|

Menu

Die storie is nie Venezuela nie: dit is die veranderende wêreldorde
Kommentaar

Die storie is nie Venezuela nie: dit is die veranderende wêreldorde

Ernst Roets
05/01/2026

Is die wette en reëls van die 20ste eeu nog relevant in 2026?

Die Amerikaanse inval in Venezuela in Januarie 2026 – met die gevangeneming van President Nicolás Maduro en sy vrou, en hul ekstradisie na New York vir verhoor op aanklagtes oor dwelmhandel – is nie bloot 'n geïsoleerde insident nie. Dit is die nuutste in ’n reeks aanduidings dat die wêreldorde soos wat ons dit ken - en die reëls wat dit onderlê - besig is om ingrypend te verander. Die vroeë tekens is reeds daar dat die langtermyn-lewensvatbaarheid van die Westfaliese stelsel, wat die soewereiniteit van state veronderstel en bepaalde reëls van internasionale reg neerlê, nie as vanselfsprekend aanvaar moet word nie. Hierdie stelsel, wat in die 20ste eeu deur internasionale norme en instellings soos die VN-Handves gestandaardiseer is, word al hoe meer irrelevant. Mag en belange weeg nou swaarder as prosedures, en soewereiniteit is nie meer absoluut nie, maar voorwaardelik – afhanklik van die magsbalans. Dit is nie die "einde van die Weste" soos wat sekere ontleders beweer nie, maar moontlik wel die einde van 'n era waar reëls vanselfsprekend is.

Vir dekades het lande, insluitend Suid-Afrika, hulself getroos met die illusie van 'n reëls-gebaseerde internasionale orde. Internasionale reg, multilaterale instellings en formele prosedures sou magspolitiek inperk, met “remme en teenwigte” ("checks and balances" in Engels) om selfs die grootste moondhede te beteuel. Maar hierdie aanname word toenemend ontbloot as ’n mite. Reg sonder mag is waardeloos; die Cartesiaanse idee van proseduralisme – die geloof dat die regte proses noodwendig die regte uitkoms verseker (met verwysing na die verligtingsdenker, René Descartes se toonaangewende werk, A Discourse on Method) – stort in duie wanneer daar nie konsensus oor die proses is nie, wanneer dit nie in magtige partye se belange is om die reëls na te kom nie, of eenvoudig wanneer die proses nie die werklikheid in ag neem nie. In so 'n wêreld tel vermoë en optrede swaarder as tekste, verklarings en formele prosesse.

Die Suid-Afrikaanse regering se reaksie op die Venezuela-inval illustreer nie net hierdie mite nie, maar ook die ooglopende skynheiligheid van die Suid-Afrikaanse regering. Die Departement van Internasionale Betrekkinge en Samewerking (DIRCO) het vinnig gereageer met die soort retoriek wat ons al so goed ken: ’n beroep op die VN-Handves, internasionale reg, staatlike soewereiniteit, die beginsel van nie-inmenging en ’n veroordeling van eensydige aksies. Dit klink tegnies korrek, maar strategies is dit naby aan niksseggend, want sonder die vermoë om dit af te dwing beteken reëls nie veel nie.

Suid-Afrika praat graag die taal van beginsels, soos President Ramaphosa se stellinge oor die Palestyne se reg op selfbeskikking en die saak teen Israel by die Internasionale Geregshof wat volgens hom "beginselsake" is. Tog word hierdie “beginsels” bitter selektief aangewend: dit word hartstogtelik verdedig wanneer dit by anti-Westerse narratiewe pas, en blatant geïgnoreer wanneer dit die regering se eie agendas of ideologiese vooroordele raak.

Hierdie juridiese kieskeurigheid is veral skadelik vir die diverse gemeenskappe en volke binne Suid-Afrika, wat reeds ly onder staatsverval, swak beleid en aanhitsende uitsprake.

Hier is enkele voorbeelde van aksies en standpunte deur die Suid-Afrikaanse regering wat ooglopend indruis teen die sterk uitspraak wat dit sopas met betrekking tot Venezuela en die VSA gelewer het:

- In 1998, onder Nelson Mandela se leierskap, het Suid-Afrika militêr in Lesotho ingegryp ná betwiste verkiesings en onstabiliteit, sonder universele multilaterale konsensus. Die ingryping was geregverdig onder die vaandel van "orde” en “noodsaaklikheid", nie (soos nou) reëls en prosedures nie.

- In 2015 het Suid-Afrika geweier om Omar al-Bashir in hegtenis te neem ten spyte van bindende verpligtinge onder die Internasionale Strafhof (ICC). Die regering het selfs probeer onttrek uit die ICC, met argumente dat soewereiniteit en politieke oorwegings bo internasionale prosedures staan.

- Selfs in binnelandse sake sien ons dieselfde patroon. Regstellende aksie, wat volgens internasionale arbeidsreg tydelik en meetbaar moet wees, is in Suid-Afrika permanent gemaak sonder 'n sonsondergangsklousule of duidelike suksesmaatstawwe.

- Voeg by die roekelose uitsprake van regeringsverteenwoordigers, waarvan daar ’n legio bestaan… In 2018 het die Suid-Afrikaanse ambassadeur in Venezuela verklaar dat Suid-Afrika gereed is om die wapen teen die VSA op te neem om Venezuela te verdedig en selfs gesê dat, indien die mense van Venezuela sal sterf vanweë Amerikaanse ingryping, Suid-Afrika sal sorg dat hulle “nie alleen” sterf nie.

- Die afgelope week het ’n senior DIRCO-amptenaar op sosiale media verklaar dat hy geen fout vind met die idee dat Suid-Afrika kernwapens moet ontwikkel om mag teen die VSA op te bou nie – 'n byna ondenkbaar-gevaarlike stelling.

Hierdie aksies en uitsprake is nie bloot retories nie; dit dra by tot 'n klimaat van onstabiliteit, waar destruktiewe beleid, staatsverval en die vervolging van minderhede groepe soos die Afrikaners in besonder tref.

Die Suid-Afrikaanse regering beroep hom dus op 'n reëls-gebaseerde orde wanneer grootmoondhede optree, maar sy eie geskiedenis wys dat dit lankal verstaan dat reëls sonder mag nie veel beteken nie.

Dit bring ons by die kernvraag wat hierdie oomblik vir Suid-Afrika oopmaak: wat doen ’n land, en belangriker, wat doen gemeenskappe in ’n diverse land soos Suid-Afrika, in ’n wêreld waar internasionale instellings se vermoë om in te gryp besig is om te verbrokkel? As internasionale waarborge selektief en onvoorspelbaar raak, is dit nodig dat ons onsself afvra hoe veerkragtigheid plaaslik opgebou word.

Selfregering, desentralisering en institusionele kapasiteit is in hierdie veranderende wêreld nie ideologiese denkoefeninge nie. Dit is ’n noodsaaklike aanpassingsstrategie. Dit is, negatief beskou, ’n belangrike middel om risiko te versprei wanneer sentrale beloftes leeg raak. Maar positief beskou is selfregering ’n onvervreembare reg wat in elke gemeenskap gesetel is, ongeag wat die grondwet of die Verenigde Nasies daaroor sê. As dit in die grondwet en deur die internasionale reg erken word, is dit goed. As dit egter ontken word, beteken dit eenvoudig dat die dokumente wat voorskryf toenemend irrelevant is - nie bloot omdat ons nie daarvan hou nie, maar omdat ’n onvervreembare reg wat so oud soos die aard van die mens self is nie deur een of ander moderne reël sommer net ontken kan word nie.

Daarom beklemtoon ons by Lex Libertas dat wette en reëls by die werklikheid moet aanpas, nie andersom nie. Venezuela is dus nie die storie van 2026 nie; die storie van 2026 is dié van ’n wêreldorde wat verander. Die reëls van die 20ste eeu word toenemend irrelevant. Die Suid-Afrikaanse regering hou nog vas aan ou reëls wanneer dit hulle pas, maar vir gemeenskappe wat ly onder vervolging en staatsverval is dit tyd om nuwe strategieë te bou: veerkragtigheid deur institusionele selfbeskikking en ’n meer uitgesproke standpunt ten gunste van selfregering.

Lex Libertas sal binnekort 'n ontleding publiseer oor die implikasies van hierdie gebeure vir Suid-Afrika. Die doel is om te wys hoe globale veranderinge ons raak, en hoe gemeenskappe hulself op grond van hierdie veranderinge kan voorberei.

Lex Libertas is ’n ideesentrum en voorspraakgroep wat hom vir ’n lewensvatbare politieke orde vir die gemeenskappe van Suid-Afrika beywer. Ondersteun die werk van Lex Libertas deur as ’n bydraer op te teken.

Om Lex Libertas te ondersteun, kliek hier.