia wat
die menslike kondisie só vasvang dat ons die verhaal telkemale oorvertel? Hoekom
het George Orwell se 1984 met die “Big Brother”-idee so in ons psige wortel geskiet?
Hoekom bly Shakespeare se tragiese liefdesverhale na al hierdie eeue relevant om
weer en weer (en weer) vir die silverskerm aangepas te word?
Die een groot faktor wat van ʼn boek ʼn klassieke werk sal maak, is tyd. Gaan hierdie
boek die toets van die tyd slaag, of nie?
Wat is die toets van die tyd?
Ek is byvoorbeeld lief vir Jane Austen se Pride and Prejudice. Dié boek, gepubliseer
in 1813 is ʼn uitstekende voorbeeld van ʼn literêre werk wat die toets van die tyd
geslaag het. Die verhaal is vandag steeds relevant en is al verskeie kere vir die
silverskerm aangepas.
Die boek het iets beteken vir iemand wat die hom in 1813 opgetel het, maar ook vir
iemand wat Pride and Prejudice in 1913, gelees het; en sal ook vir iemand wat die
boek in 2026 of selfs in 2088 optel, betekenisvol wees. Klassieke literatuur bied
perspektief en insig.
Dis die krag van klassieke literatuur. Dit bied vir jou ʼn kykie in die lewe van die
karakters van daardie tydstip en gee vir jou die geleentheid om jouself in daardie
karakters raak te sien. Liefde. Pyn. Verlies. Vreugde. Desperaatheid. Opoffering.
Oorwinning. Dis ʼn spieëlbeeld van onsself.
Hoekom is klassieke literatuur vandag nog relevant?
Dit is in hierdie spieëlbeeld van onsself wat daar skielik ʼn deur oopgaan. Skielik is jy
nie ʼn eiland van seer en jou eie probleme waarom die wêreld draai nie en kan jy
uiteindelik jou eie nietigheid begryp. Dis ʼn nuwe wêreld wat vir jou oopgaan! Dít is
die fondasie waarop ons gaan begin bou, gewapen met Homeros, met George
Orwell, C.S. Lewis, N.P. van Wyk Louw en ander skrywers wat vir ons ʼn soort
waarheid probeer vertel, weggesteek tussen die blaaie van 'n verhaal. ʼn Waarheid
van onsself en ons plek in die wêreld.
Hierdie Boekklub noem ek dus ʼn reis. Dit is ʼn reis om jouself met kennis te
bemagtig, maar dit is ook ʼn reis van selfontdekking.
Is jy gereed om dit saam met my aan te pak?
Hoe die Lex Libertas Boekklub werk
Jy kan self besluit tot watter mate jy jouself aan die Boekklub wil verbind.
Ons lees vanjaar in totaal twaalf boeke, wat ons die Twaalfboeke-program noem.
Vier van hierdie boeke vorm ons kernboeke wat ons groter temas vir bespreking in
2026 vorm. Een kernboek word per kwartaal behandel, waar die lede van die
Boekklub dan ook bymekaar sal kom vir die besprekinge – ’n inleidende gesprek tot
die boek, asook ’n samevatting. Daar is ook ondersteundende werke wat saam met
die kernboeke bespreek sal word en is tematies in dieselfde kwartale ingedeel.
Hier is die leeslys en kwartaallikse verdeling
Kwartaal 1: Januarie – Maart
Ons begin met 'n diep kyk na sosiale manipulasie en die menslike psige.
- Brave New World – Aldous Huxley (Kernboek)
- 1984 – George Orwell
- Raka – N.P. van Wyk Louw
Kwartaal 2: April – Junie
In die tweede kwartaal fokus ons op die fondasies van die Westerse letterkunde en ʼn
spesiale blik op die geskiedenis van die VSA, aangesien vanjaar die 250ste jaar
sedert die Onafhanklikheidsverklaring is.
- Die Odusseia – Homeros (Kernboek)
- Aeneïde – Vergilius
- Alexander Hamilton – Ron Chernow
Kwartaal 3: Julie – September
Hier delf ons in die strukture wat ons vryheid beskerm (of bedreig).
- There Is No Supreme Constitution – Koos Malan (Kernboek)
- The Law – Frédéric Bastiat
- The Screwtape Letters – C.S. Lewis
Kwartaal 4: Oktober – Desember
Ons sluit die jaar af met 'n fokus op ekonomiese realiteite en leierskap.
- Economics in One Lesson – Henry Hazlitt (Kernboek)
- Start with Why – Simon Sinek
- Economic Facts and Fallacies – Thomas Sowell
Wie kan aan die Boekklub deelneem?
Enige bydraer van Lex Libertas is welkom om aan die Boekklub deel te neem.
Iemand wat maandeliks ondersteun word as ’n bydrae gesien, asook of iemand wat
’n eenmalige bydrae tot Lex Libertas gemaak het, word vir ’n jaar lank as ’n bydrae
geag.
Jy kan enige tyd deel vorm van die Boekklub deur ’n e-pos aan
boekklub@lexlibertas.co.za te stuur.
Op jou merke, gereed, lees! Ek sien jou op die laaste bladsy.
- Marné Pienaar, koördineerder van die Lex Libertas Boekklub
Om Lex Libertas te ondersteun, klik hier.