|

Afrikaners en die 'uitwissing van afstand'

31 Maart 2025
Dr Ernst Roets
20 min leestyd

Uitvoerende opsomming

Hierdie verslag bied terugvoer oor die Pionier-inisiatief se eerste internasionale skakeltoer na die Verenigde State van Amerika, met spesifieke verwysing na gesprekke met beleidsmakers, meningsvormers, media, en ander invloedryke rolspelers. Die toer is gevoer teen die agtergrond van die toenemende internasionale besef dat Suid-Afrika se politieke bestel onvolhoubaar is, en dat die beginsels van selfregering en desentralisering noodsaaklik is vir toekomstige stabiliteit. Deur insiggewende gesprekke, strategiese skakeling en positiewe mediaverhoudinge, is die grondslag gelê vir langtermyn-vennootskappe en globale ondersteuning vir gemeenskappe in Suid-Afrka wat nie agter is nie, maar voorlopers is in die hantering van wêreldwye vraagstukke rondom identiteit, gemeenskapsvryheid en die bevordering van 'n volhoubare politieke orde.


'My persoonlike gevoel is dat die Afrikanernasie deur 'n uiters moeilike en terselfdertyd uiters belangrike spirituele taak in die gesig gestaar word, 'n taak wat hy sal moet aanpak sonder dat hy sal kan kies om te weier. Dit lyk vir my dat julle in Suid-Afrika reeds te doen het met 'n situasie wat gou deur die hele wêreld gedeel sal word, weens die 'uitwissing van afstand' deur die vordering van ons Westerse tegnologie . . . Daar sal nooit weer vir die verskillende faksies van die mensdom plek in die wêreld wees waarheen hulle hul in isolasie van mekaar kan terugtrek nie. . . Nou, in Suid-Afrika het die ongeluk van die geskiedenis die naturel, gekleurdes en wit mense van die land reeds vroeg in hierdie moeilike situasie geplaas: Die geskiedenis - of God - het aan julle die eerbare taak gegee om die spirituele pioniers te wees om die oplossing van 'n spirituele probleem te probeer vind wat gou die res van die menslike ras ook in die gesig sal staar.'

Dit is die woorde van die vooraanstaande historikus Arnold Toynbee, outeur van die twaalfvolume, A Study of History (gepubliseer tussen 1934 en 1961). Hy het hierdie stelling in 1951 gemaak nadat die jong Afrikaner, Piet Meyer vir hom gevra het vir kommentaar op die toestand en taak van die Afrikaners.

Toynbee se woorde is vandag meer waar as ooit. Ons sê al vir 'n geruime tyd dat die res van die wêreld - en die Westerse wêreld in besonder - nie oor Suid-Afrika moet dink as 'n plek wat agter die res van die wêreld is nie, maar eerder as 'n plek wat die wêreld vooruit is. Suid-Afrika is voor omdat ons vandag probleme aanvaar wat die res van die wêreld nog gaan beleef, maar belangriker nog, Suid-Afrika is voor omdat die taak op ons skouers rus om oplossings te vind wat sekerlik nog vir die res van die wêreld van waarde sal wees. In ons strewe om oplossings te vind vir die groot taak wat op ons skouers rus is ons dus nie op die agterhoede nie, ons is die pioniers!

Die Pionier-inisiatief, die Suid-Afrikaanse bedeling en die uitwissing van afstand

Die Pionier-inisiatief is op 7 Maart 2025 van stapel gestuur. Die boodskap is duidelik: Die Suid-Afrikaanse politieke bedeling is nie volhoubaar nie. Die vraag is nie óf dinge gaan verander nie, maar veel eerder wanneer dinge gaan verander en ook hoe dinge gaan verander. Daarom sê ons by die Pionier-inisiatief dat Suid-Afrika op baie maniere kan verander, maar dat die basiese vertrekpunt van hierdie verandering behoort te wees dat die politieke stelsel gedesentraliseer behoort te word, en ook dat die bedeling op die beginsel van selfregering geskoei behoort te wees. Selfregering kan verskillende vorme aanneem, waaroor ons in die komende maande nog baie gaan praat. Die kern hiervan is egter dat gemeenskappe oor die vryheid moet beskik om hulleself te regeer. Dit kan 'n verwysing na regionele gemeenskappe wees, maar ook na kultuurgemeenskappe.

Dit is teen hierdie agtergrond dat die Pionier-inisiatief se eerste buitelandse skakeltoer van stapel gestuur is. Met nabetragting, en met verwysing na die aanhaling waarmee hierdie verslag ingelei is, kan die skakeltoer as die uitwissing van afstand-toer beskryf word. Dit is in die eerste plek omdat ons geïnspireer is deur Toynbee se beskrywing van die Afrikaners se unieke taak om oplossings te vind vir 'n diversiteit van gemeenskappe wat naby aan mekaar leef, maar tweedens ook omdat die afstand tussen ons en ons (potensiële) vriende in die buiteland vanweë moderne tegnologie inderdaad 'kleiner' word. Dit word 'kleiner', nie net omdat dit vandag makliker as ooit is om van een land na 'n ander te reis nie, maar ook omdat digitale kommunikasie - en die nuwe verskynsel van digitale en sosiale media dit soveel makliker maak om oor kontinente heen met mekaar te kommunikeer. Daarom het ons as Afrikaners - in die gees van Toynbee se stelling - 'n unieke taak om ons ervaring met die wêreld te deel. Wanneer ons met die res van die wêreld praat vra ons nie vir hulle om ons probleme namens ons op te los nie, maar wel om uit ons ervaring te leer en vanuit hul unieke posisie by te dra tot die oplossings waaraan ons alreeds werk, net soos wat ons sekerlik ook kan bydra tot die oplossings waaraan daar op die ander uithoeke van die wêreld reeds gewerk word.

Skakeling in die buiteland

Teen hierdie agtergrond kommunikeer ons in die buiteland in verskeie sfere. Ons kommunikeer met staatsamptenare, politici, navorsers, die media (hoofstroom en alternatief), organisasies, diaspora en ondersteuners oor die algemeen. Elk van hierdie sfere het 'n unieke belangstelling en kan op 'n unieke wyse tot ons oplossings bydra. Daarom moet elke sfeer ook met 'n unieke invalshoek en fokus benader word. Dit verg natuurlik bepaalde vaardighede, omdat dit ons taak is om ons boodskap konsekwent en eenvormig te verpak op 'n wyse dat dit vir uiteenlopende gehore op uiteenlopende wyses toeganklik is, sonder dat ons onsself weerspreek.

In hierdie verband kan ons met vrymoedigheid sê dat die uitwissing van afstand-toer 'n groot sukses was! Tydens hierdie toer het die Pionier-inisiatief omtrent twaalf individuele afsprake gehad, wat rolspelers insluit van elke sfeer waarna ek hierbo verwys. Ons afsprake in Washington DC, podsending-onderhoude en die byeenkoms in New York (aangebied deur die New York Young Republicans Club (NYYRC)) kan in besonder uitgelig word. Natuurlik is dit nie altyd gepas om in die openbaar terugvoer te gee oor die fyner besonderhede van presies met wie gepraat is en wat gesê is nie - nie noodwendig vanweë sensitiwiteit aan ons kant nie, maar dikwels vanweë sensitiwiteite (om watter rede ookal) by die persoon of instelling met wie gepraat is. Tog kan ek sê dat ons met van die mees invloedryke rolspelers in die VSA gepraat het en dat elke gesprek gegaan het oor die rol en funksie van die Pionier-inisiatief, die mislukkings van die huidige Suid-Afrikaanse regering, die politieke veranderings wat reeds in Suid-Afrika gebeur het, die veranderings wat voorlê en ook wat gedoen kan word om 'n meer stabiele, volhoubare suider-Afrika te verseker.

Die skakeltoer het plaasgevind op dieselfde tyd wat 'n afvaardiging van Orania óók die VSA besoek het - in besonder Washington DC en New York. In hierdie tyd is verskeie gesprekke saam gevoer. Die funksie van die NYYRC is een voorbeeld hiervan.

Tydens die besoek het ons ook met van die grootste publieke figure in die VSA gepraat, insluitend internasionale rolspelers soos Jordan Peterson en Ben Shapiro, om maar net twee te noem. Ook in Washington het ons met rolspelers oor die hele spektrum heen geskakel.

Samevatting van gewaarwordings

Op hierdie stadium is dit meer belangrik om oor die oorhoofse gewaarwordings terugvoer te gee as oor die fynder besonderhede van elke gesprek (waar daar in sekere gevalle versigtig gekommunikeer moet word oor die redes wat reeds verskaf is).

Daarom kan sekere oorhoofse waarnemings gemaak word wat veral vir ons van waarde is. Ek verskaf dit in die vorm van 'n lys van punte. Dit moet nie uit die oog verloor word nie dat die algemene publiek in die VSA steeds baie min van Suid-Afrika weet, nie bloot omdat Suid-Afrika onbelangrik is nie, maar omdat 'n groot aantal (sekerlik die meerderheid) Amerikaners nie 'n groot belangstelling in buitelandse politiek het nie. In die punte wat hier volg word daar dus nie in die eerste plek van die spreekwoordelike "man op straat" gepraat nie, maar van die verskillende sfere van rolspelers waarna hierbo verwys is, wat op een of ander wyse 'n belangstelling in die situasie in Suid-Afrika het of op 'n unieke wyse waarde kan toevoeg.

Groeiende bewussyn

Daar is 'n snel-groeiende besef dat Suid-Afrika nie die wonderwerk-verhaal is waaroor daar so gedurende die 1990's gespog is nie. Die mislukkings van die Suid-Afrikaanse regering het eenvoudig te groot geword.

Begrip vir 'n dieperliggende krisis

Dit is ook nie moeilik om uit te wys dat die krisis in Suid-Afrika dieperliggend is as om eenvoudig te sê dat Suid-Afrika die verkeerde president het, of dat die verkeerde party die land regeer niet. Die probleem lê dieper. Korrupsie, staatskaping, werkloosheid, misdaad, die verval van die onderwysstelsel, die elektrisiteitskrisis, die waterkrisis en die verval van dienste oor die algemeen is nie probleme op sigself nie, maar simptome van 'n dieperliggende probleem - 'n stelselprobleem.

Desentralisering en selfregering as die oplossing

Dit is ook nie moeilik om oortuigend uit te wys dat 'n meer volhoubare politieke bedeling een is wat op die beginsels van desentralisering en selfregering geskoei behoort te word nie. In die Amerikaanse konteks is die beginsel van federalisme welbekend (veel meer as in Suid-Afrika) en daarom is dit nie moeilik om die noodsaak van desentralisering te verduidelik op 'n wyse waarop Amerikaners aanklank vind nie.

Die Suid-Afrikaanse regering se baanrekord

Die Suid-Afrikaanse regering se baanrekord wanneer dit by buitelandse beleid kom steek Amerikaners dwars in die krop. Dit hou nie net met die Suid-Afrikaanse regering se internasionale regsaksies teen Israel verband nie, maar ook die Suid-Afrikaanse regering se stemrekord by die VN (Suid-Afrika is een van die lande wat mees konsekwent by die VN teen die VSA stem), die heldeverering vir van die wreedste diktators en menseregteskenders wat die afgelope eeu opgelewer het, die hardkoppige verknogtheid aan uitgediende Marxistiese ideologie, inkonsekwende optrede, roekelose uitsprake en moreel-twyfelagtige optrede met betrekking tot internasionale kwessies oor die algemeen. Dan praat ons nog nie van die ANC as regerende party se koue ingesteldheid teenoor plaasmoorde en die Kill the Boer-dreunsang en dié party se verhouding met Hamas en ander radikale bewegings nie.

Die herontdekking van die Afrikaners

Afrikaners word deur die wêreld - en deur die VSA in besonder - herontdek. Vroeër was die Afrikaners iets soos die 'onaantasbares' in Indië, 'n groep wat so laag op die morele hiërargie is dat daar eenvoudig niks goed oor die Afrikaners gesê kon word nie. Dit is omdat die ANC die propagandastryd van die 1990's met onderskeiding gewen het - in so 'n mate dat Afrikaners hulleself nie eers meer Afrikaners kon noem nie. Dit was eenvoudig te omstrede. Hierdie spreekwoordelike pendulem het egter so ver na links geswaai dat dit eenvoudig verwyderd geraak het van die werklikheid. Hierdie verwydering het met verloop van tyd so ooglopend geword dat dit nie meer geïgnoreer kan word nie. Daarom kan ons vandag met vrymoedigheid sê: Die Afrikaners is terug! Ons is nie net terug in die sin dat ons herontdek word nie, maar in die sin dat ons strewe om vry te wees in die suidpunt van Afrika in toenemende mate as 'n eerbare strewe erken word - 'n strewe wat met vrymoedigheid ondersteun kan word.

As Afrikaners het ons 'n unieke taak om die brug wat ons tussen die Weste en Afrika bied te beklemtoon. Uit 'n beskawingsoogpunt is Afrikaners ongetwyfeld Westerlinge. Ons stam af van die Nederlanders, Duitsers en Franse, wat op hulle beurt van die wortels van die Westerse beskawing afstam. Daarom begin ons geskiedenis nie in 1652 nie, maar in antieke Griekeland, Rome en Jerusalem (ek verwys na hierdie stede nie noodwendig in die letterlike sin van die woord nie, maar as metafore vir die wortels van die Westerse beskawing). Tog is ons in 'n sekere sin ook Afrikane. Die woord 'Afrikaan' kan verwarrend wees, omdat die term meer algemeen gebruik word om te verwys na wat as die Afrika-beskawing beskryf kan word. Dit is ons nie. Tog is ons van Afrika. Ons het in Afrika 'n volk geword, onsself en ons taal na die kontinent vernoem, hier geveg, gebou en gesterf, 'n unieke kultuur en tradisie gebou en onsself gevestig op 'n wyse wat ons eenvoudig in soveel mates van ons Europese voorouers onderskei dat ons nie meer as Europeërs beskryf kan word nie. Ons dien dus as 'n brug tussen Afrika en die Weste. In hierdie opsig is ons uniek, maar ook nie só uniek nie. Daar is ander volke wat hierdie unieke verantwoordelikheid op hulle skouers dra. Dink maar aan die Hongare wat in belangrike opsigte dien as 'n brug tussen die Weste en die Ooste - 'n rol wat hulle met vrymoedigheid aanvaar en waaroor hulle ook graag roem.

'n Wêreldwye bewussynsverskuiwing

Teen hierdie agtergrond moet uitgewys word dat 'n belangrike verwikkeling besig is om wêreldwyd wortel te skiet. Regoor die Westerse wêreld (wat die Afrikaners, maar nie noodwendig Suid-Afrika as geheel nie, insluit) is daar 'n groeiende besef dat dit nie Amerikaners, Engelse, Duitsers, Afrikaners en so meer is wat in die visier is nie, maar dat die Westerse beskawing in gedrang is. Soos met enige beskawing is daar kultuurverskille binne die konteks van die Westerse beskawing - neem maar die lang geskiedenis en kultuurverskille tussen die Engelse en die Franse as voorbeeld. Tog is ons dit eens dat ons Westerlinge is. Ons besef ook regoor die wêreld dat ons westerse identiteit oral in die spervuur is. Daarom behoort Westerlinge mekaar wêreldwyd te ondersteun. Dit beteken nie dat ons unieke kulture ontbind nie, maar dat ons hande vat, mekaar versterk en gesamentlik standpunt in neem oor dié dinge wat ons met mekaar in gemeen het. Die opkoms van groot internasionale konserwatiese konferensies soos die Conservative Political Action Conference (CPAC), die National Conservatism Conference (NatCon) en die Alliance for Responsible Citizenship (ARC) is maar een voorbeeld van die wyse waarop hierdie groeiende internasionale alliansie neerslag vind. Hier het ons as Afrikaners 'n unieke rol om te speel. Elke groep wat deel van hierdie alliansie is het unieke waarde om toe te voeg, omdat ons elk unieke ervarings het. Ons ervaring hier in die suidpunt van Afrika is besonders uniek. Weereens, nie omdat ons agter is nie, maar juis omdat ons vóór is.

Die vraagstuk oor vlugtelinge

Die kwessie van vlugtelingstatus vir Afrikaners is hoog op die agenda in Washington. Dit is 'n moeilike kwessie om te hanteer, en hieroor moet 'n paar dinge gesê word. In die eerste plek blyk dit dat die kwessie veral deur die Withuis op die spits gedryf word, terwyl ander rolspelers in Washington - en die VSA oor die algemeen - oor die spektrum heen oortuig is dat vlugtelingstatus nie voldoende is nie, omdat dit nie 'n oplossing bied vir die krisis in Suid-Afrika, en ook omdat dit eerder tot groter onstabiliteit sal bydra. As daar mense is wat vanuit Suid-Afrika na die VSA wil verhuis is dit goed as dit vir hulle maklik is om dit te doen. Ons taak is dan om seker te maak dat hulle nie bande breek met hulle mense hier in die plek waar ons 'n tuisland verdien nie. Tog bied emigrasie nie 'n oplossing vir die kollektiewe krisis waarin ons onsself bevind nie. Groter stabiliteit in suidelike Afrika, en 'n Westerse bondgenoot wat vry kan leef in die land van hul voorouers sal vir die VSA meer waarde toevoeg as 'n groot gros Westerlinge wat na die VSA emigreer. Hierdie punt moet in die maande wat voorlê sterk beklemtoon word.

Strategiese posisionering

Posisionering is van kardinale belang. Vanweë die rassedinamika van die stryd wat deur die ANC in Suid-Afrika gevoer word is dit daar talle verregse groepe wat by die Afrikaners se stryd wil aanklamp, of wat ons uitdaging in diens van hul eie rassistiese agendas wil stel. Ons taak is om nie eenvoudig gesien te word met elke persoon of organisasie wat met ons gesien wil word nie, maar in besonder met dié wat waarde tot ons stryd toevoeg. Daarom moet ons soms nee sê, want om vir sekere rolspelers (en ek verwys hier spesifiek na die meer radikale regterkant van die Amerikaanse politiek) sal vir ons saak aansienlik meer skade aanrig as wat dit waarde sal toevoeg. Dit is eenvoudig so dat 'n mens bloot deur verkeerde assosiasies meer deure vir jou kan sluit as oop maak - deur wat oop sou wees as mens meer strategies geposisioneer was.

Wat ons van die VSA vra

Dit wat ons van die VSA vra is maar beperk. Ons vra nie van die VSA om ons probleme namens ons op te los nie. Ons het genoeg vertroue in onsself om dit self te doen. Wat ons wel van die VSA en ander vriende regoor die wêreld vra is om ons strewe na vryheid as 'n regmatige strewe te erken om dit met praktiese optrede te ondersteun daar waar hulle kan. Hierdie praktiese optrede kan verskeie goed insluit, wat publieke kommunikasie, finansiering, gedeelde projekte en die skep van geleenthede oor die algemeen insluit.

Breë raamwerk vir die pad vorentoe

Die pasafgelope skakeltoer het reeds verskeie geleenthede vir die Pionier-inisiatief ontsluit. Hier word spesifiek verwys na toonaangewende rolspelers in die VSA wat aangedui het dat hulle met die Pionier-inisiatief wil skakel, asook tradisionele en alternatiewe mediaplatforms aangedui het dat hulle graag met die Pionier-inisiatief onderhoude wil voer oor die toestand van Suid-Afrika en die noodsaak van verandering.

Dit is belangrik om hierdie geleenthede op te volg, om sodoende netwerke in die buiteland uit te brei en publieke kommunikasieplatforms in ons guns aan te wend om sodoende ons saak te versterk en nuwe geleenthede te skep. Dit is belangrik om hier te onderstreep dat kommunikasiegeleenthede nie 'n doel op sigself is nie, maar 'n middel tot 'n doel.

'n Punt wat reeds hierbo gemaak is moet hier weer beklemtoon word, naamlik dat ons nie van die buiteland verwag om ons probleme namens ons op te los nie, maar wel om 'n ondersteunende rol in hierdie verband te speel. Die ons strewe na volhoubare oplossings kan ons vanuit die buiteland erkenning kry vir die regmatigheid van ons strewe en kan daar druk op die Suid-Afrikaanse regering toegepas word van destruktiewe beleidsidees af te sien en 'n meer stabiele en volhoubare beleidsomgewing te skep. In soverre as wat die Pionier-inisiatief hom vir 'n meer volhoubare politieke bedeling beywer moet hier beklemtoon word dat ons nie van die buiteland verwag om op een of ander wyse in te gryp en so iets af te dwing nie, maar wel dat ons glo dat buitelandse erkenning en druk 'n belangrike instrument is wat in ons guns aangewend moet word.

Aksies in die vooruitsig

Teen die agtergrond van die bogenoemde word die volgende aksies met betrekking tot buitelandse skakeling in die vooruitsig gestel, nie net in die VSA nie, maar in die buiteland oor die algemeen. Daar sal in 'n afsonderlike dokument terugvoer gegee word oor buitelandse strategie en wat dit alles behels. Vir nou kan enkele punte uitgelig word waarin daar in die maande wat voorlê in besonder gefokus moet word:

Skakeling met individuele rolspelers en besluitnemers

Daar moet voortgegaan word om met individuele rolspelers, instellings en ander besluitnemers in die buiteland te skakel. Hierdie rolspelers moet voortdurend op hoogte gebring word met die stand van sake in Suid-Afrika, maar belangriker as dit, met wyses waarop daar vanuit die buiteland bystand gebied kan word om volhoubare oplossings in plek te stel.

Toespreek van vergaderings, byeenkomste en konferensies

Die toespreek van byeenkomste in die buiteland bied die geleentheid om ons boodskap oor te dra, steun te werf, ons netwerk in die buiteland te verdiep en ook om ons eie geloofwaardigheid as rolspeler te versterk. Daarom moet daar voortgegaan word hiermee.

Media-onderhoude

Daar moet met die hoofstroommedia en alternatiewe media gekommunikeer word oor die situasie in Suid-Afrika, veral met die doel om steun te werf vir meer volhoubare oplossings. In hierdie verband is posisionering belangrik en moet daar versigtig te werk gegaan word met watter publikasies genader word en ook hoe hierdie nadering plaasvind. Ons eie posisionering as geloofwaardige instelling met 'n legitieme saak is belangriker as die korttermynsukses wat gediskrediteerde, kwaadwillige of ekstreme platforms kan bied.

Toeligting met betrekking tot beleidsbesluite

Daar moet in besonder voortgegaan word om rolspelers in die buiteland toe te lig oor beleidsverwikkelinge in Suid-Afrika om steun te werf teen destruktiewe beleidsidees en ten gunste van 'n volhoubare beleidsraamwerk. In hierdie verband moet daar ook geskakel word oor geleenthede wat buitelandse beleid bied om ons strewe na 'n meer volhoubare politieke bedeling te versterk.

Mobilisering van die diaspora

Die rol van ons diaspora in die buiteland is van kardinale belang. Daar is talle voorbeelde van wyses waarop die diaspora 'n rol kan speel om plaaslike oplossings te bewerkstellig. Dit sluit in dat diaspora daar waar hul woon steun kan werf, dat hulle hul mediaplatforms en ander instellings kan nader vir hulp, dat hulle druk op hul politieke verteenwoordigers kan plaas en ook dat hulle finansieel kan bydra.

Mobilisering van buitelandse ondersteuners oor die algemeen

Dit is egter nie net die diaspora wat waarde kan toevoeg nie. Daar is 'n groeiende gehoor in die buiteland van rolspelers wat kennis neem van die situasie in Suid-Afrika en saam stem dat 'n meer volhoubare politieke oplossing gevind moet word. Dit sluit ondersteuners in die konteks van bepaalde organisasies of instellings in, asook ondersteuners wat eenvoudig deel van die publiek is. Elk het 'n unieke rol om te speel.

Hierdie aksies bied slegs 'n breë raamwerk en is nog nie voldoende om as 'n beplanningsdokument te dien nie. Ons sal deeglike beplanning moet doen oor wat vir ons in die vooruitsig is, ons doelwitte, mylpale wat bereik moet word ensovoorts.

Slotopmerkings en samevatting

Die feit dat die afstand tussen ons en die buiteland besig is om - in Toynbee se woorde - 'uitgewis' te word, is iets wat ons moet aangryp. Daarom is ons bly om te vermeld dat die eerste buitelandse skakeltoer van die Pionier-inisiatief 'n reusesukses was. Dit is ons taak om die momentum wat reeds opgebou is voort te sit en daarop te kapitaliseer. Terwyl ons in die eerste plek werk aan oplossings binne-in die Suid-Afrikaanse grondgebied moet ons aanhou om vanuit die buiteland steun vir ons saak te werf. Daar is nie eenvoudige oplossings nie. Die spreekwoordelike "silwer koeël" waarmee alle probleme op een slag opgelos kan word bestaan ook nie.

Ons pad vorentoe is gebou op 'n verskeidenheid van faktore - faktore waaroor daar in die konteks van die Pionier-inisiatief nog baie gedink, bespreek en beplan moet word. Hoewel ons sê dat daar nie eenvoudige oplossings is nie kan ons ten minste sê dat die boublokke van die oplossing eenvoudig is. In die komende maande sal ons in die konteks van die Pionier-inisiatief nog baie sê oor die boublokke en die pad wat vir ons voorlê.

Dr. Ernst Roets is Uitvoerende direkteur van die Pionier-inisiatief